Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 9: 27 – 34 Kom ek bring Jesus by wyse van spreke in ons straat in. Wat as Jesus hier in ons dorpie groot geword het? Hier in jou straat gebly. Of net om die hoek. Jy ken Sy ouers, Josef en Maria. Jy het dalk selfs al gekyk as Josef met die hout en die skawe besig is. En toe begin Jesus preek. Jy was al self verwonderd oor hoe Hy met gesag die skares leer. En Hy trek rond en hierdie wonderwerke gebeur. Melaatses word gesond. Siekes genees. Die dogtertjie van raadslid Jairus word weer lewendig. Dit terwyl almal gesweer het sy is dood. Dink jy, dalk heel verwonderd, maar ek ken Hom. Ek weet waar Hy vandaan kom. Dis Josef en Maria se seun. Dalk dink jy Hy het iewers ‘n klap weg, die kluts kwyt geraak. Of, dink jy dalk is Hy nog al die tyd die Een wat die mense sê Hy is, die Een wat die profete gesê het sou kom, die Messias. Jy kan Jesus nie vasvang tussen die blaaie van die Bybel nie. Jesus los ons net met twee opsies: Glo dat Hy is Wie Hy sê Hy is, of beskou Hom as ‘n mal mens. Of jy het Jesus passievol lief, of jy haat Hom. Of jy kom na Hom met jou lewe, of jy bly op ‘n afstand toe kyk. Daar is nie ‘n tussen in nie. Tussen in, toeskouer wees, maak jou nie gesond nie, red jou nie. Bring nie vrede tussen jou en God nie. Kan ek vanoggend dan sê: Vir my is Jesus Wie Hy sê Hy is. Jesus is wat die blindes Hom noem: Die Seun van Dawid. Maw Die Messias. En soos Thomas, sê ook ek, ... vir Jesus en oor Jesus: My Here en my God. Ek wil dit weer sê, net anders: Jesus is meer as net Iemand wat wonders doen. 1. Jesus Die twee blindes roep Jesus aan met ‘n “Ontferm U tog oor ons, Seun van Dawid.” En in Matteus 20 lees ons van nog twee blindes wat om hulp roep. In Matteus 20 het die twee blindes langs die pad gesit en het gehoor Jesus kom verby en begin uitroep: “Here, Seun van Dawid, ontferm U oor ons!” Die mense het hulle probeer stil maak maar hulle het al hoe harder geroep. Jesus het gestop, sy reis onderbreek, en gevra: “Wat wil julle hê moet ek vir julle doen? “ En dan lees ‘n mens dat Jesus hulle innig jammer gekry het en hulle oë aangeraak het. Twee verhale. In albei sien blinde mense iets wat sienende mense en sienede fariseers mis: Jesus is die Seun van Dawid. Die Messias. Seun van Dawid is ‘n Messiaanse titel. Die tweede groep noem ook Here. Dit is oneindig meer as net ‘n hoflike aanspreekvorm. Dit is meer as om net vir iemand respekvol meneer te sê. Ek dink dat ons vandag, dis nou hier in SA, sukkel om te begryp wat die titel Here alles behels. Probeer om te dink in terme van absolute mag. Totale sê oor jou lewe. Wat hul dus bedoel met Here is U wat totale beheer oor my lewe het. Ek dink ek kan ook sê: U wat mag oor lewe en dood het. In die eerste plek vanoggend dan, is dit belangrik dat ons Jesus duidelik moet raaksien as HERE. En daarmee saam besef hoe magtig Hy is. Matteus en ander oog getuies het al getuig van hoe Jesus siekes gesond gemaak het; ‘n melaatse man ... die ongeneesbare siekte van daardie tyd, genees het. ‘n Vrou wat 12 jaar lank aan bloedvloeing gely het en geen dokter haar kon genees, Jesus het. Dink weer oor haar: Sy het net stilletjies aan Sy klere geraak en Hy het dit nie net geweet nie, Hy het haar genees met net dit: sy het aan sy klere geraak. Dit is mag. Dit is krag. Dit is wat net ‘n Here kan doen. Dan verstaan mens as Paulus skryf dat Jesus oneindig meer kan doen as wat ek of jy kan bid of dink. Efes 3:21. Dit beteken hoop vir jou en my. Want Jesus is nie iewers vasgevang in die annale van die Bybel en die geskiedenis nie. Jesus is teenwoordig by jou en in jou elke oomblik van jou lewe. En as jy dit nie so beleef nie dan is dit jy wat afwesig is en nie ingestel is op Hom nie. Ek bedoel dit nie hard of lelik nie. Dit is egter so dat ons almal se aandag afgetrek word en ons kom nie werklik op God se golflengte nie. As ek die beeld van ‘n radio kan gebruik. God is om ons. Ons moet inskakel op God se teenwoordigheid. ‘n Mens beleef ‘n nederigheid en groot deernis by Jesus. ‘n Sagtheid in hoe Hy mense hanteer. Matteus vertel hoe Jesus die twee blindes by Jerigo innig jammer gekry het. En Johannes vertel hoe Jesus saam met Martha en Maria huil oor hul broer se afsterwe. Al het Hy geweet Hy gaan hom weer lewend maak. Dit tref my dat in ‘n gemeenskap wat magteloos vasgevang is onder Romeinse oorheersing, siektes en swaarkry, staan Jesus op en bring hoop. Al praat Hy nooit negatief oor die Romeine nie. Die Romeine het gebly. God wou hulle nog gebruik. Baie siekes is genees. Die mense het God opnuut leer ken as ‘n Vader Wie se juk sag is en Sy las lig. En uiteindelik het Jesus ware hoop gebring deur Sy lewe aan ‘n kruis te offer aan God ter versoening van al ons sondes. En vandag? Kom net na Jesus. Kom met ‘n oop gemoed. 