Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
MATTEUS 21: 1 – 11 Sê nou net Jesus is anders as wat jy dink Hy is? Sê nou met die wederkoms, of met jou dood, is die liewe Jesus wat jy geglo het alles net moet goedkeur, altyd net daar moet wees as jy Hom daar wil hê ... is nie so nie. Sê nou net jy ontdek voor Sy regterstoel, jy het Hom verkeerd gelees? Wie is hierdie Jesus vir jou? Nie die goed wat ons so vinnig uit ons kop kan opsê nie. Vir hierdie vraag moet jy stil word. Regtig diep kyk en met ‘n kritiese oog oor jou eie lewe Die vraag wat ek moes vra terwyl ek met die teks besig was hierdie week is, Wie is U Here? Ek wil U regtig ken, vir Wie U is. Wie is U in my lewe? En ek nooi jou uit om self by die Here te gaan sit met hierdie vrae. Sit by Hom met die volle vertroue dat Hy jou sal antwoord. Vers 10. Die mense in die stad vra “Wie is hierdie man?” Die skare was vinnig met hulle antwoord: “Dit is die profeet Jesus van Nasaret in Galilea!” 1. Verkeerde Jesus. Ek kan dit nie anders verwoord nie: hulle het die verkeerde Jesus beet. Die Jesus in hulle gedagtes is die Messias wat triomfantlik kom. Die ruiter op die wit perd. Die oorwinnaar. Die Man van God wat die Joodse volk weer ‘n vrye nasie sal maak. Die Messias wat met mag en krag dinge reg ruk. Hulle Messias word nie gevange geneem nie. Hy kruisig Romeine. Romeine kruisig hom nie. Teen Goeie Vrydag sal hulle besef het, iets het verskriklik verkeerd gegaan. Hulle verwagtings sal leeg lê. En hulle hoop vernietig wees. Verwagtings is ‘n sterk ding. Verwagtings maak dat jy dinge miskyk en net sien wat jy wil sien. En dan mis jy belangrike tekens. Die tekens was vir hulle daar gewees. Hoe kon hulle die donkie mis? Hoe kon hulle Sy nedergie manier van wees en leef miskyk. Sy omgee vir die armes, en die stukkendes. Die genesings. Nêrens was Hy tog polities of opruiend nie. Nee, net liefde vir God en liefde vir mense. So, hier is die mense van Jerusalem se vraag weer: “Wie is hierdie man?” Wie dink jy is Jesus? Daar diep binne in jou .... daardie antwoord, daardie siening of geloof ... dis wat jy onder oë moet neem vandag. Is Jesus die Een wat al die Bybelversies moet waar maak vir jou? Die Een wat jou hierdie toekoms moet gee soos in Jeremia 29 staan? Of die Een wat die sieke MOET gesond maak want Markus 16 sê dit. Watter rol speel Jesus in die storie van jou lewe? Wie was Jesus hierdie week in jou lewe? Vir die mense van Jerusalem, so lei ek af, was Jesus net ‘n man. ‘n Man rondom Wie daar nou op die Sondagoggend darem baie bohaai is. Vir die skare was Jesus die profeet. Die een van Nasaret in Galilea. Dit staan nie in die teks nie maar ek neem aan hulle was opgetrek met die wonderwerke en Sy lerings. Maar hulle het Jesus gemis. Selfs in hul vererings as Seun van Dawid mis hulle Jesus want as hulle die vraag antwoord dan is Jesus die profeet. So as jy na jou lewe kyk, na wat jy doen en hoekom jy dinge doen en wat jy glo moontik is of nie moontlik is nie ... wie is Jesus nou eintlik vir jou? Die vraag moet ons bybly soos ons hierdie week “saam met hierdie Jesus reis. Ons gaan van Sy bewegings in daardie laaste week probeer volg elke aand. 2. Nederige Jesus. Die skare se opwinding het op 'n misverstand berus. Hulle het Jesus se nederigheid en sagmoedigheid misgekyk. Die Griekse woord wat met "nederig" vertaal word, word in ander vertalings vertaal met sagmoedig (OAV), “meek” (KJV), “humble” (RSV) en “gentle” (NEB). Die Hebreeuse woord in Sagaria 9:9 (ani) wat hier op Jesus betrek word, dui in die Ou Testament in die algemene op die weerlose mense: dit wys op die mensies wat nie hulself kan verdedig