Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 9: 35 – 38 Sy het die mense vermy want hulle het teveel oor haar gepraat. Sy, die een van vele mans. Sy was waarskynlik diep alleen. Jesus het haar raakgesien en haar nie laat gaan alvorens Hy haar nie heel gemaak het nie. (Samaritaanse vrou by die put). Ook sy was deel van die oes wat ingebring moes word. As ook die dorpie waarin sy gebly het. Daar was ander eenkant mense ook. Die melaatse man wat voor Jesus kom kniel het met ‘n: Here, as U wil, kan U my gesond maak.” En toe ontdek het, Jesus wou en Jesus het Hom gesond gemaak. Daar was ‘n ernstig siek slaaf. Twee mense in die mag van duiwels wat ‘n skrikbewind gevoer het op die Gadara pad. Dan praat ek nie eers van die verlamde man, die twee blindes en die stom man nie. En wat van die baie ander naamloses wie se stories nie eers opgeskryf is nie, waarvan Matteus net sê: Vers 35: “ 35 ... Hy het die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal gesond gemaak.” Hulle almal was al deel van die oes wat ingebring moes word. En Jesus stel die voorbeeld. En daar is die hartseer storie van Jairus se dogtertjie wat gesterf het. Sy was maar net 12 jaar oud. En die vrou wat al 12 jaar lank uitgestoot is oor sy aan bloedvloeing gely het en as onrein beskou is. Ook hulle het iets groots beleef in Jesus se teenwoordigheid: Genesing. En Jairus ontvang sy kind lewend terug. Is ook hulle dan nie deel van die oes wat ingebring moes word nie? God se oes. Niks van dit alles behoort vir ons vreemd te wees nie. 1. Immanuel. Die gemeenskaplike aan al hierdie mense se stories, is Jesus wat tussen hulle beweeg. En as jy weer en weer kyk na hul stories, dan sien jy God gee om vir gewone mense. Dis niks nuuts nie. Die Here se profeet, Jesaja, het dit al voorspel: “hulle sal Hom Immanuel noem.” Dit beteken heel eenvoudig “God by ons.” (Matteus 1: 23) Dit is hoe Jesus se aardse lewe aangekondig is: Immanuel: God by ons. En Jesus het dinge gedoen wat net God kan doen. Soos melaatses gesond gemaak en blindes laat sien en die skares met gesag geleer. In hierdie deel is Jesus weer tevind in die klein dorpies en klein plekkies om daar ‘n verskil te maak. Om ook vir hulle die goeie nuus te bring dat die koninkryk van die hemel het nou naby gekom. Ook hulle kan nou reeds in God se koninkryk kom leef. Dit tref my hoe Jesus keer op keer na die mense kyk en hulle inniglik jammer kry. Die beskrywing wat Matteus van die skare by daardie geleentheid gee (Matteus 9:36) is: 36 Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie 'n wagter het nie." En in Matteus 14: 14, 14 Toe Hy uit die skuit klim, het Hy die groot menigte mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en maak die siekes onder hulle gesond." En in Matteus 15:32 “Jesus het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Ek kry hierdie mense innig jammer, want hulle is nou al drie dae lank hier by My en hulle het niks om te eet nie. En Ek wil hulle ook nie sonder kos huis toe stuur nie, want hulle kan miskien op pad beswyk.” en in Matteus 20: 34 ook. “34 Jesus het hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. Dadelik kon hulle sien en het hulle Hom gevolg.” Ek hoop dat jy die hart van God hier hoor en sien. Word soos Jesus. 2. Die hart van God. Kom ons haak net vir ‘n oomblik vas by hierdie gedagte. Jesus het hulle innig jammer gekry want hulle was moeg en moedeloos soos skape wat nie ‘n wagter het nie. Ons fokus net vir eers op Jesus. Ons weet dat God wil hê ons moet gelykvormig word aan die beeld van Sy Seun (Rom 8: 29). En ons ken Paulus se woorde in Gal 4: dat Jesus al meer gestalte in ons moet verkry. Maw Jesus moet duideliker sigbaar word in ons elke dag se lewe. Mense moet na jou en my kyk en Jesus beleef. As jy dan weer kyk na vers 36, en dan kyk na wat ‘n mens al meer en meer sien: mense wat moeg en moedeloos is met misdaad, korrupsie en politici. Mense wat moeg is oor die eise van die werkplek, ander onreg. Mense