Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
JOSUA 5: 2 - 12 Vanoggend vier ons nagmaal. Ons vier dit te midde van groot uitdagings. Dit is vir my ‘n baie belangrike nagmaal. Ons weet net nie wat hierdie jaar gaan bring nie. Ekonomies. Gesondheid. Dit is ‘n groot berg wat voor ons staan. En ons het nodig om elkeen weer te hoor en te proe dat God ons lief het en met ons is. Vanoggend gaan oor ‘n herbevestiging van ons verhouding met die Here. Die generasie mense wat ons in hierdie deel van lees staan voor groot veranderinge aan hul wêreldjies. Die geslag mense wat in hierdie deel regstaan om die beloofde land, binne te gaan, staan voor ‘n geweldige uitdaging. Die land is baie anders as wat hulle gewoond was. Hulle het die grootste deel van hulle lewe in die woestyn groot geword. God het hulle daar manna gegee om te eet. Nou gaan die manna opraak en hulle sal nuwe maniere en eetgewoontes moet aanleer. Selfs dalk boere word, ploeg en plant, en nie meer nomades wees wat rondswerf nie. Die beloofde land, die nuwe toekoms vra dat hulle dit wat hulle ken agterlaat en aan beweeg. Nuwe dinge leer. Om te bly waar jy is, is om in die woestyn te bly. Jy kan probeer maar God gaan die manna stop en die kwartels ook. Hulle wat ‘n langpad saam met God gekom het in die woestyn, ontdek nou dat alles tussen hulle en God nie reg is nie. Moses het iets nagelaat. Hulle is nooit besny nie. Is dit ernstig? Vir God is dit ernstig. Ernstig genoeg om Moses se lewens-draadjie te wil afknip. Ja Moses was besig met wat God hom gesê het om te doen ... hy was op pad Egipte toe, na die Farao toe om te gaan praat. Maar ... Moses het nie die teken gedra wat sê hy behoort aan God nie. As dit nie vir sy vrou Sippora se vinnige denke en begrip was nie was dit verby met Moses. Sy het ‘n klipmes gegryp en Moses besny. En so ook met die volk. Voor hulle nie die verbond met God in orde gekry het nie, besny is, kon hulle nie ‘n nuwe toekoms met God ingaan nie. As jy nie aan God behoort nie dan het God geen verantwoordelikheid teenoor jou nie? As jy dink oor Jesus en die kruis en opstanding, dan besef jy dat Hy ons in die regte verhouding met God terug plaas. Lees maar weer byvoorbeeld Romeine 5. En hieruit vloei die doop en die nagmaal as tekens an die nuwe verbond. Ons doop nie mense oor nie. Maar die nagmaal is die gereelde herinnering van Wie God in ons lewens is en wil wees. Dit is maklik om te dink dit gaan oor ons. Israel kon gedink het God het hulle uit Egipte gered om hulle te bederf met ‘n nuwe land. ‘n Land wat oorloop van melk en heuning. Terwyl die waarheid is dat God hulle gered het sodat hulle naby aan Hom, met Hom kan leef. Dit is baie belangrik. Ons word gered sodat ons in ‘n liefdevollle verhouding met God kan leef. Toe Israel nie belangstel nie, toe verloor hulle die land nog voor hulle dit gekry het. Toe hulle die land uit eie krag in besit wou neem toe verloor hulle die oorlog en moes woestyn in vlug. Daar het hulle gebly tot al die volwassenes van toe dood is. Hier staan hulle kinders, nou redelik groot, voor die land: reg om in te trek. En hulle doen dinge reg. Hulle sit God eerste. Ek gaan so ‘n bietjie terug in tyd, na Eksodus. God sê in Eksodus 19:4: “Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het.” “… Na My toe …” God het hulle na Hom toe gebring. En Israel? Ek wonder of al wat Israel kon sien is ‘n eie land. Onafhanklikheid. Vryheid. Die nagmaal se tekens onderstreep die “na My toe.” Dit is soos ‘n kompas vir ons wat ons telkens wil help die pad terug vind na God. Koers hou met God saam. As ek dan weer kyk na die tekens van brood en wyn, dan kom die vraag op: Hoekom? Hoekom het Jesus ons kom red? Die antwoord bly “na My toe”. Om ons terug te bring tot by God. Om ons terug te sit in ‘n verhouding met God. Om dit moontlik te maak dat ons naby aan God kan leef met God as ons middelpunt, die EEN om Wie alles draai. In Sy teenwoordigheid. Covid 19 en so ook 2020 het my geleer daar is te veel van die wêreld se manier