Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 10: 5 - 15 Hierdie is ‘n gedeelte wat my persoonlik al baie opgewonde gehad het. My geinspireer het of op die een of ander manier help vorm gee het aan my lewe. Hierdie gedeelte het my al baie laat voel ek is nie goed genoeg nie. Ek het al so begeer dat elke sieke waarvoor ek bid, ons bid, gesond sou word. Die deel wys daarop, of nie? Dit het ‘n fietsry beeld gevat om die deel vir my te laat oopgaan. En ek deel dit graag met jou. Net eers iets belangriks. Jesus glo in jou. Hou die gedagte vir ‘n paar oomblikke vas. Ek verduidelik. In hierdie deel oa, ontdek ‘n mens dat Jesus glo dat Sy dissipels sal ook kan doen wat Hy doen. Rabbies, in daardie tyd, het juis leerlinge gekies wat hulle geglo het sal kan doen wat hulle doen. Jesus het gewys die koninkryk van die hemel het naby gekom. Jy sien dit in die siekes wat gesond geword het , melaatses wat Hy genees het, blindes wie se sig Hy herstel het; verlamdes wat weer kon loop. Die dogtertjie van Jairus wat Hy weer lewend gemaak het. En duiwels uitgedryf. bewyse, of tekens, dat die Messias gekom het. Die Messias sou hierdie dinge kon doen. Toe Johannes die Doper begin twyfel het of Jesus regtig die Messias is, is dit die antwoord wat Jesus vir hom terug gestuur het: die boodskappers moes gaan sê wat hulle gesien het nl. Genesings en en en. Die dissipels het dit alles ook gesien. Nou stuur Jesus hulle uit om vir die Israeliete te gaan sê die koninkryk van die hemel het naby gekom. Let op die “naby gekom”. Nog nie volledig daar nie. Vandag, na die kruis en opstanding is die koninkryk hier. My fietsry beeld. 1. Tandem Ek wil ‘n beeld gebruik. En nee, ek het nog nooit op ‘n tandem fiets gery nie. Ek het al een gesien en stories gehoor. So ek het gaan Google. Die eerste ding wat ek geleer het is: Hulle sê: As jy nie saamwerk nie dan val julle albei af. Daar was ‘n aanhaling op die internet wat ek wil deel: “The focus is on each other, not the bike.” Tandem fiets ry is ons beeld vir wat Jesus met die dissipels in hierdie deel doen. Dit is ook die beeld vir jou en my lewe met Jesus. In ons geval. Jy fokus nie op die taak soveel as wat jy fokus op Hom wat jou die opdrag gee. Jesus. Die agterste persoon op die tandemfiets, se fokus is nie soseer waarheen hulle ry nie, dit is op die leiding wat die voorste persoon gee, maw die kaptein se leiding. Waar begin ‘n mens? (En nou moet jy die heeltyd ons teks gedeelte in die gedagte hou). Die kaptein klim eerste op en hou die tandemfiets regop en stewig. Die tweede persoon klim dan op. Jy (die 2de persoon) sit dan albei jou voete op die pedale. Jy hou nie jouself regop nie. Dit is die kaptein se werk. Dit is baie belangrik: Jy hou nie jouself regop nie. Maak nie saak of jy voel julle gaan nou omval nie. Jy probeer nie self regop bly nie. Jy steek nie jou voete uit nie. Dit is die kaptein se werk. Die kaptein kry die pedale in die regte posisie. Nie jy nie. Hulle sê: Jy raak uiters ongemaklik as die kaptein die fiets beweeg. Moet steeds nie jou voete uitsteek om balans te kry nie. Sit stil en vertrou die kaptein. As die kaptein dan sê trap, dan trap jy. As hy sê hier kom ‘n hobbel in die pad dan kry jy jouself reg vir die hobbel. As hy sê stop, dan stop jy. Jy trap. Jy luister. Dit is jou rol. As jy iets meer probeer doen of beheer wil neem dan val die hele spul om. Ek het so pas vir ons verduidelik hoe dissipelskap werk. Hoe Matteus 10: 5 – 15 werk. Jesus is die kaptein. Hy sê en ons doen. Natuurlik is dit nie so eenvoudig nie. Dit vra absolute vertroue. Tandem ryers vat tyd om mekaar gewoond te raak. Ons ook. Maar dit is ook hoekom ons deur Matteus evangelie vers vir vers werk. Ons leer Jesus ken en ons leer om saam met Jesus te werk. Kom ons vat nou die dissipels as voorbeeld. 