nie, geen regte het nie; wat onderdruk word . Hulle word verneuk, uitgebuit en vervloek. (vgl bv Ps 9 en 10). In die Messiaanse gedeeltes in die Ou Testament word God se koning dikwels geteken as die helper van die ani. In Sagaria 9:9 word ani 'n eretitel vir die Messias. En die donkie, as sy ryding,wword ‘n simbool virdie Messias wat op pad is na huis die ani toe. Die weerloses en sagmoediges. Sagmoedigheid beteken uitgelewerdheid, kwesbaarheid en 'n opskorting van al ons sogenaamde regte waarop ons so sterk kan staan. Sagmoedigheid beteken kruisdra. Matteus 21:1-11 vra of ons kans sien vir hierdie weg. Dit is alleen moontlik indien ons weet en glo dat die sagmoedige werklik die Koning en die Heer is wat oor alles beskik. Ons word uitgedaag om seker te maak dat ons die regte Jesus volg. Jesus is nederig. Jesus het medelye met die armes en soekendes en met die uitgestotenes. Jesus het ‘n hart vir die mense wat beskinder word en uitgebuit en vertrap word. En so moet ook ons oor hulle voel. Dit is maklik om te assosieer met Jesus as die Een aan Wie alle mag gegee is. Die Jesus wat duiwels uitdryf en siekes gesond maak is opwindend. Dink net waartoe Hy in staat is. Dink net wat Hy vir ons kan doen. Maar Jesus wil nie hê ek moet met Hom assosieer nie. Hy weet die lofsangers gaan weg raak en stil raak as die kruis kom. Dalk het ‘n paar toe selfs voor Pilatus gepeupel en gegil kruisig Hom. Jesus wil hê ek en jy moet Hom volg. Sy leerling wees wat leer om nederig en eenvoudiger te leef. Wat omgee vir die armes. Tyd het vir die karwagte en die ander mense wat ons so graag miskyk. 3. Die ongemaklik Jesus Ek bedoel die Jesus wat my ongemaklik maak. Want Hy praat met Samaritaanse vroue, laat ‘n vrou met swak waardes sy voete met haar trane was en met olie salf. Hy het die ongehoorde gedoen. Die “establishment” in hulle asems laat stik. Met die tollenaars gekuier. Jesus het nie gekom om die wat gesond is en wie se lewens so together is te red nie. Hy het gekom vir die siekes en stukkendes. Hy het self so gesê. Jesus is nie die Jesus van die “power brigade” christene van sommige Amerikaanse mega kerke nie. Jesus is nederig. Passievol oor die siekes en die weduwees en weeskinders. Wie agter Jesus aan leef, word geroep om nederig te leef, vol liefde en met ‘n hart vir mense. Wie agter Jesus aan wil leef, Hom Here en Meester noem, moet vrede maak met Jesus wat tafels in die tempel omgooi, want die tempel was bedoel om ‘n plek van gebed te wees. En Hy is ook die een wat nie die kinders stilmaak as hulle Hom loof nie. Paulus skryf dat ons geroep is om gelykvormmig te word aan die beeld van God se Seun. Dit maak dit soveel te meer belangrik dat ons Jesus reg ken. Anders gaan ons ver van Jesus af opeindig. ‘n Mens ontdek Jesus waar jy ‘n verskil in Sy naam probeer maak. Wat beteken ons lofliedere en toejuigings moet oorspoel in nederige diens in die week. Kom ek noem maar die ongemaklike ding by die naam. Die spreekwoordelike olifant in die kamer. Jesus was baie duidelik: jy moet aan jouself sterf. Jouself verloën. Hy het nie gesê jouself ten alle koste handhaaf en verdedig en neerkyk op ander. Of ander afkraak en goed sê sodat ons kan beter voel oor onsself nie. Nie veroordeel nie maar myself gee. Ook ter wille van hulle wat dit rerig nie verdien in hierdie land nie ... Tel jou kruis op. Dra dit. Kom sterf saam met Hom die week. Kom sterf aan jouself deur vir ander te leef in Jesus naam. Iewers het iemand gesê “imitation is the most sincere form of flattery.” Ek vertaal dit as om Jesus na te leef is die grootste lofprysing wat jy Hom kan gee. Sien Jesus. Nederig. Anders. Volg Hom.