Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 10: 16 – 25 Hierdie is ‘n hoofstuk wat niemand wil lees nie. Dit is ‘n kant van Christenskap wat ons nie van wil weet nie.... In ‘n wêreld wat baie predikers vir jou sê jy moet net glo en dit sal met jou goed gaan. Glo en jy sal geseënd wees. God wil jou bederf met oorvloed. Is ek die ou wat vanoggend vir ons moet sê, stadig nou. Dinge is nie so eenvoudig nie. Die geleenthede wat geloof bied lyk soms anders. Daar is mense wat hierdie verse misbruik deur te beweer as jy nie vyande het nie was jy nog nie gehoorsaam aan die Here nie. Sonder twyfel gaan hierdie deel oor getuies wees. Volgelinge van Jesus wat moet gaan sê die koninkryk van die hemel het naby gekom. Meer spesifiek: Die 12 dissipels wat vooruit gewaarsku word. David Hill sê die hele gevoel van hierdie deel is apokalipties. Eindtyd waarhede. Dit vat net een lang kyk vorentoe in die dissipels se lewens in om te weet dit het so uitgespeel. Wat Jesus hier sê het met hulle gebeur. Die vroeë kerk het hierdie woorde ook as waar beleef. Baie gelowiges het swaar getrek onder Joodse godsdienstiges, Romeinse keisers en ander wat hulle lewens nag gemaak het. Dit het hulle hul lewens gekos. Lees maar die briewe van Paulus en Petrus en die Openbaring aan Johannes. Hulle het Christus nie verloën of afgesweer net om te kan bly lewe nie. Dit is nie te sê dat elkeen van ons dit so gaam beleef nie. Dit is nie te sê dit is hoe God se pad met ons gaan verloop nie. Dit sou egter baie naief wees om te dink dat daar nooit mense gaan wees wat jou skeef gaan aankyk oor jou geloof nie. Of jou skerp gaan aanvat nie. Die feit is: Dit wat jy glo – Hy in Wie jy glo en vir Wie jy so baie lief is --- is steeds nie welkom by baie mense nie. Dit is baie duidelik in vers 24 en verder dat mense teen Jesus se volgelinge sal draai. Verwag dit. Moet dit nie vrees nie. Moet dit nie ewe arogant gaan probeer uitlok nie. Dit sal kom as dit moet. Weet net dit: As hulle Jesus uitgeskel het en verwerp het gaan hulle dieselfde met Sy volgelinge doen. Moet dus nie dink dat die sentiment teen Jesus nie ook teen jou kan draai nie. Daar is drie woordjies, of te wel 2 woordjies en 1 frase, wat ons vanoggend deur die teks gaan neem: • Onthou. (vers 16) het. • Ter wille van My. (vers 18) • Wanneer. (vers 19) Die res is ‘n uitbreiding op hierdie woorde. Die res is nie waarteen ons moet vaskyk nie. Ons moet ons oë op die Here hou. Kan ek jou vir ‘n oomblik terugvat na my tandem beeld van verlede week. As jy wil val, as jy nou regtig wil neer kletter op die grond, probeer self doen. Probeer in beheer kom van die lewe. In hierdie deel veral sien ons die afhanklikheid aan die Kaptein. Ons is altyd die tweede ryer. Die Kaptein hou ons regop. Hy stuur ons deur die lewe. In hierdie deel ook. Kyk self: Die Een wat eintlik sentraal staan is Jesus. Dit is ter wille van Hom wat die dissipels voor goewerneurs en konings gebring gaan word. En dit is God, die Gees van die Vader wat hulle die regte woorde op daardie oomblik sal gee. 1. Onthou. (Wees). Matteus begin hierdie deel met Jesus wat sê: Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in. Okay. Dis nou bemoedigend. Onthou net Wie het jou gestuur. En onthou dat jy ‘n gestuurde van die Christus is. Hy is die Lam wat Sy lewe as offer gegee het om jou ontwil. Die Een wat jou liewer as lief het. Hy stuur die dissipels.. Van die begin af sê Jesus vir die 12 dissipels dat hulle erge dinge gaan beleef. Dat selfs hul families teen hulle sal draai. Dat hulle vervolg sal word en voor die howe gesleep sal word. Oor Hom. Moet nou nie sonder meer ‘n is gelyk aan teken hier sit nie. Moet nie dink dis wat ook vir my gaan voorlê nie. Ek weet nie van jou nie maar vir jare het verse soos hierdie aan my geknaag. Tegelyk het ek gewonder oor die dissipels en die erge dinge en ontberings wat hulle beleef het. Dat hulle op een na almal wreedaardig gesterf het oor hulle die evangelie verkondig het. Dink aan Paulus. Dink aan die baie ander gelowiges later ook waarvan ons lees in bv in Hebreers 11 en in die kerkgeskiedenis. Dink China, Pakistan, Midde Ooste. Daar is vandag nog erge vervolging in dele van die wêreld. Maar dit is nie sonder meer te sê dit gaan ook jou pad wees nie. Dit was die dissipels se pad. Ander se pad. Nog ander het weer ander paaie gehad. Moet nie jou kop breek hieroor nie. Fokus jy op die Kaptein en trap as