Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 10: 26 – 33 ‘n Peuter in ‘n vreemde situasie, kyk gereeld om om te sien waar is mamma of pappa. Hulle skep moed uit hul ouers se teenwoordigheid. Instinktief weet hulle hulle ouers sal sorg en help en altyd daar wees vir hulle. En ek weet jy was daar vir jou kinders. En is steeds daar al is hulle al groot. Hoor vanoggend dat God daar is vir jou. Hierdie is ‘n onderafdeling van hoofstuk 10. Dit het begin by mag gegee, toe uitgestuur, toe gewaarsku en die krag van die Heilige Gees belowe. En nou gaan Jesus verder met die feit dat die 12 dissipels voor die howe en goewerneurs sal moet getuig. Die boodskap in twee woorde is: Behou perspektief. Onthou vanoggend hoekom ons besig is met die Matteus evangelie. Ons wil leer hoe om as gelowiges reg voor God te lewe. Hoe ons as getuies moet wees en optree. 1. Teenwoordig by ons. Hier is ‘n geweldige stuk troos in die deel. Dit is so anders as wat ons gewoond is. Ons ken van afgevaardig word na ‘n vergadering. Of die werk stuur jou om ‘n moeilike klient te gaan sien of ‘n groot transaksie te gaan afhandel. En daar is baie op die spel. Jy gaan in ‘n amptelike hoedanigheid, maar eintlik is jy maar op jou eie daar. En as jy terug is by die werk kan jou kop waai of nie. Of jou bonus is op die spel. Of ... wat ookal, want ek ken nie jou werk nie. As Jesus mense uitstuur, as Jesus vandag ons as Sy gestuurdes, Sy verteenwoordigers uitstuur, dan is Hy by hulle en by ons en leef Hy intens met ons mee. En as ek die woordjie intens gebruik, dan bedoel ek wat die beeld wat Jesus gebruik sê: God weet selfs hoeveel hare op jou hoof is. Maw God weet alles van jou af. Meer as wat jyself van jou weet. Lees maar Psalm 139. Of die Nuwe Testament dele oor die Heilige Gees Wie in ons woon. Glo my. Niks sal met jou of in jou lewe gebeur waar God nie by is nie. Of nie sal kan beheer nie. God sal nie onkant gevang word met enigiets wat met jou gebeur nie. Die oorspronklike Grieks het vers 29 se “sonder die wil van die Vader” as “sonder God”. Daar is komentare wat daarop wys dat dit ‘n bekende Griekse frase is met in die Hellenistiese wêreld van daardie tyd, die betekenis van “sonder die wil van die god”. Dit is nie God se wil dat die dissipels, of ons deur erge vervolgings sal gaan twv Sy Naam nie. God laat dit toe. Die wêreld, en ons, het ‘n vrye keuse. Ons moet saam leef met die keuses van ander. Die keuses van regerings. Maar die versekering bly: God is altyd hier by jou, in jou en ja, ook daar by jou as die wêreld hul keuses uitoefen. Jy het ‘n vrye keuse. Vers 32 en 33 wys dit uit. So ook die dele oor bang wees (verse 26en 28). Moenie bang wees nie, want God is by jou. Behou jy perspektief. Bly jy binne die wil van die Vader. 2. Uitspreek. Dit is ‘n kwessie van assosiasie. By Wie staan jy? ‘n Mens se getuie wees van Jesus, of dan jou solidariteit met Jesus ook voor mense bepaal nou reeds of Jesus Hom by jou gaan skaar of vir jou instaan voor God eendag. Die Griekse woord opologesei, in vers 32, in die 1983 vertaling vertaal as, openlik uitspreek, en in die 2020 vertaling as: “”Daarom, elkeen wat My voor die mense bely, sal Ek ook voor My Vader in die hemel bely.” Opologesei, beteken bely, om openlik jou alliansie met ‘n saak of ‘n persoon uit te spreek. Die twaalf dissipels moet hulself identifiseer as apostels van Jesus. Dit sluit mooi aan by ons wat getuies, verteenwoordigers van Jesus is. Of as jy wil, dissipels van Jesus is. ‘n Dissipel is ‘n leerling. Ons is dus mense wat by Jesus leer hoe om te lewe en spesifiek hoe om in die koninkryk van die hemel te lewe. Ek het in die begin gesê dit gaan oor perspektief behou. Jy moet altyd jou lewe sien teen die groter perspektief van jou kindskap van God. Jou en my lewe moet uitspeel vanuit die perspektief