Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
As God jou lewe aanraak, dan kan jy nie anders as om te sing nie. Dis wat met Maria gebeur het. Die engel het haar klaar gesê sy sal geboorte skenk aan 'n Kind en hierdie Kindjie is die Messias. Maar soms wonders mens oor dinge. Dink jy dalk dis te goed om waar te wees. Of, dit kan nie met my gebeur nie. Maar toe Elizabeth haar groet met: “Jy is bo alle vroue deur God geseën, en jou kind is geseënd. Wat 'n eer is dit dat die ma van my Here my besoek. Toe jy ingekom het en my gegroet het, het my kindjie van vreugde beweeg die oomblik toe ek jou stem hoor. Toe weet sy. Sy hoef nie meer te wonder nie. Dit is soos God gesê het. Die Here is ongelooflik. Maria praat en die ongebore Johannes die Doper weet hy is in die teenwoordigheid van die Messias. Die gedagte oorweldig my. Maar dit sê ook vir my: As jy jou Verlosser – die Verlosser van die mensdom ontmoet – dan kan jy nie stilbly nie. Jy wil uitbreek in sang. Jy moet reageer. En ja party reageer met haat en uitroepe van “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” Maar vir Maria was dit 'n loflied. 'n Pryslied wat hier diep uit haar bekommerde hart deurbreek. Ongetroud, Swanger. Gaan Josef my wegjaag? Wat gaan die mense sê? Het ek die engel reg verstaan? Maar dis onmoontlik. Hoekom ek? En deur dit alles breek die pryslied aan God. Iemand het gesê: Dis soos die solo in 'n opera wat die groot tema van die hele opera dra. Net hierdie is nie 'n tragiese opera nie maar 'n blyspel. Dit gaan oor die beste nuus wat die aarde nog bereik het. Sy sing van God se omgee – van Sy deernis en liefde en hoe God die wêreld nuut maak. Dis asof sy saamvat al die liedere en al die hoop van Abraham tot by haar tyd. (Bv Psalm 82) Maria se lied kom sê hoe God se “hart” klop. Dit vertel van hoe Hy klein mensies raaksien en groot dinge in hul lewens doen. Dis haar persoonlike getuienis: Sy sing van die wonderwerk van God in haar lewe. Kyk, sê Maria, Hy het my uitgekies. Wie is ek dat Hy dit sou doen. Ek is dan niks. En ek dink ons moet net op nuut weer hoor: “God gee om! Hy gee om! Hy ontferm Hom! Hy verander die lot van mense ten goede!” Eintlik doen God niks vreemds nie. Dis hoe Hy nog altyd is. Getrou aan Homself as die God van ontferming, kies Hy een uit die “geringes” as moeder vir die Messias, sy Seun en ons Verlosser. Hoe word ’n mens deel van hierdie blyspel? Dit is tog immers waarom Lukas sy evangelie geskryf het en die doel van hierdie preek – sodat almal wat dit hoor sal opstaan en saam sing! Die saamsing begin in die hart. Dit borrel uit as jy besef hoe lief God jou het. En dit bruis al sterker as jy besef dat Hy jou in jou geringheid raaksien en versorg. Persoonlik is dit vir my die kosbaarste besef, die besef dat God altyd by elkeen van ons is. Dat Hy alles, elke oomblik van my lewe met my deel. Kom ek verduidelik: Sê my, het jy al ‘n kleutertjie se gesiggie sien straal as Oupa en Ouma haar konsert bywoon? As hulle haar oomblik kom deel met haar. Wel, ek en jy is daardie kleuter en daardie oomblik is elke oomblik, en God deel dit met ons. Dit is kosbaar. Groots. Maar dit bly nie net by sing nie. 'n Bly-“spel” het ook beweging en aksies wat uitgevoer word. Soos Maria moet die sing opgevolg word met 'n totale oorgawe aan God. Nadat die engel vir haar gesê het wat God beplan, sê sy: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het” (Luk 1:38). En so gee sy haar lewe .... sonder voorbehoud ... vir God. En vir die res van haar lewe wy sy haar daaraan toe om die Messias te ontvang en te aanbid. Iemand het gesê: Sy gee nie net haar biologiese potensiaal vir God – soos ’n surrogaat ma – nie. Sy sê: “Ek is tot beskikking van die Here.” En die woordjie “ek” beteken “alles”! Maria is in die Lukas evangelie dié voorbeeld van hoe mens die Messias behoort te verwelkom. Dis my gebed vanoggend dat die Here so aan elkeen van ons sal verskyn dat ons van hier af nie net nie net sal sing nie, maar so aangegryp sal word ... dat ons onsself sal oorgee aan God. Dat elkeen van ons in ons harte of hardop sal uitroep: Ek is tot beskikking van die Here. En mag ons in die nuwe jaar sien hoe jy tot beskikking van die Here is in die verskil wat jy maak, in jou bereidheid om op die kerkraad te dien, by die bidure te wees en by jou werk , tydverdryf, orals, ‘n getuie te wees van wat God in jou lewe doen.