Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Galasiers 3: 26 – 4: 7 Wat beteken jou doop vir jou? Mag ek jou ‘n bietjie dieper neem? Wat beteken dit vir jou dat God gekies het om jou te merk as Syne? Kom ek gebruik ‘n beeld wat ek hoop ons verder aan die dink sal sit. Die storie gaan oor hierdie man wat ‘n kaartjie ontvang vir ‘n reis op ‘n luukse passasierskip. Alles is betaal. Die kaartjie, en dus die reis ook, kos hom absoluut niks. Die man het dit nooit breed gehad in sy lewe nie. Dus het hy ook nie iets om af te knyp vir die bootreis nie. Hy neem toe maar bietjie kaas en nie verderfbare kos wat hy nog vir die maand oorgehad het saam vir die vaart. Toe hy op ‘n stadium nie meer die blikkieskos en ou kaas kon inwurg nie keer hy 'n kelner voor en vra vir vars brood. Toe moet hy ontdek: dit staan op die kaartjie alles ingesluit. Vier gang maaltye ook. Hy was nog altyd ingesluit in alles, hy het dit net nie besef nie. Die doop is jou uitnodiging tot ‘n lewe saam met God, in God en met God. En ons sit met die kaartjie maar ons bêre dit iewers in ‘n laai. Ons maak nie gebruik van die voorregte wat die kaartjie gee nie. Voorregte soos om na God toe te kom omdat God gekies het om ons Vader te wees. En ja ons het vrye toegang tot God (Hebreers 10) maar ons maak nie gebruik daarvan nie al kry ons ook hoe swaar. Ons het nie die vertroue om te besef dat God ons gekies het nie, nou bid ons maar met die hoop dat God dalk tog net ons sal hoor. Soos die man op die boot wat die kelner vra vir vars brood, hoop ons maar God sal iets ons kant toe gee. En dit, my liewe mens, is hoekom ek vanoggend vra: Wat beteken jou doop vir jou? Wat maak jou kaartjie alles vir jou oop? As jy begin besef wat by die doop met jou gebeur het en wat daarna bevestig is in jou bekering dan begin jy anders leef. Dan kry verse soos “daar is nou vrede tussen God en ons” (Rom 5: 1) en “jy is dus nie meer 'n slaaf nie; jy is nou 'n kind van God en omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak (Gal 4: 7).” – nou kry hierdie verse nuwe betekenis. Vers 29 is die kern van hierdie deel. Dit lê teen die agtergrond van besnydenis en deur ‘n plek by God te verdien deur die wet te onderhou. Dit lê ook teen die agtergrond van uitsluiting. Waar nie-Jode keer op keer moes hoor, omdat jy nie ‘n Jood is nie, is jy nie goed genoeg nie. Die Jode het ‘n oggendgebed gehad: “Geloofd is U, Ewige, ons God, wat my nie as heiden laat gebore word nie / wat my nie as slaaf laat gebore word nie / wat my nie as vrou laat gebore word het nie .....” Vers 29 is ‘n vers oor tuiskoms: 29 En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God. Hierdie teks gaan oor behoort. Die doop sê jy is met Christus verenig. Jy behoort. Klein Mileah kan vanoggend weet, Dit is nie so nie. Sy is deel van Christus. Netso deel soos enige gedoopte gelowige man wat hier sit. Sy behoort hier. Vanoggend kan ons hoor hoe God oor gelowiges se kinders voel: • “Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.” Hand 2: 39 waar Petrus die mense op Pinksterdag aanspoor om te bekeer en gedoop te word. • In Korinthiers 7 antwoord Paulus op vrae uit die gemeente en skryf dan: “Die ongelowige man is by God aanneemlik deur die band met die gelowige vrou, en die ongelowige vrou is by God aanneemlik deur die band met die gelowige man. Anders sou julle kinders heidene gewees het, maar nou behoort hulle aan God.” (vers 14) Dalk kan ek nie mooi verduidelik wat met aanneemlik bedoel word nie, maar ek weet wat dit beteken as die Woord van God sê iemand behoort aan God. Mileah, jy is tuis. Meneer, jy is nie meer ‘n heiden nie, jy is deel van Christen. Mevrou en mejuffrou, jy kan jou vrou wees vier. Jy is nie ‘n tweede klas mens nie. Jy is tuis by God. Jy is deel van Christus. Prakties beteken dit dat iets kosbaars gebeur het. Ons is nie meer uitgelewer aan die groef wat jou lewe dalk geword het nie. God is by jou – deur Sy Gees in jou --- Hy verseker jou oor en oor: Ek is jou Vader. Moenie bang wees