van ons as getuies van Jesus. Elke mens is ‘n getuie, of jy dit wil weet of nie. Die vraag is eerder ‘n getuie van wie? Van jouself? Van die wêreld? Of van Jesus? Wat jy hierop antwoord, bepaal Jesus se reaksie voor die Vader tov jou. Kom ek plaas dit net weer in perspektief: dit is deel van ‘n hoofstuk oor gestuurd wees en vervolgings. Dus, selfs as die druk toeneem, wees ‘n getuie van Jesus. Wees bereid om te praat oor die koninkryk van God. 3. Bang wees. Jesus sit alles mooi in perspektief. Hy het met die 12 dissipels gepraat oor vervolgings wat vorentoe op hul pad sou kom. En ‘n mens kan sien dat Hy verstaan dat voor al die hogere mense, en gewone mense sekerlik ook, gaan hulle bang raak. Dis natuurlik. Twee keer sê Hy vir hulle: moenie vir mense bang wees nie.(Vers 26 en 28). Maw behou die perspektief. Sien alles teen die groter prentjie. Sien God aan die werk in hierdie wêreld en in jou. Sien raak dat die ergste wat mense aan jou kan doen is niks in vergeleke wat God kan doen nie. Hy sit liggaam teenoor siel. Nefesh in die Ou Testament Hebreeus en psyche in die Grieks van die Nuwe Testament. Kort termyn versus langtermyn. Vir my is die perspektief een van nou met God by my en eendag ek by God. Teenoor nou skaam vir God, God skaam vir my. Hier is n agenda: Praat oor alles wat Jesus gesê en gedoen het. Al het Hy dit eenkant in ‘n laataandgesprek gesê, die hele wêreld sal dit hoor. Wees jy die een om dit te vertel. Dit gaan nie oor ander mense se geheime dinge wat aan die hele straat verkondig gaan word nie. Of die hele dorp nie. Dit is ‘n verkeerde siening. Bly in die groter prentjie van die hoofstuk. Behou perspektief. Die dissipels word uitgestuur om te gaan sê die koninkryk van die hemel het naby gekom. Die onderwerp bly die koninkryk van die hemel. En as Jesus in vers 32 praat van “skaam vir My”, dus Homself, dan besef ons tog jy kan nie oor die koninkryk van die hemel praat sonder om oor Jesus as die Messias, die koning te praat nie. Die dissipels het gehoor wat Jesus sê. En in Handelinge lees jy hoe hulle kies om eerder aan God getrou te wees as aan mense. En hulle sê dit vir die Joodse raad toe die hulle beveel om stil te bly oor Jesus. Handelinge 4. Die Raad het hulle toe ernstig gedreig. En die dissipels het aangehou om te praat oor Jesus. Toe die vroee kerk weens die vervolgings moes vlug uit Jerusalem uit, het hulle sover hulle gegaan het die evangelie verkondig (Handelinge 8: 1 – 4). Hulle het perspektief behou. Kom ons kyk terug van ons kant af na hierdie deel. En ek gaan net terug na die hoekom wat agter alles lê en die dieper boodskap van die koninkryk van die hemel se koms. Dit is tog wat die dissipels moes gaan verkondig. Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het. Johannes 3: 16. Want so lief het God vir jou ... want jy is tog deel van die wêreld. Ook vir jou en vir my het Jesus uit liefde uit Sy lewe opgeoffer aan ‘n kruis. Wat Jesus gedoen het was keer op keer uit liefde uit. Die 12 is uitgestuur, en later die vroeë kerk en nog later ek en jy, want een Mens alleen sou nie God se liefde by almal kon uitbring nie. God wil ons laat deel in die verkondig van die dakke af van Sy boodskap van liefde en hoop. God se liefde maak dat Hy bewus is van elke mossie wat op die grond neerval en deur arm mense geeet word. En aan elke arme wat sy of haar laaste sent dalk opgedok het om daardie mossies te koop. God se liefde is selfs meer vir jou. Dit is die perspektief wat ons moet behou. Want so lief het God jou. Sê vir jouself, oor en oor as dit moet: ... want so lief het God my. Jy is tog nie skaam vir jou liefde vir jou lewensmaat en sy of haar liefde vir jou nie. Bly in God se liefde. Praat oor God se liefde vir mense. Moenie bang wees nie. Laat Jesus se liefde jou dring. Behou perspektief.