Hy sê trap en ry waar Hy met jou heen wil ry. Vra jouself af: Hoe het bv Paulus dit reg gekry om nie tou op te gooi na die eerste drag slae of tronkstraf nie. En hoe het Petrus dit reg gekry om te vra dat hulle hom eerder onderstebo moet kruisig want hy is nie werd om soos sy Meester te sterf nie. Of so gaan die oorlewering. En die antwoord is eenvoudig: Jesus. Hulle het onthou. Hulle het onthou Wie hulle gestuur het en Wie Hy is en wat Hy in hulle lewens gedoen het. Hulle oë het op Hom gebly. Sodanig dat Paulus homself gelukkig geag het dat hy in ons Here se lyding en swaarkry kon deel. Onthou Wie het jou gestuur. Hy gee ook die genade. Wees versigtig. Wees opreg. Die Griekse woord akeraios dui op rein of opregte bedoelings, eenvoud in jou doel. Dus sonder voorwendsels of vals bedoeling. En ‘n slang is gesien as slim en berekend, versigtig, behoedsaam. Moet dus nie rede gee vir vervolging anders as om die evangelie te verkondig nie. Kiees die oomblikke reg. As vervolging kom moet dit wees ter wille van Christus. Oor geloof in Christus. En nie oor ons nie. 2. Ter wille van My. Al hierdie onaangename dele wat met die dissipels sou gebeur, soos om voor regters gesleep te word, families wat teen hulle sou draai, mense wat hulle sou uitlewer ens gebeur om net een rede: Christus. Omdat hulle die naam van Christus dra. Omdat hulle dissipels van Christus is. Jesus sê dit is ‘n geleentheid om te getuig. Vers 18. “18 Ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word ter wille van My. Dit sal julle geleentheid wees om voor hulle en voor die heidennasies van My te getuig.” Dit is ‘n geleentheid om selfs voor beleidmakers en regerings te getuig. Die dissipels het almal saam met Petrus gesê hulle sal saam met Jesus in die gevangenis gaan, selfs saam met Hom sterf. En toe vlug hulle die nag in toe die oomblik aanbreek. Maar na Pinkster was dit anders. Het hulle vrylik getuig. En die gevolge gedra. Ek luister onlangs weer na ‘n ou getuienis uit China. ‘n Amerikaanse evangelis het leiers van die ondergrondse kerk in China gaan toespreek. Hy vra: Wat word van my as ons gevang word? Jy word gedeporteer. En julle? Ons gaan tronk toe vir 2 tot 3 jaar. Wie van julle was al in die tronk oor jul geloof? 18 uit die 25. En heel party al tot drie keer. Maar hulle is weer byeen want hulle is honger vir Christus. Ons kan hier leer om weer offerbereid te wees. Om bereid te wees om te dien ongeag die koste. En om te getuig. Afjakke. Tyd op geoffer. Ons eie-ek gekruisig. Energie verbrand twv die koninkryk. Wat is dit gemeet in die lig van die genade wat ons ontvang het? Wil ons hoër as Christus wees deur nie te wil ly of te moet opoffer nie? Ek vra dit in die lig van vers 24 en 25. Aan die anderkant, as hulle Christus vervolg het, kan dit ook met ons gebeur. Die wêreld neig soontoe. 3. Wanneer. Wanneer die dinge gebeur. Daar is iets kosbaars wat gebeur wanneer hierdie tipe geleentheid opduik. So spanningsvol as wat hofsake kan wees, netso en meer kom die versekering dat God saam met jou daar is en vir jou deur Sy Gees die woorde sal gee. Die “op daardie oomblik” is interressant. Nie vooraf. Maar op die oomblik wat jy moet praat, gee die Gees die woorde. En dan is dit nie jy wat praat nie maar die Gees wat deur jou praat. Ja. Vandag lyk anders. Howe werk anders. God werk steeds ongeag dit. Vertrou die Here. In ‘n oorvereenvoudigde vorm , wie hier was nog nooit verras deur die verse wat in hul gedagtes opkom in ‘n geloofsgesprek. Verse wat jy al vergeet het jy ken. Of net die regte woorde vir die oomblik. Dit is Jesus besig om woord te hou. Die Gees van God aan die werk in en deur jou. Sien die geleentheid om te getuig raak. In die slegte wat gebeur lê ‘n geleentheid om te vertel van die hoop wat in jou leef. In die donkerte kan ons praat oor die Lig. In die storm en die politieke oorloë en geweld kan ons praat van die koninkryk van die hemel. Ons kan die voorreg om met Jesus te leef met passie opneem en uitleef en die res aan Jesus oorlaat. Soos op die tandem, Hy die Kaptein, en ons vertrou Hom en volg Hom. Daar sal nooit ‘n situasie opduik in jou lewe, iets leliks met jou gebeur of dreig om te gebeur, wat God onkant sal vang nie. Jou lewe is in Sy hand. Hy het ‘n plan. En hoor maar net weer Paulus se woorde: Niks, maar niks kan keer dat God ons lief het nie, liefhê met die liefde wat daar ook vir ons is in Christus Jesus ons Here.