nie, Ek is by jou. Ek het jou by jou naam geroep” (Jes 43). In hierdie moeilike tye waarin ons leef: Hoor dit: Hoor dit asof vir die eerste keer: Jy is nou ‘n kind van God. Moet dan nie leef asof jy net ‘n verlangse familielid is nie. Jy is ‘n kind, soos ‘n kleuter in God se huis. Hoor die beloftes van God: “kom na My toe almal wat moeg en oorlaai is, My las is lig en My juk is sag”. Dink aan die beloftes van gebedsverhoring in Numerie 6 en Johannes 15, 16. Dis alles net genade. Dit is alles God wat doen. 26 Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, 27 want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, moet lewe soos mense wat aan Christus behoort.” Christus maak jou ‘n kind van God. Deur geloof. Deur die doop het God jou met Christus verenig. God het jou so lief dat Hy dit gedoen het vir jou ... met jou. En nou maak Johannes 15 se wingerdstok en lote meer sin. Want, en ek haal vers 5 aan “Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.” En dan brei Jesus hierop uit met vers 7 en 8: “7 As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. 8 My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.” Nou hoef jy nie met jou kaartjie in jou hand met jou ou kaas en blikkieskos op God se skip te klim en dink ek moet vir myself sorg nie. Nou mag jy bid. Nou mag jy by die Almagtige gaan sit. Nou mag jy leef. Daar is vrede tussen God en ons. Ek en jy is meer as kaartjie houers. Ek en jy word kinders van God genoem. Ek en jy word in geen onsekere terme uitgewys as verenig met Christus. Sommige vertalings lees: “deel van Christus.” Wat ek nie is nie is “a captain of my own ship”! As deel van Christus is ek onder beheer, onder die kapteinskap van Christus. Laat ek dit reg sê: Ek en jy leef onder die koninskap van Christus. Paulus skryf dat ook ons nou erfgename van God is. In Bybelse tyd kon jy erf terwyl jou pa nog lewe. Die verlore seun het sy erfporsie so gaan opeis. Die Heilige Gees het die bybelskrywers gelei om die woord erfgenaam te gebruik vir ons. Sodat ons kan weet ons is in God se goeie guns. Ons ontvang wat ons nie voor kon werk of verdien nie. Ons is vergewe en deel nou in al die beloftes van die Here. En ja, jy kry erfgename en erfgename in die lewe. Die verlore seun en sy ouer broer was albei erfgename. Dit wil vir my voel die oudste broer is soos die man in ons storie wat ‘n kaartjie ontvang het, maar niks van die skip lewe geniet het nie. En die jongste broer het sy kaartjie op die wêreld verkwis en amper die skip gemis. Die gemeente in Galasië het nie meer so oorgeloop van blydskap oor hulle verlossing nie. Hulle het dalk vasgeval geraak in 'n groef. Of die vervolgings het hulle onder gekry. Dalk het hul verhouding met God soos werk geraak: jy moet dit doen en dat doen. Die ene plig en geen plesier. ‘n Klomp moets en moenies breek ‘n mens se lewenslus. Dink dan aan Jesus se gelykenis van die verlore seun. Die pa sê vir die oudste broer: 31 “Toe sê die pa vir hom: ‘Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune. Luke 15:31 Dit is tyd om anders oor onsself te begin dink. Om te besef hoe God nou na ons kyk. Deur Christus Jesus. Besef ook die verantwoordelikheid wat daarmee saam kom ... ek lees dit weer: 26 Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, 27 want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, moet lewe soos mense wat aan Christus behoort. 28 Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. 29 En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God. Galasiers 3:26-29 Ons moet lewe soos mense wat aan Christus behoort. Letterlik word hier bedoel om jouself so ten nouste met Christus te identifiseer dat jou lewe Christus naboots, na leef. Die krisis in hierdie land is nie armoede, werkloosheid, covid-19 of politieke partye nie. Dit is christene wat nie so ten nouste identifiseer met Christus dat Hy hulle lewens kan verander nie. En uit dit vloei al die ander lelik. Daarom vra ek maar weer: Wat beteken jou doop vir jou elke dag prakties? Amen