Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
ROMEINE 4: 1 -5 en 13-17. Al ooit gevoel God is ver? Of, God het my vergeet of sien my net nie raak nie? Vanoggend gaan ook oor die goeie dae en die sonskyndae en die dae wat dit nag is. Of maar net ‘n moeilike dag is. Vanoggend gaan oor as die druk hoog is. Ons praat vandag oor geloof. Ek wil vir ‘n oomblik die doop by geloof betrek. En geloof by die doop. Met die doop kom God ons verseker: Onthou Ek is by jou. Ek lees in die week ‘n aangrypende stukkie. Joseph Carvalho het een van sy dagboekinskrywings gedeel. En ek deel dit graag met jou: I’ve learned how faithful you are. So many times when I was terrified and overcome with sorrow, you dried my tears. Though I asked you for the solution for my problem, you simply held me. You taught me that you alone are the answer to all my questions and if I have you, I have all that I need. You are so gracious, so patient. Because of your passion for me, you will always work things out in the end. No matter how hard things get, even when we feel ourselves slipping into dark shadows, you are there. You never leave us. Dit is wat die doop sê. Jammer vir die Engels. Om dit te vertaal sou iets van die intimiteit van hierdie man se gesprek met God verlore laat gaan het. Doop is ’n geloof saak. Die doop draai om geloof in God. Of jy glo dat God jou gered het en jou sondes afgewas het. En dat dit ook vir jou kind so geld. Geloof en doop het presies dieselfde betekenisse in die Bybel. Albei draai om wat God doen. Ons aandeel is om te glo dat God kan doen wat Hy se. Albei vra dat jy ’n pad met God loop. Nie een vereis perfeksie nie. Albei vereis dat jy naby aan God leef. Paulus vat in Romeine 4 die Jode aan waar dit saak maak. Vader Abraham was hierdie godsdienstige reus vir hulle. Abraham was die man wat presies reg voor God geleef het. Hy het, volgens die Jode alles reg gedoen volgens die wet van God. As iemand reg was in God se oë dan sou dit Abraham gewees het. Ek kan dink aan ten minste 2 geleenthede waar Abraham gejok het oor sy vrou en haar sy suster genoem het. God het hom gered uit sy moeilikheid toe. En ’n ruk later toe doen hy dit weer. Toe vertrou hy nie vir God nie en hy sê sy vrou is eintlik sy suster. Klink nie vir my na iemand met ’n reuse geloof nie. Hy twyfel dan in God se vermoëns en jok oor sy vrou. Paulus sê: Nee. Abraham se saak met God was nie reg omdat hy so goed en reg geleef het nie. Abraham se saak met God was reg omdat hy geglo het. Dit moet klaar vir ons iets sê. Al word ons deur geloof alleen gered en nie deur enigiets wat ons doen nie ... gaan dit nie oor geloof as sulks nie. Kom ek verduidelik: Die grote van jou geloof gaan jou nie red nie. Die grootte van jou geloof gaan jou ook nie meer of minder gered maak as iemand anders nie. Jy word gered deur wat Jesus aan die kruis gedoen het. Sy dood en Sy opstanding uit die dood red jou! Geloof is net die bakhand waarmee jy die redding ontvang. Die mense wat by die robotte in Vereeniging staan en bedel met ‘ bordjie. Hulle doen niks. Hulle staan net daar. Maak nie saak hoe groot die ou se hande is wat hy bakhand uit hou as hy bedel nie. Wat die mense hom gaan gee gaan afhang van hoe groot daardie skenker se hart is. (en seker sy / haar beursie). Hudson Taylor (China Inland Mission) is na sy dood vereer vir sy sendingwerk. Spreker na spreker het gesê hoe groot geloof Hudson Taylor gehad het. Toe sy seun die toekenning ontvang toe sê hy: Julle is almal verkeerd. My pa het nie ’n groot geloof gehad nie. Hy het geloof in ’n GROOT God gehad. “Size” tel nie. Jou geloof gee ook nie vir jou dinge nie. God gee dit. Eintlik gaan dit glad nie oor geloof nie. As jy na Abraham se geloof kyk, of selfs na jou eie – dan het jy die punt heeltemal gemis. Jou geloof doen niks vir God nie. Dit beindruk God niks nie. As jy wil praat oor grote dan moet jy praat