Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Romeine 5 Paulus skryf so mooi in Romeine 5: Daar is nou vrede tussen God en ons. Maw God is nie meer kwaad vir ons nie. Als is nou okay tussen God en ons. Hoe het dit gebeur? Het ons onder 4 oë God gespreek en die dinge uit gepraat? Nee. Jesus het die straf op ons sondes gedra. Hy het God in ons plek “ge-face”. Sy dood en opstanding in ons plek, maak dinge tussen God en ons reg. Daar is nou vrede tussen God en ons. Wat is jou nalatenskap? Ek praat nie van as jy weggaan of die familie ry na die vakansiedae nie. Ek praat oor jou hele lewe gesien. Watter geskenk – blywende geskenk – laat jy jou kinders, familie, vriende en kollegas na sou jy vandag sterf? Op 'n ander vlak kon ek nie anders om in lyn met die tekste myself af te vra: Het ek God se droom vir my lewe verwesentlik? Ek vra my dit want as ek Jesus se lewensverhaal bekyk dan sien ek 'n raam daarom. Dit begin met die groot getal engele se vredes aankondiging. Dit eindig in Johannes evangelie met 'n geskenk van vrede. “Vrede vir julle.” Daar gee Jesus sy vrede vir twyfelaars en mense wat Hom in die steek gelaat het en nou bang wegkruip agter geslote deure. Punt is: God se toesegging van vrede aan ons as mense het Jesus voltooi / volbring in en deur Sy lewe. “Vrede vir julle.” Dis Jesus se geskenk aan ons. God plaas 'n raam van vrede om Sy eniggebore Kind se lewe. Jesus se vrede kom met 'n spesifieke geur en kleur na ons. Maria sal dalk onthou die reuk van die stal, die strooi in die krip se tekstuur en reuk. Die skaapwagters sou dalk die glans van heerlikheid onthou. So het Jesus se vrede 'n eie unieke geur. Dis deurdrenk van die geskreeu en haat om Sy kruis waar die Fariseers Hom beledig het. En Hy geantwoord het met “Vader vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie ...” Die geur van Sy vrede is die geur van vergifnis. God wat ons vergewe. Jesus wat Sy vyande vergewe. Ons wat mekaar vergewe soos Jesus ons vergewe het. In Joh 20 as Hy vir die dissipels sê: “Vrede vir julle” dan wys Hy daarna vir hulle Sy sy en deurboorde hande en sê dan weer: “Vrede vir julle.” Jy kan nie Sy vrede losmaak van Sy liefde nie. Johannes skryf want so lief het God die wêreld gehad dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het ...” En Lukas skryf met die aankondiging van die Seun van God se geboorte as mens, het die Engele kom uitroep: … vrede op aarde vir die mense in wie Hy 'n welbehae het ..” Die vrede vloei uit die aankondiging die Verlosser is gebore – Christus die Here. En in Johannes kom gee die Verlosser na Sy oorwinning oor die dood Sy vrede aan Sy volgelinge. So het Jesus God se ideaal vir Hom as mens verwesentlik. Kan ons dieselfde sê? Ek het God se droom vir my verwesentlik? God se geskenk aan jou is Sy vrede. Daar is nou vrede tussen God en jou (Rom 5:1) omdat God kies om jou in Christus te vergewe al die seerkry wat jy Hom aandoen. Maar Hy gee Sy vrede ook dat jy dit kan gaan uitleef – uitstraal – soos Sy Seun Jesus dit self gedoen het. Dalk wil jy nou ook uitroep! Dis makliker gesê as gedoen. Kyk ons wêreld. Hiers nie vrede nie. Net vrees. Vrees vir misdaad. Mense wat getraumatiseer is oor wat met hulle families gebeur het. Lukas skryf van die wêreld waar Jesus in gebore is as baie dieselfde: Vrees en haat vir die Romeine. Oorheers deur 'n vreemde volk met vreemde wette. Rond gestoot met sensus tellings. En in Mattheus lees ons hoe Herodus kinders vermoor omdat hy die Kindjie vrees. Kersfees was nog nooit romanties nie. Dit was nog nooit hierdie vreemde wêreld los van die werklikheid nie. U weet mos, skielik rondom kersfees is mense aansienlik “nicer” met mekaar. Meer geduldig. Meer vrede? En dan met nuwe jaar breek iets weer los en die geskarrel en ongeduld en disrespek en … onvrede begin van voor af oor. So in die vakansie hou ek mense dop wat geskenke koop en ek wonder wat sal mens vir die groot liefde in jou lewe gee – vir God gee? As ouer weet ek die grootste gekenk is as jou kinders in vrede met mekaar leef. En dat jy dit kan hoor en sien in hoe hul met mekaar praat en opofferings vir mekaar doen. In die onderlinge respek; die daar wees vir mekaar. En ek wonder: Is dit nie die geskenk wat God die graagste van ons sou wou ontvang nie? Dat ons in vrede met mekaar leef? Dat ons so leef dat daar rus, kalmte, harmonie en gemoedsrus tussen ons kan wees.(Dis die definisie van vrede) Ek meen dis so in lyn met die engele se aankondiging, Jesus se lewe en sterwe en opstanding, en Sy vredesaankondiging. Maar die vrede wat ons gee – kom ons maak dit Sy vrede. Sy soort – sy “Brand” van vrede” wat ons teenoor alle mense uitleef. 'n Vrede wat soos Syne drup van liefde en vergifnis. Wil u dit nie vandag u geskenk aan God maak … deur te onderneem om doelbewus en deurlopend elke dag daaraan te werk om al God se kinders met respek en deernis, met liefde en vergifnis te hanteer. Maw met Sy vrede. Ons is tog kinders van Sy vrede. Vrede-mense. Nie net in die kersgety nie … maar elke dag … mense wat vrede leef.