Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
JOHANNES 15: 9 – 17 In die film, Jerry McGuire, sê Dorothy vir Jerry: “You had me at hello.” Wel. Jesus het my al gehad met “Ek het julle lief. En toe vat Hy dit verder en maak dit sommer baie trappies beter met: Soos die Vader My lief het, het ek julle lief. Jesus kon die mooiste dinge sê, en dan vat Hy dit en Hy maak dit nog mooier deur dit te gaan doen. Hy sê: Ek het julle lief. Dan gaan Hy wys Hy aan die kruis wat ware liefde is. Hy gee Sy lewe vir ons. 1. Ek het julle lief. Laat dit insink: Soos die Vader My liefhet, het ek julle ook lief. (15:9) Dis intens. Ek dink nie ons kan die diepte, die intensiteit, van die liefde tussen die Vader en Jesus indink nie. Ek wil nie eers probeer nie. Want elke beeld waarmee ek opkom, elke voorbeeld wat ek aan kan dink, skiet hopeloos te kort. Jesus self help ons verstaan. Hy sê dit is 'n liefde (Joh 5: 20) waar die Vader alles vir die Seun wys. Die Almagtige wat Sy Seun in Sy vertroue hou, ook in Sy menslike vorm, en Hom alles wys en leer. Sien in jou geestesoog 'n pa wat sy seun baie liefhet. En met geduld vir hom dinge wys en leer. Wat tussen die Vader en die Seun gebeur is net oneindig groter en kosbaarder. Dit is 'n liefde met 'n diepte en wydte wat ek nie kan indink nie ... maar dit is hoe lief Jesus ons het. Die vers begin met die woordjie “soos”. So as ek nie die grootsheid van die liefde tussen die Vader en Jesus heeltemal begryp nie, is dit okay. Want ek verstaan dis selfs liewer as wat ek my kind kan hê. En glo my, ek het hulle baie lief. So ek verskuif my fokus na wat Jesus eintlik wil sê met die soos. En dit is: Hy het jou lief. Hy het jou lief met ‘n intensiteit en ‘n nabyheid en grootsheid wat my en jou verstand te bowe gaan. Vandag kom sê ons Here: So lief het ek ook vir jou. “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief.”(15: 9) 2. Uitnodiging om Jesus lief te hê. So groots soos die liefdesverklaring is, netso kosbaar die uitnodiging vir ‘n beter tipe lewe as wat die samelewing ooit sal ken of sal kan bied. Die uitnodiging na ‘n lewe gevul met ‘n diepgesetelde blydskap. Liefde verander alles. Love, love changes everything. Dis ‘n ou bekende liedjie. En dit sê wat hier gebeur. Die mooiste woorde wat ‘n mens kan hoor, word nou die mooiste woorde teenoor God geleef. Ons wat God lief het. En ons wat soos God lief het. Ons wat oor ons self kom, en onsself gee in liefde. Ek weet nie van jou nie, maar dit is die lewe wat ek begeer. Ek begeer dat die Vader my sal liefhê en ek begeer dat Hy, Vader Seun en Heilige Gees in my kom woon met alles wat daarmee saam gaan. Ek begeer dat die Heilige Gees volle beheer oor my lewe moet neem. Laat God se liefde vir jou so oorweldig, jou so aangryp dat dit ook jou lewe verander. Laat Sy liefde jou laat stop om eers te dink voor jy dinge doen of sê. Bly in hierdie liefde. Hierdie liefde maak jou die mens wat jy moet wees. Hierdie liefde is ons inspirasie. Staan by dit stil. So lief het Jesus jou. So lief soos die Vader Hom het, so lief het Hy jou. En dan, eers dan kom jy by : “Julle moet in My liefde bly.” (vers 9b) 3. Bly in Jesus se liefde. Jesus kon seker gesê het “julle moet altyd onthou dat Ek julle liefhet”. Of, “laat My liefde vir julle ‘n inspirasie” wees. Of wat ookal. Maar Jesus kies om te sê “julle moet in My liefde bly.” Wat beteken dit prakties vir ons? Hoe raak dit jou en my? Alles wat julle doen moet gedryf wees en gevorm wees deur Jesus se liefde. Soos Jesus liefhet so doen ons. Soos Jesus liefhet so praat ons met ander en oor ander. Elke woord van ons ... gevorm ... deur Jesus se liefde vir daardie mens. Elke ding wat ons doen, gevorm deur Jesus se liefde. Elke gesindheid .... Jesus se liefde! Jesus se liefde verander ons en maak ons heel. Heel mense het lief. Soos Jesus. Dus resoneer dit in ons harte, ons voel dit hier (in ons hart) en nou wil ons dit ook uitleef teenoor ander: Ons moet mekaar liefhê. Weet jy wat? Die dele waar die Nuwe Testament sê ons moet dinge vir mekaar doen, of net mekaar liefhê. Om mekaar lief te hê, kom verstommend baie voor. Nie net as opdrag nie, maar ook as ‘n antwoord vir hoe ons mekaar moet liefhê. Petrus, byvoorbeeld, skryf dat ons gereinig is om mekaar as broers ongeveinsd lief te hê (1 Petr 1: 22). En ons moet mekaar dan ook van harte en vurig liefhê. En ek dink, ek is erg oor my broer (En my suster). Ons gaan uit ons pad uit vir mekaar. Doen moeite vir mekaar. En ek besef dat dit is hoe ek julle kan liefhê. Hoe ons mekaar moet liefhê. Met ‘n ek gaan uit my pad uit om jou bytestaan of jou te help of vir jou op te kom soort liefde. Die skrywer van die Hebreersboek laat hoor dat ons mekaar altyd moet liefhê! (Hebr 13: 1) En ons moet mekaar aanspoor tot liefde en goeie dade (10: 24). Paulus sê ons moet mekaar in liefde dien (Gal 5: 13) en mekaar helpdra aan die lewe (mekaar se laste dra, Gal 6:2). Wat ookal mense oor kla, bv jou vriendin kla oor haar man, of jou kind kla oor hul baas, dan moet ons hulle aanmoedig om te gaan liefwees vir die mens. Om met liefde te reageer. Dit moet soos ‘n refrein opklink, ... gaan wees lief vir daardie een. Gaan doen iets moois. En as dit te moeilik raak dan gryp ons terug op Efes 4: 2 ... verdra mekaar in liefde. Liefde. Liefhê. Omgee. Dien. Dit is ons reaksie op die lewe. Dit pas dalk nie by jouhuidige manier van mense hanteer in nie. Eks so jammer daaroor. Laat gaan dan maar jou manier. God het ‘n beter manier. Ons moet mekaar liefhê. Jesus sê nog ‘n paar dinge hier. Hy sê: Ek het julle uitgekies en julle aangestel. En ons moet vrugte dra. En ons moet in Hom glo, maw Hom op Sy Woord neem. Maar op valentynsdag, stop ons hier. Alles is tog saamgevat in die liefdes gebod. Soos die Vader My liefhet, het Ek julle lief. Julle moet mekaar liefhê en in My liefde bly. Amen.