van dink en doen in ons. Ons raak moedeloos met die lewe. Moedeloos selfs met die Here. En dit net omdat ons dink die Here sorg nie vir ons soos ons dit wil hê nie. Hy laat swaarkry en probleme toe om ons te ry. Goed wat ons gedink het Hy moes wegkeer. Kyk hoe gaan dit in die land. As ek so redeneer dan gaan dit waarskynlik vir my meer oor die uitkomste ... die resultate ... as oor God wat dit gee. As ek Winston Churchill se bekende woorde kan verdraai: Ons dink net oor wat God vir ons kan doen en nie oor wat ons vir God moet leef nie. Vir Israel was die fokus die beloofde land. Selfs ons, ons kyk dit te maklik mis dat daar dae is wat ons meer belangstel in wat God vir ons kan doen en gee. Het jy al probeer om net God te geniet. Sy teenwoordigheid in gebed op te soek net vir die lekker daarvan. En nie om iets te kry of iets aan te meld nie? Josua se verhouding met God was iets positiefs om te beleef. Die Here het hom voorgesê en hy het getrou gedoen wat die Here sê. Selfs al is God se manier anders. 2 In dié tyd het die Here vir Josua gesê: “Maak vir jou klipmesse en besny die Israeliete. Daar moet weer 'n besnydenis wees.” God begin by verhoudings. Spesifiek die volk se verhouding met Hom. Op die vooraand, as ek dit so mag uitdruk, net na hulle droog voets deur die Jordaan getrek het, voete geplant in die beloofde land, gee God eers aan hulle die teken wat sê daar is ‘n verhouding tussen hulle en God. Eers wys Hy weereens waartoe Hy instaat is, en dan kom Hy met die teken van die verbond. God gee eers en vra dan. Vergeet die land. Vergeet die oorlog wat wag. Dis nie so belangrik nie. Wat belangrik is, is die verhouding met God. Dit moet kern gesond wees. Sonder ‘n verhouding met God gaan niks buitengewoon gebeur nie. Om die waarheid te sê: Die laaste keer wat Israel die land met geweld en sonder God wou inval het hulle hulle rieme styf geloop. Sleg verloor. (Deutr 1:41-46) Nou sê die Here: Kry eers die basiese dinge reg. Kom ons kry die verhouding met mekaar reg dan sal die resultate volg. Is dit nie wat ons moet doen nie? Laat die jaar eers so ‘n bietjie wag. Kry eers jou verhouding met God reg. Soos God dit wil hê. Kom ons maak God weer die absolute middelpunt van ons lewens. Kom ons laat weer alles om Hom draai. Sy koninkryk wat moet kom, Sy wil wat moet gebeur ook hier op aarde. En nie in die eerste plek my gemak en my lewe wat goed en glad moet loop nie. En tog, te midde van alles sien God steeds na al ons behoeftes om. Kom ek draai dinge om: Die land is nie voor 'n kruispad nie. Ek en jy is. ‘n Kruispad waarin ons opnuut vir God kies. Vir God se wil. Sy koninkryk. Ek weet nie wat die jaar inhou nie. Alles wat ek hoor en lees voorspel nog ‘n moeilike jaar. Maar lees weer van Jericho. Sien weer raak: Die Here gee die deurbraak. Nie die swaard of “skill’s” van mense nie. God laat die mure van Jerigo tuimel en die Israeliete kan die stad binneval. God gee die deurbraak vir verbondsmense. Mense wat die teken dra dat hulle in ‘n verhouding met Hom leef. Mense wat opkyk na God vir hulle daaglikse brood en benodighede. Jy kan vandag kies om op eie krag die lewe te leef. Sonder God. Dit kan nogal heel goed met jou gaan. Maar in elke mense se lewe kom ‘n dag wat jy voor ‘n te hoë muur te staan kom. Dat jy so uit jou diepte is dat jou hele lewe in duie stort en wat dan? Daar word gesê dat Israel met groot hoop en verwagting deur die Jordaan getrek het tot hulle in die vlakte voor Jerigo gekom het, die mure gesien het en besef die pad na die beloofde land loop deur die stad. Net … die mure is bietjie hoog en dik. Ek moet hulle krediet gee. Anders as hulle pa’s en ma’s het hulle nie weg gedeins en gesê: Ons sal nooit die land kan inneem die mense is te groot, reuse nogal en, en, en nie. Hulle kies God se pad. Hulle laat God hulle op nuut verbind aan Hom. En hulle vier die pasga. M.a.w. hulle hou nagmaal. Mag vanoggend se nagmaal jou hierin help. In jou eie intog, jou eie Jricho wat moet val. Eers God. Dan ... Amen.