wie se verhoudings en huwelike uitmekaar val. Hoe voel jy? Bid tot God dat ons harte soos Jesus se hart sal wees en dat ons na mense sal kyk met Jesus se oë en ingesteldheid. Dat ons sal liefhê. Dit is al gesê dat ons afgestomp geraak het oor al die geweld. Jesus se wêreld van destyds was niks beter. Korrupte politici. Herodus wat laat moor het. Romeinse oorheersings en belastings. Kyk Jesus se hart. Kyk ons harte. Hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie 'n wagter het nie. In die oorspronklike Grieks: eskulmenoi -- “distressed.” Volgens die woordeboek: ontsteld, onthuts, verontrus, met kommer gevul, beangst, in die nood gedompel. En crimmenoi: sonder rigting. Doelloos rondstrompel. Die hele prentjie is een van mense wat 'n breekpunt bereik het, genoeg gehad het. Mense wat met die lewe sukkel. Dis so tipies ook van ons, as die elektrisiteit styg, of jou medies, maar jou pensioen daal. As ons salaris gesny word oor Covid-19, of dit verloor het. En bo op dit al die politiekery waarvoor ons almal al keelvol is. Ek sien in die prentjie mense wat nie meer weet hoe met die lewe nie. Veral hierdie jaar het mense moeg. 2020 is ‘n seerkry jaar vir baie gewees. As jy een so een is, die antwoord vir ons moegheid is nie in ander werk, of om op pensioen te gaan, of in ander omstandighede nie. Die oplossing vir ons seer en vir ons gebreektheid is hier by ons. Nader aan ons as wat ons besef. Die antwoord is Jesus. Jesus in ons. Jesus hier by ons. Vir ons is dinge bietjie anders as vir die mense wat daardie dag deur Jeus geleer en genees is. Ons het die Heilige Gees ontvang. Ons leef in die era waar Jesus alles vul met sy teenwoordigheid. (Efes 4: 10). Ook vir jou en my vul. 3. God doen. Nou ... Jesus kyk na die menigte wat so moeg en moedeloos is, en Hy doen in effek 5 dinge: • Hy sê vir Sy dissipels: Bid!! Bid want die oes is groot maar daar is te min werkers. Bid dat die Here meer werkers sal gee om die werk gedoen te kan kry. Let tog op dat Hy hier iets baie belangriks oor die “oes” sê. Die oes, of as u wil, die skape, behoort aan God. Vra vir die Een aan Wie die oes behoort ... • Jesus gee hulle 'n visie. Hy wys hulle die nood. Dis nie die eerste keer wat Hy dit doen nie. In 4: 23 staan daar hoe Hy orals siekes gesond gemaak het en die mense die evangelie geleer het. In 9: 35 kon hulle weereens prakties sien hoe Hy die mense leer, die evangelie verkondig het en elke soort siekte en kwaal gesond gemaak het. • En dan roep Hy hulle. En Hy stuur hulle uit. As die Here wil sal ons volgende week oor die eerste en derde punt verder gaan. Ons sien nie net, dat die Here mense raaksien en innig jammer kry en vir ons omgee nie. Ons beleef nie net, dat Hy hier tussen ons is nie. Vandag steeds tussen ons, in ons is nie. Ons beleef Hy betrek ons by dit waarmee Hy besig is. En nie net om te bid nie. En ek weet dit laat sommiges, die meeste van ons, bleek om die kiewe. Hoor my net uit: Ek wil jou vra om oor ‘n ligstraal te dink. Moet die ligstraal die lig gaan soek? Nee. Dit kom dan uit die lig uit. Dit is ‘n ligstraal omdat die lig reeds in dit isDit is hoekom Jesus in die bergrede gesê het: Julle is die lig vir die wêreld. Nie moet wees nie. Reeds is. Julle is die lig vir die wêreld. Jesus in jou maak jou dit. Jesus teenwoordig by jou, Immanuel maak ons lig. In die evangelie is dit God wat in Sy wêreld in, na ons toe kom. En in hierdie deel sien ons Jesus wat uitreik na mense toe. Netso gaan soek ‘n loot nie die wingerdstok nie. Die wingerdstok is reeds daar en die loot kom uit die wingerdstok uit. Die loot is gegroei en krag en vorm kom uit die wingerdstok uit. In hierdie deel sien ons die ware Wingerdstok besig met Sy lote. Ons vertroue is daarom in die Here. Wat ons doen en leef moet vanuit ons Bron, Jesus, kom. Die klem is nie op ons nie. Die klem is op Hom Wie in ons bly. Ons is net ligstrale van die Lig. Ons is net lote waaraan die Wingerdstok Sy vrug vorm en dra. Kom wees dit.