Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Genesis 18: 16 – 33 Kom ons praat oor ons rol in ander se lewe. Oor dit wat God van ons verwag. As kind was ek in die koshuis. Die hoërskool was net te ver om elke dag in te ry. So in die koshuis doen jy maar jou ding. Jou ouers was dalk net ‘n plaaslyn oproep ver. Maar die afstand het gebly. Naweke het gehelp. Maar daar is nie teveel gepraat nie. Teveel dinge nog om te doen. En met sport saam en wasgoed wat gedoen moes word was die naweek maar bitter kort. ‘n Naweek, laat jou nie nader aan jou ouers voel nie. Verstaan my mooi. Jy is steeds hulle kind. En julle is steeds lief vir mekaar. Maar daar is net teveel goed wat in ‘n week gebeur wat afstand skep. Goed verander mos. En die afstand bring verwydering ... bring selfstandigheid en selfstandigheid vat elkeen in sy eie rigting in. Vakansies was anders. Veral die lang Desember vakansies. Dan doen jy saam met pa dinge. Werk saam op die lande. Ry in die veld. Sekere werkies het vir die vakansie jou verantwoordelikheid geword. En dan moes jy soms ook maar hoor dat pa sê ... maar dis nie hoe ek jou dit geleer het nie. Dit is niehoe ons dinge doen nie. Of hoe ons die werkers hanteer nie. Doen dit reg. En in die aande gesels julle. Word daar produkte weg gery mark toe, dan kon jy saam ry. En so in die nagtelike ure in die motor ... dan was dinge anders. Dan het jou pa oor dinge gepraat wat jy nie normaalweg sou hoor nie. Dieper dinge. Jy het gevoel hy neem jou in sy vertroue. 1. Ek is God se kind, saam met Hom op Sy grond. Vandag woon ons almal op ons Vader se grond. Ons is almal Sy aangenome kinders. Ons leer nog om aan te pas in ons nuwe huisgesin. God leer ons hoe dinge gedoen word in Sy huis, in Sy koninkryk. En ons werk saam met God op Sy lande. Elke dag leef ons met God saam soos die kind in my verhaal se Desembers was. Christenwees is soos om met ‘n liefdevolle Pa op reis te wees. Saam dinge te doen. Gedagtes te deel. Lief te hê. Saam uitdagings en probleme te hanteer. En die heeltyd by ons Vader te kan leer. So ontdek jy dat God nie die kwaai Een is wat net veroordeel en raas en ontevrede is met ons nie. Hy is ons liefdevolle Vader wat wil sien hoe ons groei. Daar is nog iets wat ons ontdek as ons saam met ons Vader besig is: Niks is vir Hom onmoontlik is nie. 18: 14 “Is iets te buitengewoon vir die Here?” Een van die lekkertes van saam met die Here lewe, is juis hierdie vers. Jy ontdek dat by die Here is niks onmoontlik nie. Jy word ook verras deur hoe God anders dink, anders is as wat ons as mense is. En jy besef, die voorreg wat ons het. Die Almagtige God, kies om ons Vader te wees. Ek bly stom verwonderd oor die voorreg wat ons het. God hoef nie dit te doen nie. God kon net eise stel en bevele gee en ons dan van ‘n hoogte af dop hou. Maar Hy kies om saam met ons deur ons lewens te reis. Hy kies om langs ons te wees in elke dag se dinge. En Hy kies selfs om ons te ken in sake. Om dinge met ons te deel. Hier in Genesis 18 het die Here, Sy kind Abraham, kom besoek. In die vertelling is dit drie mans wat kom kuier. En dan ontdek jy dat een van die drie, die Here is. Hy het vir Abraham kom herinner aan die kindjie wat kom. Dat dit nog binne die volgende jaar sou gebeur. En as die mans opstaan om verder te reis, dan stap Abraham so ‘n entjie saam met hulle. Hulle het afgekyk in die rigting van Sodom en toe dink die Here: “.... sal Ek vir Abraham wegsteek wat Ek wil doen? 18 Abraham sal tog 'n groot en sterk nasie word en in hom sal al die nasies van die aarde geseën word. 19 Ek het hom gekies dat hy sy kinders en sy nageslag kan beveel om op my pad te bly deur te doen wat goed en reg is, sodat Ek vir Abraham kan doen wat Ek hom beloof het. Opmerklik die “sodat” in vers 19. En in vers 18 die visie dat God in Abraham al die nasies van die aarde sal seen. Kom ons fokus net op wat hier gebeur. God neem Abraham in Sy vertroue. Hy deel Sy plan met hom. Hy is oppad na Sodom en Gomorra om te gaan kyk of hulle so sleg is soos al die klagtes teen hulle aandui. Hulle sonde was baie groot! God steek dit nie van Abraham af weg nie. Hy laat Abraham iets sien hoe Hy voel oor