oor hoe groot jou God is. Want dis God wat hierdie gemeente maak werk. En dis God wat Hudson Taylor se werk geseën het. Abraham het in God geglo. Wie het Abraham gered? Sy geloof? Nee. Dis God wat Abraham red. Mense. Ons moet oppas dat ons nie met ons eie geloof al sterker wil word nie. Dat ons geloof al kragtiger moet raak nie ... want al wat gaan gebeur is dat daardie groot geloof al hoe swakker word – want dis gebou op krag wat ons in ons self bymekaar geskraap het. Geloof werk net as die kollig op God is. Hoe groot en hoe magtig en wat God alles kan doen is wat van belang is. Dis God wat werk en dinge laat gebeur. Kom ek vat ’n ander beeld: Kinders. As jou pa vir jou sê: “My kind, ek gaan vir jou ’n fiets gee. ’n Nuwe fiets.” Glo jy hom? Natuurlik. Jou pa is ’n man van sy woord. So kry jy die nuwe fiets en jy is baie bly. Nou wil ek weet. Jy het geglo jou pa gaan jou ’n fiets gee. En hy het. Het jou geloof vir jou die fiets gegee? Nee. Jou pa het. Het jou geloof gehelp dat jy die fiets kon kry? Nee. Jou pa het die fiets gegee. Waaroor gaan jy spog? Oor jou geloof? Of oor jou pa? En dis wat in Romeine 4 staan. Paulus sê vergeet van Abraham. Dit gaan alles oor God. Dis God wat Abraham in Jesus gered het. Daar is niks wat jy of ek kan doen wat ons kan red nie. God red ons. Geloof is net die bakhande waarmee jy voor God staan. Geloof is om vir God in effek te sê: Ek kan nie dinge hanteer nie, Sonder U kan ek nie leef nie. U moet help. U moet red. Hier is nou ’n baie belangrike vers. VERS 17. “... God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord.” Abraham het hiermee gesukkel. Die meeste mense wat ek ken ook. Abraham en Sara kon nie kinders hê nie. Toe sê die Here: Ek gaan julle ‚n groot nageslag maak. Toe lag Sarah want sy het geweet sy is al te oud. En Abraham het, so lyk dit vir my, gedink hy moet self plan maak. Toe gaan slaap hy by sy slavin. En toe wil hy ’n slaaf ergenaam maak. En so was hy vol planne. Maar God sê nee. Ek, God, sal jou kinders gee. En God wag tot Abraham en Sarah hopeloos te oud is om kinders te hê. Hy wag tot dat almal sal saamstem dis nou regtig onmoontlik. Toe laat die Here Sarah swanger word en 9 mnde later toe is Isak daar. Dis ons God. Hy kan dinge doen wat ek jy nie eers in ons wildste grootste drome kan uitdink of sien gebeur nie. Vir God is dit eenvoudig. Hy sê en dit gebeur. Paulus skryf so mooi in Efes 3:20 “Aan Hom wat oneindig meer kan doen as wat ons kan bid of dink, ...” Dis ons God. Hy sê ”Noem My jou Vader.” In ons almal se lewens gebeur dinge wat ons nie mee raad het of hoop nie. Dinge wat net te groot of te swaar is. Mense sal vir jou sê: Glo net. Wat hulle eintlik bedoel is gaan staan bakhand voor hierdie groot God en vra: Help my Here want ek kan myself nie help nie. Maar ek weet U kan. Dis geloof. Dit is wat Joseph Carvalho ontdek het: God hou my styf vas. Selfs as dit stikdonker om my raak en ek val is God daar. Geloof is die soort vertroue in God. Geloof is nie ‘n vermoeë om God te kry om vir jou te gee wat jy wil hê nie. Geloof is om soos Abraham in gehoorsaamheid saam met God te stap. Geloof is om doodseker te wees dat God jou so liefhet dat Hy jou sondes sal vergewe en jou die ewige lewe gee en dat Hy tot daardie tyd vir jou sal sorg en help. Dis om elke dag vas te hou aan die God wat met ’n woord dooies lewend kan maak. En dis om elke dag die dinge te doen en die gesindhede te leef wat God van jou verwag. Geloof is ook om soos Abraham nougeset aandag te gee aan wat God sê. Juis omdat God jou bakhande so vol pak met mooi goed. As ek jou vra: Glo jy? Dan vra ek nie na die size van jou geloof nie. Ek vra jou eintlik: Kan God? Vra ek eintlik ... net is jy seker dat God elke dag ’n verskil in jou lewe sal maak al is al die bewyse teen jou, selfs jou ouderdom. En is jy seker dat Hy elke dag vir jou daar is en by jou is soos Hy belowe het. Glo jy?