2. Glo julle Ek kan dit doen? Dit is Jesus se vraag aan die blindes in Matteus 9. Let op: Jesus vra nie geloof in hierdie deel nie. Hy vra iets baie meer spesifieks. Hy vra geloof in Hom. “Glo julle dat Ek dit kan doen?” Let op die Ek. Glo julle EK kan dit doen? Dit was nie ‘n standaard vraag nie. Vanoggend moet ek dit net langs ‘n ander stelling sit. Iemand het gesê: Baie mense beskou hulle self as gelowig, maar hulle leef ongelowig. As jy gelowige mense vra: Glo jy? Dan is die antwoord opreg: Ja. Ek glo in God. Ek is ‘n Christen. As jy met hulle oor die toekoms van die land praat, of iemand se prognose wat gevorderde kanker het, dan raak dinge verwarrend. Dan het hulle geen hoop meer. As ek dink oor hoe ek kan bekommerd raak oor mense, en oor my eie goed soms, dan is my vraag vanoggend geregverdigd as ek vra glo jy? Jesus vra: Glo jy Ek kan dit doen? Ek dink as ek vra wat glo jy? Sal ek ‘n beter antwoord kry. Hoeveel van wat jy glo is dogma? Goed wat jy geleer is? En hoeveel is ‘n onwrikbare vertroue dat Jesus is Wie Hy sê Hy is en daarom kan doen wat die Bybel sê Hy kan doen? Ons kyk na dogma om te sê of ons reg glo. Terwyl ons net na Jesus toe moet kom, in vertroue. Dink oor dit? Pas dit toe op die dinge wat nou in jou lewe gebeur. En nee, geloof beteken nie alles gaan goed gaan nie. Ek is seker iewers sal jy in jou antwoord ook sê dat jy glo Jesus is die Christus. Die Seun van God. 3. Glo jy? Hier is die dilemma in hierdie deel. Die Fariseërs oa hou Jesus fyn dop. Hulle beskou hulself waarskynlik as die bewakers van Israel se geloof. Hulle ken al die profesië oor die Messias. Hulle sou waarskynlik hulle eie verlange na Hom uitspreek. Hulle het geglo in die Messias. En dat Hy na die wêreld sou kom. Maar hulle het nie in Jesus geglo nie. Ek wonder hoe hulle ... Jesus se vraag aan die blindes sou antwoord: “Glo julle Ek kan dit doen?” Ek sukkel om te verstaan hoe staan jy en kyk hoe Jesus ‘n man wat in die mag van die duiwel is, en gevolglik nie kan praat nie, genees, die duiwel uitdryf en jy hoor hoe begin die stom man praat ... jy sien dit alles en al die ander mense wat daar was praat verwonderd. Die mense sê vir mekaar: “So iets het nog nooit in Israel gebeur nie.” Maw dis groot. Dit staan uit soos ‘n baken. Verbind net die profesië met dit wat jy hier reg voor jou sien gebeur. Maar nee. Hulle sê dit is met die hulp van die aanvoerder van die duiwels wat Jesus die duiwel uitgedryf het. Ek het gewonder in wie se diens hulle dan eintlik staan. Of aan wie se kant hulle eintlik is want hulle gee die duiwel krediet wat dit nie toekom nie. Weet jy, eintlik is dit laag. Hulle ontken nie dit wat hier voor hulle oë af speel nie. Hulle skryf dit eerder toe aan die duiwel. Dit is mense wat geroem het op hulle Skrifkennis en hulle geloof in God. Hulle mis God totaal. Dit is mense wat gebid het op al die gebedstye. Sommer daar op straat ook gebid het as dit gebedstyd raak. Uiterlik het hulle God gedien. Hulle sou vir jou die Skrif kon opsê uit die kop uit. En steeds mis hulle God. Matteus wys Jesus is die Messias. Hy wys na die genesings. Elkeen is deel van die vervulling van die profete se voorspel is. Alles dui daarop dat Jesus is die een wat sou kom. Die twee blindes noem Jesus dit. Die godsdienstige leiers sê nee dis die duiwel aan die werk. As Jesus vir jou vanoggend vra: Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? Wat sal jou antwoord wees? En as Hy jou sou vra: “Glo jy dat Ek dit kan doen?” Gaan jy dan al jou belydenisse uitpak of gaan jy vanuit jou lewe by Hom, ... uit die hart uit sê: Ja, Here. Ek glo. Glo is nie altyd maklik nie. Vra vir Thomas na die kruis en opstanding. Toe het hy ook gesukkel om te glo dat Jesus leef. En Jesus het hom gehelp om te kan glo. En ek dink aan die pa daar in Markus 9 vers 24, wat Jesus se opmerking oor geloof beantwoord het met “Ja Here, ek glo. Kom my in my ongeloof tegemoet.” Moet nie hard op jouself gaan wees nie. Kom na Jesus. Hy werk sag en met deernis met ons. Daars hoop. Kom net.