2. Opdrag. Sien raak hoe Jesus hulle vra om Hom te vertrou. Om soos Hy God te vertrou. Jy sien dit in hoe Hy hulle pertinent aansê om niks saam te neem nie. Nie eers ‘n muntstuk nie. Niks. Net vertroue. Daar is drie aspekte aan Jesus se opdrag hier. Die eerste is: Vir eers net na Israel toe te gaan. Bly weg van die heidene en Samaritane af. Ons wat later kom weet dat die tyd toe nog nie reg was daarvoor nie. Na die kruis en opstanding word almal uitgestuur na al die nasies toe. Die tweede is Here is taamlik spesifiek oor wat hulle moet doen. Gaan sê vir die mense die koninkryk van die hemel het naby gekom. Maw Gaan sê vir hulle die Messias is hier en Hy gaan nou die koninkryk van die hemel in vervulling laat gaaan. Derdens. Vat niks saam. Gaan bly waar mense jou verwelkom. Maak siekes gesond, dryf duiwels uit en wek dooies op. Volgens die Geskrifte is hierdie tekens wat gepaard sou gaan saam met die koms van die Messias. As die mense hulle hierdie dinge sien doen sou hulle weet, die boodskap is waar. Die koninkryk van die hemel het naby gekom. Ons moet nie ‘n is gelyk aan teken hier sit nie. Ja, in Handelinge word ons almal uitgestuur om Jesus se getuies te wees. En almal ontvang krag om dit te kan doen. Maar hier gaan dit oor 12 uitgekiesde manne wat moet gaan sê die koninkryk van die hemel is nou naby. En hulle ontvang mag om dinge te doen wat die boodskap bevestig. Ons het die voorreg om te sê die koninkryk van die hemel is reeds hier. Ons is nou reeds paspoort draers van God se Ryk. Kom ons gaan terug na my beeld van die tandem fiets. Dit sal help met die verstaan van die mag gegee deel. As die tweede ryer ongemaklik voel en sy of haar voet uitsteek om hulself en die fiets te probeer regop hou; of net beheer wil oorneem en doen wat hulle wil --- al voel dit hoe reg – albei gaan neerslaan op die grond. Jy doen dit nie. Jy vertrou die kaptein. Paulus het dik briewe hieroor geskryf. Nee, nie oor tandem fietsry nie, maar oor die vertroue in die Kaptein. Alles gebeur in Christus. Dit is belangrik. Verstaan jy dit? Niks gebeur sonder Christus nie. Jesus teken nie hier Sy mag weg aan die 12 nie. Hy werk deur hulle. Die druk is nie op hulle nie. Hulle moet net in vertroue in Jesus, saam met Jesus, uitgaan en gaan doen. Hulle moet Sy leiding volg. Die opdrag het voorwaardes: Hulle mag niks saam vat nie. By ‘n ander geleentheid het Hy gesê hulle moet goed saam vat. Hier mag hulle nie. Dit is ‘n les in afhanklikheid. Dit wat Hy in die bergrede gepreek het. As jy mooi daaroor gaan nadink: Hulle moet nie geld saam vat en so ‘n agterdeur oophou vir ingeval God nie sal voorsien nie. Hulle moet niks saamvat wat hulle kan terug hou nie. Hierdie sou ook ‘n les in vertroue in Jesus wees. Soos die tweede persoon die kaptein op die tandem vertrou en meer. Wat jy nodig het sal jy ontvang. Ek wonder hoe het die mag gegee gebeur. Het die dissipels iets beleef op daardie oomblik? Nie een van die evangelisskrywers sê iets hieroor nie. Net dit: (10:1) “1 Jesus het sy twaalf dissipels nader geroep en hulle mag gegee om onrein geeste uit te dryf en om elke soort siekte en kwaal gesond te maak.” Wat ek eintlik oor wonder of hulle die mag ervaar het, amper soos in Handelinge 2 en toe, onder die indruk van dit gegaan het? En of Jesus vir hulle gesê het Hy gee vir hulle mag en toe soos hulle gegaan en gehoorsaam het het hulle die mag ervaar? Ek weet nie. Wat ek wel weet is dat dit steeds Jesus is wat hierdie dinge doen en dat ons nie moet vaskyk in die dissipels nie. Ons fokus moet op die kaptein bly en nie op die fiets (hier is dit die mag) of die pad (in die geval die uitkomste, bv genesings ens) nie. Alles gebeur in Jesus, vanuit Jesus, deur Jesus wat in ons werk. 3. Gee vrede. Hulle moet die mense by wie hulle tuisgaan vrede toe bid. Wat word bedoel met die as die gesindheid van die mense goed is ...? Net dit. As hulle ontvanklik is vir die boodskap: die koninkryk van die hemel het naby gekom. As hulle nie ontvanklik is nie, trek jou vrede terug en beweeg aan. Die vrede gee en terug trek is ‘n ou Joodse siening. ‘n Vrede wens, soos hierdie, is gesien as om ‘n amper lewe van sy eie te hê. Of dit doen wat dit bedoel is, of dit word waardeloos. As ek kyk na Galsiërs 5: 22 dan is vrede ‘n aspek van vrug van die Gees. Vrede is iets wat God in ons elkeen bewerk. Vrede is iets wat mense by ons beleef. En weer is dit iets wat God, as Kaptein, in terme van ons beeld, in ons bereik. As die mense julle nie ontvang nie en nie na julle luister nie, beweeg dan aan. Vir jou en my bly ook dit iets wat ons slegs doen onder die leiding van die Heilige Gees. Onthou asb die tandem fiets beeld. Ons is altyd net die tweede ryer. Nooit die kaptein nie. Mag God vir jou vrede gee. Mag Sy vrede op jou rus en in jou huis bly en mag Sy vrede toeneem in jou lewe. Gaan leef in vertroue op en in afhanklikheid van ons Here. Amen.