Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Rom 5:1-11 1. Ek wil vanoggend begin deur ‘n bietjie statistiek aan u voor te hou. Somber statistiek. En u mag dalk vra waarom ons vanoggend oor ‘n onderwerp soos hierdie praat. Daarom wil ek vra, soos die engelse se, bare with me. Die rede sal wel later kom. 2. Onlangs lees ek in die nuus hierdie ontstellende statistiek raak. Sedert die inperking op 27 Maart hierdie jaar begin het tot en met 27 Julie 2020 het 1781 mense in Suid Afrika hulle eie lewe geneem. In ‘n bestek van 4 maande. 1781. Dit het my genoop om ‘n bietjie verder na amptelike statistiek te gaan kyk en het ek die volgende gevind: Donderdag 10 September was Wereld Selfmoord Voorkomingsdag. Sedert Januarie tot en met 10 Sept het die South African Depression and Anxiety Group ‘n totaal van 42000 oproepe ontvang van mense wat hulp soek omrede hulle oorweeg het om hul eie lewe te neem. Die jongste selfmoord geval in SA hierdie jaar was die van ‘n 6 jarige seun. Elke uur neem een persoon in SA hul eie lewe en ‘n gemiddeld van 20 mense poog elke uur om hul eie lewe te neem. Selfmoord het met 48% toegeneem in SA die afgelope 10 jaar en een derde van alle pogings was kinders onder die ouderdom van 18. Die South African Depression and Anxiety Group se verslag meld dat die gemiddelde ouderdom van mense wat hul eie lewens neem is 36, maar vind voorvalle toenemend plaas onder kinders so jonk as 10 en selfs pogings deur kinders so jonk as 6. Ongeveer 8% van skoolgaande kinders in SA het al probeer selfmoord pleeg in SA Wereldwyd sterf een persoon elke 40 sekondes deur sy of haar eie lewe te neem. En laastens, vanuit 195 lande in die wereld le SA 10de op die lys van die meeste selfmoorde. 3. En ek het gewonder: Wat kan die rede hiervoor wees en wat dryf iemand om tot so ‘n daad oor te gaan? Wel, ek is geen sielkundige nie en daarom gaan ek ook geen uitspraak hieroor maak nie. Maar een ding is ek van verseker: dat iemand wat oorgaan tot so ‘n daad alle hoop verloor het. 4. En dis hartseer. Hartseer om te weet daar is soveel mense daarbuite in hierdie wereld, net in hierdie mooi land van ons, wat net geen hoop op die toekoms meer het nie. Wat die lewe as so donker beskou dat hulle net nie meer kans sien daarvoor nie. 5. Gaan u met my saamstem vanoggend dat hierdie ‘n geweldige aanklag teen ons is my broer en suster? Ons wat vrygespreek is omdat ons glo. Ons wat met vrede in ons harte voor God kan staan as gevolg van Jesus Christus. Dis hoe vers 1 van Romeine 5 ons beskryf. Paulus gaan dan verder deur te se dat ons onsself verheug in die hoop om deel te he aan die heerlikheid van God (v2). 6. Voor ons egter verder gaan moet ons eers duidelikheid kry wat die Skrif bedoel met die woord HOOP. Die woord hoop het in ons algemene spreektaal gewoonlik ‘n mate van twyfel. Wanneer mens iemand soms vra of hulle gered is sal hulle antwoord met “Ek hoop so”. So ‘n antwoord is gelaai met twyfel. In die OT word die Hebreeuse woord “Batah” gebruik vir hoop. Dit beteken in essensie vertroue, sekuriteit en sonder probleme. Die Griekse woord wat met hoop vertaal word is die woord elpis of elpizo. Die basis van hierdie woord bevat geen teken van twyfel nie. MAW. Bybelse hoop is die oortuigde verwagting of versekering wat gebaseer is op ‘n vaste fondasie waarvoor ons wag met vreugde en volle geloof en vertroue. Geen twyfel nie! 7. Bybelse hoop is ‘n realiteit en nie ‘n gevoel nie. Bybelse hoop dra geen twyfel nie. Bybelse hoop is die vaste fondament waarop ons ons lewens baseer wetende dat God altyd sy beloftes sal hou. 8. En u en ek het hierdie HOOP my broer en suster. U en ek ken die Een wat hierdie hoop aan ons toebedeel. Die hoop wat vir ons se dat daar iets beters vir ons wag. Iets waarin ons onsself kan verheug ten spyte van die swaarkry en ellende wat ons pad mag kruis. In Rom 8:24 se Paulus reguit dat ons nou hierdie hoop het. En dit maak ons draers van hoop! 9. Ons teksgedeelte gee vir ons ‘n hele aantal beloftes van hoop. Ons is vrygespreek se vers 1 Daar is vrede tussen ons en God Ons het vrye toegang tot die genade Ons het deel aan die heerlikheid van God God se liefde is in ons harte uitgestort deur die HG Ons is van die straf van God gered Ons is gered deur Christus Deur Christus het ons die versoening met God ontvang 10. En juis daarom is die statistiek wat ek aan die begin aan u voorgehou het ‘n aanklag teen ons as gelowiges. Want u en ek is draers van die ware hoop, want ons ken die Bron van hoop. Waarom is dit dan dat elke uur in hierdie land van ons 20 mense probeer om hul eie lewe te neem en elke uur 1 persoon dit regkry? Waarom is dit dan dat selfs kinders so jonk as 6 jaar oud nie meer kans sien vir hierdie lewe nie? 11. Wat wys ons vir hulle? Wat hou ons dan aan hulle voor