Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1 Korinthiers 3: 10 - 23 Alles behoort aan julle, maar julle behoort aan Christus … Ons mis mekaar. Ons mis mense. Ek hoor dit baie sedert middel laasjaar. Mense wil graag behoort. Ons wil graag voel maar iewers is ek vir iemand belangrik. Iewers is ek deel van ‘n groep wat my aanvaar. Hierdie gemeente, dit is nou ek en jy, is so ‘n samekoms waar mense kan kom behoort. Kan tuis kom en weet hy of sy word aanvaar. Netsoos hulle is. Ons moet nie toelaat dat Covid of enige iets anders dit verander nie. Dit begin by wie ons, dws wie jy en wie ek, is. 1. Jy is die gebou van God. God se visie vir Sy liggaam is juis dat ek en jy, Sy genade en onvoorwaardelike liefde netsoos Hy sal uitleef. Sal uitleef soos Jesus dit sou gedoen het. Dat ons mense hier ontvang … soos Jesus hulle sou ontvang. Soos Jesus ons hier ontvang. Want eintlik hoort ons ook nie hier nie. Maar nou het ons genade ontvang. En deur die genade is ook ons God se gebou. Word ons die byeenkoms waar mense eerstehands kan beleef hoe God hulle met ope arms sou verwelkom, selfs al sou hulle die tollenaars of sondaars van vandag wees. Wat ‘n geleentheid gun God ons! Hoe groot moet Sy liefde nie wees om so intens met ons saam te leef nie. Hy doen ons ‘n eer aan wat ons nie verdien. Die eer om Hom te mag ontvang en te huisves. En ek wonder: Kan daar ‘n groter voorreg wees vir ‘n mens, as om die Skepper van die heelal as Inwoner in jou te mag ontvang. Ek lees ook elders hoe hierdie voorreg so ‘n bietjie anders omskryf word: In Korinthiers oa, word geskryf: • Ons is deel van Sy liggaam. • Jesus is die hoof en ons is Sy liggaam. Intens. Persoonlik. Dit is God se pad saam met ons. Die voorreg gaan nog verder: Ons is deur Hom aangestel om te bou aan Sy koninkryk. Om te mag bou aan Sy gemeente. Jesus self laat ons deel aan Sy eie roeping toe Hy gesê het: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” (Johannes 20:21) Ek blaai deur ‘n boek oor Moskou en ek kyk na die fantastiese katedrale wat deur die Tsaars en maghebbers opgerig is. En binne in hierdie asemrowende geboue, … is die pragtigste afwerkings, muurskilderye, met goud oorgeblaaste beeldhouwerke en en. ‘n Mens kan in hulle ure spandeer en jou verwonder aan alles. Nie een van daardie pragtige geboue kom naby aan jou nie. Jy is God se gebou. Die tempel van God. Sy Gees woon in jou. Jy is spesiaal. Jy is God se plek. Sy tempel. Of ons saam is soos nou, of alleen met God deur die dag beweeg, ons is God se gebou (vers 16, 17). Die mense moet deur jou lewe kan beweeg en dink: Wow, kyk wat het God hier gebou! Hulle sal kyk na wat jy alles doen, hoe jy werk, hoe jy omgee en mense help. En as hulle begin kyk dan sal hulle sien dit is wat Jesus aan die kruis gedoen het wat maak dat alles in jou lewe so kan staan. 2. Ons is ook God se bouers. Paulus praat van ons werk in die gemeente. Van vers 14 af praat hy nie meer oor Apollos en die ander predikers nie. Hy skryf oor die gemeente lede en hoe hulle verder bou op dit wat Paulus in die gemeente begin het. Hy wy nogal heelwat tyd hieraan. Dit wat ons doen en lewe in die Naam van die Here. Jou omgee vir iemand, jou uitreik na ander, jou daar wees vir mense, jou getuienis oor Jesus, wat ookal die Here jou op die hart druk. Of voor roep. Bou voort op Jesus. Hoe jy as lidmaat ... Jesus leef … is bouwerk en soms selfs brouwerk. Leef versigtig. Behou die perspektief: ek bou aan God se tempel, aan God se koninkryk. Alles in ons lewens gaan oor Jesus. Dit gaan oor wat Hy gedoen het vir ons. Hy is ons inspirasie. Hy is die rede hoekom ons doen wat ons doen, is wie ons is. En wat ookal ons doen … moenie laat dit afwyk, of anders wees as wat Jesus is nie. Vers 13 ev sê ons werk sal getoets word. Die gehalte van elkeen se werk sal getoets word. Ek pleit by jou: Gee jou beste vir die Here. Doen jou beste vir Hom. Hy verdien dit. Hy het Sy alles opgeoffer vir jou. Sy lewe volledig gegee aan die kruis in jou plek. Om jou te red. Daarom, wat ookal jy doen … doen dit op jou heel beste asof vir Hom. Soos Hy dit sou wou hê. Jy het jou lewe vir Hom gegee. Jy wou gered wees. Jy het gesmag na die genade. Jy wil hê God moet jou elke dag seën en bewaar. God wil dit wees en doen vir jou, maar jy moet die beheer van jou lewe in Sy hand los. Nie dit bid en dan met jou dag aangaan soos jy dink reg is en soos jy dink dinge gedoen moet word en kan werk nie. God se leefstyl moet nou ons leefstyl word. Bou daaraan in jou eie lewe. En gebruik Sy genade en Sy liefde om te bou in die mense om jou. Jy is nooit alleen. God is by jou. Jy het die voorreg om ‘n lewe te leef wat betekenis het. Jy kan ‘n verskil maak. God het jou daartoe geroep en toegerus. Toegerus met gawes, ja. Maar ook toegerus met dieselfde Heilige Gees deur Wie die dissipels kon doen wat hulle gedoen het. Jou en my verantwoordelikheid is om te bou op Christus. Nie met ons eie slimmigheid nie (verse 18 tot 20). Want ons wysheid is domheid voor God. Ons bou nie naam nie, ons bou aan God se eiendom. God se Naam word geroem waar ons Christus leef. 3. Onthou: Jy behoort aan Christus. Paulus sluit af met ‘n vers waar die een deel op die ander bou. Elke nuwe deeltjie word vasgemessel op die voorafgaande. Dit is ‘n lofuiting. As’t ware vat Paulus ons tot op ‘n bergpiek waar jy die fantastiese uitsig het op wat ‘n gemeente is en het in Christus. En in die volgende hoofstukke sien jy ook die donkerte wat ‘n gemeente kan wees as hulle hul eie wysheid volg. En jy wonder hoe kon die Korinthiers wat so baie ontvang het, so ryk in Christus was, ook so laag daal. ‘n Mens kan dieselfde oor baie gemeentes vandag wonder. Ook oor ons. Dit is ons hande om hierdie gemeente ‘n katedraal van God te laat wees. En dit begin by ons elkeen: Elkeen self eers ‘n katedraal vir God. Vir oulaas, die goeie nuus: “Alles behoort aan julle.” “Maar julle behoort aan Christus.” (v23) “… en Christus behoort aan God.” Gaan leef dan as tempel van God … katedraal vir Hom.