sonde ... wat die uiteinde van sonde is. 2. Die Here neem ons in Sy vertroue. Die mans het weg gedraai Sodom toe maar die Here het by Abraham bly staan. Dit is asof Hy gewag het om te hoor of Abraham iets sal wil sê. Dis asof die Here wag om te sien Abraham gaan reageer op die nuus ... of Abraham groei gaan wys. Abraham is tog die man wat tot seen van ander moet wees. En dan waag Abraham dit. Hy redeneer met God. Abraham tree by God in vir die mense van Sodom en Gomorra. Want sê nou net daar is 50 regverdige mense in daardie stad. Die Here sê dan sal Hy die stad spaar. Dan dink Abraham ... dit gaan darem rof daar ... sê nou net daar is net vyf minder as vyftig, dan is die hele stad weg en die 45 regverdiges ook. Jy kan sien Abraham weet met Wie hy te doen het. Dat hy baie waag. Hy sê “Ek is maar net stof en as, en tog het ek gewaag om met die Here te praat. Sê nou die regverdiges is vyf minder as vyftig: sal U die hele stad vir vyf verdelg?” (vers 27, 28) Die pad saam geloop daar van Haran af, die Here se genade aan hom toe hy gejok het oor sy vrou, maak dat hy naby genoeg voel, veilig genoeg voel, om te waag om met die Almagtige te redeneer. Om die Almagtige op te neem op iets wat hy by die Almagtige geleer het: Genade. So op ‘n syspoor: Sien jy dat die Here soms ‘n oordeel sou kon uitstel oor die regverdiges wat daar is? Dat opregte gelowiges help keer, moontlik, dat God nie hierdie aarde summier vernietig soos die mense verdien nie? Jy ken die verhaal. Hoekom het Abraham gestop by 10 gelowiges? Geleerdes wys uit dat ‘n plek ‘n sinagoge kon hê as daar ten minste 10 gelowiges is. In ons taal as daar genoeg is vir ‘n gemeente van God. “Toe die Here klaar met Abraham gepraat het, het Hy weggegaan, en Abraham het na sy plek toe teruggegaan.” (Vers 33). 3. Die Here kyk, is ons tot seën? As jy hierdie deel terugsit teen die agtergrond van die Abraham verhaal dan maak iets skielik sin. Kom ek help ons: Wat moes Abraham gaan wees vir die nasies? (Gen 12) Genesis 18: 1 Die Here het vir Abram gesê: “Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys. 2 Ek sal jou 'n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou 'n man van groot betekenis maak, en jy moet tot 'n seën wees. 3 Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.” Abraham moes tot ‘n seën wees. Hy moes trek en hy moes tot ‘n seën wees. Hoe sou dit in die praktyk daar uitsien? Die vraag is nie of Sodom en Gomorra dit verdien nie. Of die mense om ons verdien om geseen te word nie. Die vraag is was ek tot seën van hulle? ‘n Mens vra jou self af, of die verhaal nie juis so opgeteken is dat ek en jy moet besef dat God in die daaglikse gang van ons lewens, kyk, of ons gesnap het wat Hy van ons verwag. Soos God gekyk het of Abraham die tot seën wees ding verstaan het en of hy dit al sy eie gemaak het ... of God nie soms ‘n situasie “met ons deel” ... eintlik voor ons laat afspeel ... om te sien of ons groei in die liefde. Of ons tot seën is. God het meer as die reg om te kyk. God het die reg om te verwag dat ons anders sal optree as die res van die gemeenskap. Nee, nie hooghartig eenkant nie. Maar soos Hy in Jesus is... alles prysgegee, om te dien, voete te was, en werklik lief te hê. Om soos Hy sondaars en uitgestotenes se lewens te raak. So lief dat Hy Sy lewe gegee het in ons plek. Sy lewe sodat ons mag lewe. Ons is die reg gegee om kinders van God genoem te word (Joh 1: 12). Ons is dit deur geloof. Aan neem kinders soos ons, leer tog om soos die huismense te doen en leef. Saam met die ander kinders ons nuwe Vader se Naam met trots hoog te hou deur in Sy spore te leef. Kom ek gaan terug na my storie daar in die begin. My pa is oorlede in 2004. Ek wens ek het meer tyd saam met hom kon deur bring op die lande. En nog laat aand gesels kon hê. Vakansies was nie genoeg om altyd die afstand te oorbrug nie. Moet dit nie tussen jou en God so laat wees nie. Moenie ‘n koshuiskind in God se huis probeer wees nie. Gryp die kans. Leef uit die huis uit met God saam en doen soos ons Vader vir ons gee om te wees. Gaan wees tot ‘n seën. Soos die Here ons lief het en ons seen moet ons mekaar liefhê en tot seën wees.