Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
MARKUS 6: 30 - 44 Ek het hier ‘n spotprent karakter. Kan u die persone herken? My kinders reken dis nie baie goed gedoen nie. Hulle herken veral nie hulle ma nie. Ek verkwalik nie die kunstenaar nie. Hy ken ons glad nie en dis in ‘n kwessie van ‘n paar minute gedoen. So dis eintlik heel goed. Maar dit wat my terug na ‘n ander kunstenaar se poging. Een van die studente van die kunstenaar Gustave Doré het eendag aan hom ’n skildery van Jesus gegee. Die student het dit self geskilder. Hy het Doré gevra om kommentaar daarop te lewer. Uiteindelik het Doré dit aan die student teruggegee met die woorde: “If you loved Him more, you would have painted Him better.” Gegewe, dat ons Jesus moet uitbeeld in ons gemeenskap, moet ek vanoggend vra: Hoe goed ken jy Jesus? Ken jy Sy hart en ken jy Sy manier van doen? Want so baie keer leef ons met die stories wat ons ouers ons vertel het. Ken ons Jesus net deur die oë van ander. Of selfs net deur die oë van die evangelieskrywers. Al manier hoe jy Jesus beter sal kan uitleef – Hom beter kan volg – is om Hom meer lief te hê. En jy sal Hom meer liefhê as jy meer tyd saam met Hom deurbring. En dis net waar ons dikwels uit die bus val. Ons is te besig. Kan nie nou nie ek is onder groot druk by die werk. Of … moet net gou dit doen of dat … dan sal ek stil word. Die gevolg is ons word moeg, selfs lewensmoeg, ons verarm innerlik … en ons lewens vertoon nie die krag van God nie. En al wat jy sien as jy in ons rigting kyk is onsself … niks van Christus … geen lig net nog 'n mens wat voortsukkel. In hierdie deel het ons te doen met die hart van Jesus. Hy gee om. Hy gee om vir sy dissipels en wil hê hulle moet bietjie rus. Hy kyk na die skare en kry hulle innig jammer. Los alles en gaan leer hulle van God. Hy wil hulle nie terug stuur vir kos nie. Hy sê vir die dissipels om hulle kos te gee. Maar hulle kan nie. Somme gedoen en besef ons sou graag julle wou help maar ons het net nie die middele nie. Logies. Dit vat nie 'n Einstein om dit te bereken nie. Ek wonder of hulle anders sou gereageer het as hulle stil geword het voor God. As ek kyk na Jesus dan sien ek hierdie ritme in Sy lewe: Hy spandeer tyd by God en gaan dan na die mense en dan onttrek Hy hom weer van die mense om tyd by God deur te bring. Markus vertel in hoofstuk 1: 35 dat Jesus die more vroeg opgestaan het, toe dit nog was, het Jesus opgestaan en buitentoe gegaan na ‘n eensame plek en daar gebid. En toe is Hy weer na al die plekkies en dorpies om te gaan preek. En na die eerste vermeerdering van die brood het Hy ook eenkant toe gegaan om te gaan bid. En toe op die see geloop. As die mense Hom met geweld wil koning (Joh 6:15) maak dan onttrek Hy homself terug na 'n stilplek. Voor Hy sy dissipels kies, voor die verheerliking op die berg, voor die kruis – kry jy Jesus keer op keer besig om stil te word by God. En nee, nie elke keer wat Hy gaan bid het is opgeteken nie. Maar ons ontdek Hom besig om te bid voor Hy dissipels kies, voor die verheerliking op die berg, voor die kruis. Die dat Hy kon sê Ek het net gedoen en gese wat ek by die Vader gesien en gehoor het. En ek dink terug aan die kunstenaar met sy prent: En ek besef Jesus kon die Vader uitbeeld want Hy het Hom liefgehad en geken. En die dissipels kon Jesus se verhaal vertel want hulle het elke dag met Hom geleef. Hulle het Hom persoonlik geken. Ons staan voor groot uitdagings. Die