Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 9: 35 – 10: 5 Elke mens wat ‘n besigheid begin, begin dit met iets in oog. Niemand begin ‘n besigheid om net ‘n plek te hê om te gaan werk nie. Dit gaan oor wins. Vrugte te pluk op jou harde werk. Netso op ‘n plaas. Oestyd is altyd iets positiefs op ‘n plaas. Oestyd is die rede hoekom ‘n boer lande bewerk, ploeg, plant en versorg. Elke boer hoop op ‘n goeie oesdag. Elke boer weet ook dat jy die mooiste oes op die land kan hê, en steeds met niks op oesdag kan opeindig nie. My eie pa het ‘n oes een kersdag verloor, in die bosveld, doodgebrand deur swartryp. Vir ander was dit hael. Veldbrande. Droogte. 1. Om te oes is ‘n voorreg. As jy dan die kans kry om te oes is jy intens dankbaar. Ek wil dit weer sê: Die rede hoekom ‘n boer plant is om te oes. Elke aksie draai uiteindelik om hierdie een groot geleentheid: om te kan oes. Die rede hoekom God mense geskep het is om ons in te bring na Hom. Om in die tuin met Hom te wandel soos in Genesis. En toe kies die mens sonde. Eiewilligheid, beter weet as God. Wil self soos god wees en dalk selfs ook god wees. En die mens verloor sy voorreg om met God in die tuin te stap. En toe kom moord. En al die ander euwels. En tog, soos ‘n goeie boer, bly God werk na die oesdag toe. Laat Hy hom nie onder kry nie. God sal op Sy oesdag ‘n oes hê om in te bring. En baie kaf om te verbrand. Die vraag is net of ek en jy deel van die oes gaan wees of deel van die kaf. In lyn met wat ons gelees het is die vraag of ek en jy gaan deel hê aan die inbring van God se oes. Dalk as saaier, of op ‘n ander manier meegewerk. Gaan ons deel wees? Ek wonder soms hoekom het die kerk van oestyd iets swaars gemaak. Iets waarteen ons opsien. Hoekom dink ons dat werk vir die Here is hoogs gespesialiseerd of swaar om te doen? Of hoekom los ons dit so maklik vir ‘n ander om dit te doen? 2. Oestyd is alle hande aan boord Oestyd op ‘n plaas is alle hande aan boord. Almal wat kan spring in. Oesdag dra vreugde in dit saam. Kom ek vat jou na daardie oomblik toe Jesus Sy dissipels geroep het, volgens Matteus 10. In 9:26 is daar ‘n menigte. Ek aanvaar hulle is almal nog daar as Jesus begin mense uitroep. Het jy al op skool gestaan en spanne word gekies en jy begin ‘n kol in jou maag kry dat jy nie gekies gaan word nie? Of die onderwyser wys twee kapteins aan en elkeen kry ‘n kans om iemand te kies tot die laaste persoon wat niemand wil hê oorbly? Onthou jy nog. En jou blydskap as jy gou gekies word? Okay. Jesus kies hier twaalf mense. Dink jy nie die ander hoeveel ookal, sit of staan daar met ‘n intense hoop om net te mag gekies word? Hierdie Rabbie, wat mense gesond maak, so kragtig mense leer oor God. Sou jy nie wou gekies word deur Hom nie? Hierdie 12 word uitgestuur as deel van hulle indiens opleiding. En so het die Here ander ook gestuur en na Pinksterdag is elke gelowige ‘n gestuurde. En my droom, my visie vir Deneysville is juis dit: Dat dit wat God ons hier wys, dat elke lidmaat van hierdie gemeente, waar ookal hul mag wees, sal deel wees van God se oesdag. Sal deel in die werk om die oes in te bring. Dit is opwindend. Dit is ‘n geweldige voorreg om dit te mag doen. Ek moet wonder: Hoe het dit gekom dat ons van gestuur wees en van oes iets swaars gemaak het? Wat het geword van die voorreg wat God juis vir jou en my gee? Kom ons terug by die punt waar ons anders as Adam en Eva nie ons eie wil soek nie, nie ons eie ding wil doen nie, maar leef om in God se teenwoordigheid te mag wees. Waar ons vanuit God se Gees gaan en doen en leef met die oog op God se oes. 3. Die hoe van die oes. Hier is die oes waarskynlik die genesings en die leer van mens wat moeg en moedeloos geword het. Elders in die Bybel is die oes meestal die eindoordeel. Op daardie dag sal die engele God se oes inbring. Tot dan is dit die gelowiges se voorreg. Ons moet besef daar is nie tyd om te mors nie. ‘n Boer sê nie vir sy vrou, die oes is reg ons kan begin oes maar kom ons gaan net eers ‘n week of twee weg nie. Hy weet, as die oes reg is moet die oes ingebring word. Daar is ‘n dringendheid aan oes. Oes eis jou volle aandag op.Jy laat dit nie oorstaan nie. Dalk leef