Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 10 : 34 – 39 [Neem ‘n blommetjie. Breek die blomblaartjies een vir een af] “Hy’t my lief. Hy’t my nie lief nie. Hy’t my lief. Ken julle die speletjie? Wie het dit al gedoen? Kom kom, wees eerlik. Dit was in ‘n nou al vergete tyd, so ons kan maar erken. Het jy dit al met ‘n ui gespeel? ‘n Ui is mos net een bol van een laag op die volgende laag. Laag op laag gebou om niks. En jy kan so tussen die trane deur die lae een vir een afskil. En iewers is daar niks lae meer om af te trek nie en niks in jou hand nie. Dit gee ons ‘n baie mooi beeld vir die beginsel wat Jesus in hierdie deel wil oordra. 1. Jesus is toe anders. Jesus is toe nie die vrede wat mense verwag het nie. Jesus gee vrede vir Sy volgelinge, en Jesus leer ons dat vredemakers geseënd is. En dit is als waar. En tog sê Jesus: 34 “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard. 35 Ek het gekom om tweedrag te bring ...” Hier is meer as wat ek en jy raaklees. Die Jode het geglo die Messias gaan vrede bring. In Jesaja reeds (9:6 en 11:1 en verder) is gesê Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. In Jesaja 11 lees ons dan dat die Messias se koms sal uiterstes by mekaar bring: 6 Wolwe en skape sal dan saam bly, luiperds sal tussen bokkies lê, kalwers, leeus en voerbeeste sal bymekaar wees en klein seuntjies sal vir almal sorg. 7 Koeie en bere sal saam wei, hulle kleintjies sal bymekaar lê, leeus sal gras eet soos beeste. 8 Babatjies sal by die gate van adders speel, klein kindertjies sal hulle hande uitsteek na giftige slange. “ Dit is maar ‘n klein deeltjie van hulle verwagtings oor die Messias. En nou sê Jesus ... julle het dit verkeerd. Ek bring nie vrede nie. Ek bring verdeeldheid. Ek weet die 1983 vertaling het “Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard.”. Vers 35 se uitbreiding is duidelik, “Ek het gekom om tweedrag te bring ...” In die oorspronklike Grieks kan jy dit vertaal met swaard, konflik of verdeeldheid. Lukas praat van verdeeldheid. Die punt is dat Jesus en Sy boodskap skep verdeeldheid selfs in gesinne. Dit kan wees oor die eise van dissipelskap. Soos om Jesus liewers te hê as jou ouers of jou huismense. Of die verdeeldheid kan wees oor meningsverskille oor Jesus. Of Hy die Messias is of nie. Jesus val nie familieverhoudinge hier aan nie. Hy sê ook nie jy mag nie jou ouers liefhê nie. Hy sê jy sal moet kies aan wie jy meer lojaal gaan wees. Hy sê dat jou geloof in Hom gaan nie alle mense aanstaan nie en daar gaan teenkanting wees. Kies dan versigtig en leef jou keuse. En dit is waar ons beeld van die ui weer in kom. As jy dink jy kan inpas by die een by wie jy op daardie oomblik is, bv jy is pro Jesus en pro gemeente by gelowiges, maar jy is more anti kerk en anti geloof tussen mense wat nie glo nie. Dan is elke groep net nog ‘n lagie van die ui wat jy aftrek en op die ou einde sit jy met niks. Jy moet ‘n keuse maak. En jou keuse kan mense teen jou laat draai. Aanvaar dit so. 2. Bereidheid Sien die voorreg raak om Jesus te mag dien en volg. Dit is ‘n voorreg sonder vergelyking. ‘n Voorreg om met albei hande, of liewers met alles aan te gryp. Dit is die skat in die ploegland wat jy alles wat jy het verkoop om daardie ploegland te kan besit sodat die skat joune kan wees. Dit is die pêrel wat jy jou lewe lank voor gesoek het en nou verkoop jy jou hele versameling om daardie pêrel te bekom. Ons vergeet die voorreg wat ons het. Om Jesus aktief in jou lewe te hê en in Sy liefde te kan tuiskom en te kan leef uit Hom uit, is iets kosbaars. Dit is die opoffering werd. Jou bereidheid om Jesus te volg moet ‘n alles of niks wees. totaal wees. In Joodse konteks, en deesdae as bekeerling in die moslem konteks het dit dikwels beteken dat jou gesin jou verwerp. Jou pa sou jou beskou as dood al lewe jy nog. Vir hom is jy dood. Ek het in een van my weermagkampe in die vorige eeu, naby Kopfontein, ‘n jong Joodjie leer ken. Sy ouers het hom na sy bekering afgeskryf. En toe hy sending gaan doen het in Israel moes hy ‘n hele paar keer vlug want hulle is met klippe gegooi oor hul boodskap. Die outjie was committed. Sy geloof in Jesus was nie halfhartig nie. Dit was alles of niks. Sy lewe het dit gewys. Bekeerlinge soos hy, leef nie halfhartig nie. Hulle leef passievol en met oorgawe en daar is niks van ag dis ‘n ou klein sondetjie nie. Daar is nie grys gebiede nie. Hulle leef Jesus want die prys was alreeds te hoog om dit halfhartig of eiewillig te doen. 3. Jou lewe, jou keuse. Jy neem jou lewe in jou hande met jou besluit. As jy die lewe wil vind in alles wat mense sê lewe is, of in vreemde gelowe of filosofiee, gaan jy dit verloor. Een komentaar sê jou geluk en tevredenheid gaan afneem tot jy niks oor het wat die moeite werd is nie. Ek self beleef by Jesus ‘n innerlike vrede wat niks met omstandighede te make het nie. En ek weet jy waarskynlik ook. Want is dit nie wat Paulus so raak beskryf in Filippense 4 nie? Dat die vrede wat alle verstand te bowe gaan oor ons harte wag hou. En in lyn met ons Skrifgedeelte vanoggend kan ek byvoeg ... selfs as mense om jou verdeeld is oor Jesus en daar onmin tussen julle kom. Met nagmaal het ons gehoor: Daar is net Een lewende Water wat jou dors kan les. Daar is net Een wat jou sonde voor God kan weg was en genade verdien vir jou en dit is Jesus Christus. Die keuse is nie altyd eenvoudig of helder nie. Mense wat die tydsgees gediend wil wees, of ander wat die status quo verkies, of ander wat die regering in alles gediend wil wees, gaan jou afskryf en ettiketeer en name noem. Dis okay. Want jy weet Wie jou lief het. En jy weet Wie sal by jou staan en vir jou instaan voor God (vers 32). Jesus het ander beelde in die Bergrede gebruik. Bv Jy kan nie twee base dien nie. Jy gaan of die een meer ag as die ander., of vir die een meer oorhê en vir die ander minder. en ons het 'n gesegde jy kan nie op twee stoele tegelyk sit nie. By Jesus is dit alles of niks. Halfhartig is uit. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en jou hele verstand en met al jou krag. En as jy dit doen gaan jy altyd beleef, jy raak nooit uit blomblaartjies uit wat jou herinner God het jou lief. Die anderkant is die ui waar jy met net mooi niks opeindig. Kies wys.