grootste is om Jesus werklik te ken. Om tyd te maak om saam met Jesus deur ons lewe te stap. Daar is ander uitdagings ook: en as ons Jesus se hart leer ken dan word dit iets waaroor ook ons iets moet doen. Soos die armmoede in hierdie land. Ons eie mense verarm. Ons kyk om ons en sien ons eie honger skares: werkloses en pensioenarisse wat se sente te min raak. Ons wil die evangelie uitdra maar jy wonder hoe sal ek ooit dit kan doen … ! Nog ‘n uitdaging is om ‘n getuie van Jesus te wees. Soos Jesus ‘n getuie van God op aarde was. Maar ons voel ons kan nie ... Maar ons kyk verkeerd. Ons luister nie! Alles begin by God en alles gaan by God eindig. Kom in die ritme van met God tyd spandeer en eers dan kyk jy na die berg wat jy moet uitklim of verskuif. Hoe sou jy die skare honger mense kos gegee het? Jesus het dit gedoen deur die bietjie wat daar was te neem en God daarvoor te dank en toe dit laat uitdeel en daar was meer as genoeg. En Hy kon dit doen want in Sy ritme van stilword en dan werk en dan weer stilword voor Hy verder werk het Hy waarskynlik by God gehoor dat God die dag die brood sou vermeerder. Hoe leer mens iemand ken? Deur tyd met hulle te spandeer. Hoe gaan ek Jesus beter leer ken en nog meer lief hê? Deur tyd met Hom te spandeer. Hoe gaan ek daardie vrede beleef? Of hoe gaan ek lig vir die wêreld kan wees? Deur meer tyd met die Here te spandeer. Iemand het gese daar kan niks om jou gebeur wat nie eers in jou gebeur nie. Maar jy gaan moet tyd maak vir Hom. Wat ons hier in hierdie teks gedeelte sien, is wat ons kan noem die ritme van Christelike lewe. Die Christelike lewe het sy eie ritme. Dit is ’n ritme van stilraak by God en dan weer uitbeweeg tussen mense in ... Dit is soos die ritme van slaap en werk. Ons kan nie goed werk as ons nie genoeg slaap nie en ons kan nie slaap tensy ons nie genoeg gewerk het sodat ons moeg is en slaap nodig het nie! Ons moet ’n balans kry in hierdie ritme van die Christelike lewe... tussen mense en God! Albert Schweitzer was reg toe hy gesê het as die siel nie rus neem nie, word dit ’n weeskind. Om stil te word by God, beteken ons gee ons volle aandag aan God - almal van ons, ongeag ons ouderdom, het dit nodig - dit hou jou totale menswees gesond! Vance Havner het weer dikwels gesê: “If we don't come apart, we'll come apart!” Jesus sê kom weg van die skares, vind ’n stil plek en rus. As jy dalk nog dink dis nie vir jou nie, dink dan weer. Watter een van die 2 illustrasies sal die langste aanhou. Die een wat die heeltyd die gewig in die lug moet hou of die een wat dit elke dan en wan kan neer sit en 'n oomblik rus? Kan jy bekostig om nie in Christus tot rus te kom nie? Hiers 'n voorstel: Wie drink nie koffie nie? Wie maak nie elke oggend koffie en sit en drink dit nie. Vat nou daardie tydjie en daardie koffie en gaan dring dit saam met die Here. Jy maak jou lekker koppie koffie en jy gaan sit daarmee en drink dit by die Here. Jy dink nie ander dinge nie. Jy praat met die Here terwyl jy jou koffie drink. Jy en Hy drink saam koffie. Maak dit jou begin punt. Later sal jy dit wil uitbou en jy sal die verskil in jou lewe begin opmerk. As jy net 5 minute het, stel jou foon se timer. En gaan sit by God tot die timer afgaan. Moenie dink nie. Luister net. As jou gedagtes begin loop, bring dit rustig terug na God, na die besef, ek sit by God. Luister. Ek gaan nou begin stilbly dat u kan huis toe gaan en gaan koffie maak. Kom ons bid.