dat daar vir hulle net geen hoop oor is nie? Watter voorbeeld is ons dan vir hulle dat hulle so hooploos is dat daar vir hulle geen sin meer is daarin om voort te gaan met hierdie lewe nie? 12. Want u en ek is draers van hoop. Laat ek net ‘n regstelling maak: ons is draers van die enigste hoop vir hierdie wereld! Volgens die laaste sensusopname wat in 2010 geneem is, is 87% van Suid Afrikaners draers van hoop. Gelowiges. En rondom ons dink hooplose mense dat die enigste uitweg is om hul eie lewe te neem. 13. Waar was ons dan? Ons wat hoopdraers is. Waar was ons toe hierdie mense net donker gesien het? Of het ons as gelowiges veilig in ons groot kerkgeboue gesit terwyl ons meer bekommerd was oor ons balansstate as oor ‘n jong ma wat met ‘n wapen in haar hand net geen hoop meer sien nie. Want ons het nie hoop na haar toe gevat nie. Ons het nie die Bron van hoop, ‘n lewende God wat ook vir haar wil laat deel in die heerlikheid wat u en ek ken, na haar toe geneem nie. 14. Petrus, ons vriend Paulus se kollega, het in hoofstuk 3 vers 15 van sy eerste brief die volgende gese: LEES ROOI! Wat se Petrus hier? Hy se gaan en wees draers van hoop. Gaan en vertel vir hulle wat geen hoop meer het nie, hulle wat ‘n bottel pille, ‘n vuurwapen of ‘n hoë gebou as die enigste hoop en uitweg beskou, wees altyd gereed om aan hulle ‘n verduideliking te gee van die hoop wat in jou lewe. Gaan vertel hulle van die Bron van hoop. 15. Luister mooi hoe Paulus hoofstuk 5 van ons gelese gedeelte begin broer en suster. Hy begin deur ons te herinner dat ons vrygespreek is, dat Christus vrede kom bewerk het tussen ons en God en dat ons deur geloof vrye toegang tot God se genade het. En dan verheug hy homself in die hoop dat ons deel sal he aan die heerlikheid van Christus. Dis die dinge waarop ons ons hoop vestig. Die feit dat ons verlos is deur die genade van God wat ons ontvang het deur die werk van Christus aan die kruis. Dis mos ons hoop! 16. Hoe durf ons dit dan weerhou van hulle wat dit in hul donkerste uur so nodig het? Is ons nie dalk so besig met ons gejaagde rotresies dat ons vergeet om Christus se hande en voete vir mense te wees nie? Waar anders gaan hierdie mense hoop kry vir hierdie wereld? Gaan hulle dit by die wereld kry? Beslis nie! Gaan hulle dit vind as hulle by ongelowiges gaan aanklop vir hulp? Allermins! 17. U en ek is dan draers van hierdie hoop. Dis ons roeping, ons verantwoordelikheid om die gebrokenes van hart, hulle wat in die donker van die lewe vasgevang is aan die Bron en Gewer van alle hoop voor te stel. Maar dit gaan selfs verder. 18. Paulus se in vers 2 “Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan”. Die Griekse woord wat vir toegang gebruik word het egter ‘n wyer betekenis. Dit beteken eintlik iets soos om vergesel te word. Dit se eintlik dat Christus nie net die weg tot vrede met God vir ons geopen het nie, maar dat Hy ons ook by die hand neem en ons op daardie weg lei. 19. Hoor u hoe groot ons verantwoordelikheid is? Ons verantwoordelikheid stop nie net deur hierdie hooplose mense aan Christus voor te stel as die Bron van hoop nie, maar ook om die pad van heiligmaking saam met hulle te stap. Matteus 28. Maak die mense my dissipels en leer hulle dan om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. Ons roeping is nie om te hit and run nie. Ons roeping is om die Bron van hoop aan hooplose mense voor te stel, en dan die pad met hulle te stap totdat hulle ook in ‘n lewende verhouding met Hom geanker is. 20. Die verhaal word vertel, dis so bekend, van die seun wat op die strand gestaan het en omring is deur seesterre wat op die strand uitgespoel het. Een vir een het hy hulle teruggegooi in die see. Met die stap iemand verby en die persoon vra vir hom wat hy besig is om te doen. “O, ek gooi die seesterre terug in die water voordat hulle doodgaan.” Die persoon het geantwoord: “Maar daar is so baie wat hier uitgespoel het. Al jou pogings gaan geen verskil maak nie”. Die seun het nog ‘n seester opgetel, dit in die water gegooi en gese: “Dit het ‘n verskil aan daardie een gemaak”. 21. U en ek kan nie die wereld se hartseer en probleme stop nie. Ons kan dit ook nie alles oplos nie. Maar daar kan dalk een wees, een persoon wat op moedverloor se vlakte sit, wat so hooploos is dat die ergste sy of haar enigste uitweg is, aan wie se lewe u en ek ‘n verskil kan maak. En al wat ons moet doen is om die Bron van hoop aan hulle voor te stel. Want God het ook aan hulle sy liefde bewys daarin dat Christus ook vir hulle gesterf het toe hulle nog sondaars was. 22. Mense daar buite is stukkend my broer en suster. En vir hulle om weer hoop te kry, hoop vir die hede en die toekoms is dit nodig om Jesus Christus te leer ken. En dis ons taak as draers van hoop om Hom na hulle te neem.