ons teveel met die oog op eendag en op die wederkoms. Jy moet egter self afvra: Hoekom sê Jesus dan bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur.? Want mense was toe reeds in nood. Mense was toe reeds moeg en hulpeloos. En vandag is daar steeds mense wat nie meer antwoorde het nie en net wil opgee. Hulle het God nodig. Hulle het nodig om God se liefde te ervaar. Hulle het mense soos jy nodig in wie die Heilige Gees woon wat deur jou wil doen wat Jesus gedoen het. Feit is die dissipels kon dit nie doen nie. Daarom is die eerste stuk voorbereiding gebed.Sien die nood raak soos Jesus dit sien en begin bid vir werkers. Verander jou denke en begin anders bid oor die land en die dorp en die kerk. Begin bid vir werkers. Die rede hoekom ek gelees het to by 10: 5 is om uit te wys dat van die mense vir wie Jesus gesê het om te bid, word in 10:5 uitgestuur om die werk te gaan doen. Wie bid is ‘n gestuurde. Dalk nie ander dorpe of plekke nie. Maar na jou bure en jou kinders en na jou vriende en na mense wat God op jou pad plaas. Ons kan nie meer die ou Suid-Afrikaanse tradisie handhaaf van om alles vir die kerkraad te los en ons sit by die huis en wag om besoek en bedien te word nie. Jy is ‘n geroepene. Begin bid. Begin gaan. Op’n plaas is dit ondenkbaar as almal nie inspring en dit maak werk nie. Veral as daar ‘n tekort aan werkers is. Jesus het vanuit gebed geleef. Markus wys dit keer op keer uit hoe Jesus eenkant alleen gaan bid het. Niks gebeur sonder gebed nie. Johannes 4: 35 “ Sê julle nie: ‘Nog vier maande, dan is die oes daar’ nie? Maar Ek sê vir julle: Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes. 36 Nou al ontvang die man wat oes, sy loon en samel hy die oes in vir die ewige lewe. So is die een wat saai, en die een wat oes, saam bly. 37 Hier is die gesegde waar: ‘Die een saai, en die ander een maai.’ 38 Ek het julle gestuur om 'n oes in te samel waaraan julle nie gearbei het nie. Ander het gearbei, en julle pluk die vrug van hulle arbeid.” Wat sê Jesus hier? 2 dinge. Kortliks. • Die oes is ryp. Kom ek sê dit anders. Die mense sê more is nog ‘n dag maar Ek sê vir julle die oes is ryp op die lande. Vir hoeveel jare, ek wou sê eeue en dalk is dit al ‘n eeu of twee het ons uitgestel en die werk vir ander gelos en nie die oes ingebring nie en wat ons nou in hierdie land sien is ‘n oes wat verlore gegaan het. Dalk is ons nie gestuur nie spesifiek na ander taalgroepe nie. Maar ons is geroep om tussen hulle God se liefde te lewe en om te gegee het. Maar ons gebrek aan selfverloëning, en ons kruis wat ons nog nie opgetel het en begin dra het nie, het gemaak dat mense uit kerkgeboue uitgestap het, stukkend oor aanmerkings en opmerkings en kyke en liefdeloosheid. In elk geval, dis hoe hulle dit beskryf. • Jesus praat van blydskap. Die wat saai en die wat die oes inbring is saam bly. So praat Jesus ook van loon. Ons samel die oes in vir die ewige lewe. Dit klink vir my al hoe meer na iets die moeite werd om mee besig te wees. Gebed leer my dat God my verander en nie altyd die een vir wie ek bid nie. Dalk is dit wat nou met jou en my moet gebeur? Dat ons gebede ons sal verander in gestuurdes. Ek wonder hoeveel keer het mense al vir my na 1 Kor 13 gewys en hul ontdekking gedeel dat jy eintlik jou eie naam kan skryf waar die woordjie liefde is. Bv Jou naam, jy, is geduldig. Jy hoe nie boek van die kwaad nie. Sou dit nie die oes help inbring het as ons so was nie? Bid en gaan wees lief vir die mense. Gaan kyk na hulle en na mekaar soos God na ons kyk. Sien raak dat hulle nes ons ten diepste weerlose skape is wat smag na God al weet sommige van hulle dit nog nie. Vergewe hulle soos God hulle vergewe en veral soos God jou vergewe het. Gaan gee hulle dieselfde geduld wat God met jou het. Luister na hulle soos God na jou elke woord luister. En soos die Here, sien hulle nood raak. En weet God sal jou gee wat jy nodig het om hulle te help. Wat ookal jy doen of nie doen nie, belowe my een ding: jy sal Jesus leef. Jy sal niks doen of sê wat Jesus se beeld skade aandoen nie. Want om dinge te doen of te sê wat nie Christus is nie, is soos swart ryp in die somer, soos hael wat alles platslaan.