Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 9: 18 – 26 Kom ek val met die deur by die huis in. Hoe desperaat is jy? Dit is die gevoel wat ek by vier mense kry in Lukas 9. Hulle is desperaat. Hulle lewens is erg vasgedraai. Jesus is hulle enigste hoop. Dalk is dit presies waar jy vandag is: desperaat vir uitkoms. Of net diep bekommerd oor more en oormore. Of soos Jairus: stukkend oor iemand vir wie jy lief is al dood is. Sit dan met hierdie hoofstuk in Matteus. Hier is hoop. Ek wil jou uitnooi om saam met my ernstig te dink oor waar jy nou is in die lewe. En die vraag wat my beet het, die vraag wat ek ook by jou wil los is: Hoe honger is jy na God? Hoe ver sal jy gaan vir God? Hoe bereid is jy om jou gemaksones te verlaat en op te offer, en te waag twv God? Ek het op 24 Maart 2019 oor die raadslid en die vrou se geloof gepraat. Dit is op die gemeente se webblad en dus op die Seilespan toep. Lees dit gerus weer. Vandag bou ons voort op dit. Matteus vertel van vier persone hier. Jairus, die raadslid. Die vrou wat al lank aan bloedvloeing gelei het. Twee blinde mans. En kan ek maar Matteus intrek? As ek in hulle skoene was sou ek meer as desperaat gewees het. 1. Desperaat. Luister na hulle woorde: Vers 18. Jairus: “My dogter het nou net gesterwe, maar kom lê u hand op haar en sy sal weer lewe.” Vers 21. Die vrou: “ Sy het vir haarself gesê: “As ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word.” Vers 27. Die blindes: “Ontferm U tog oor ons, Seun van Dawid!” Voor jy verwonderd raak oor hul geloof, sien hulle desperaatheid aan. Voel dit. Dink jou in hul skoene in. Jy is Jairus en jou dogtertjie het so pas gesterf. Sy is 12 jaar oud. En al wat jy smag is om haar lewend in jou arms te kan hê. En jy gaan na die Rabbi toe wat jy gehoor het wonderwerke doen. En jy gaan vra vir die onmoontlike: Maak my kind weer lewend. Ek wil my die angs van Jairus nie eers probeer indink nie. Word nou die vrou. Jy het al twaalf jaar hierdie mediese probleem wat jou onrein maak in die oë van God se wet. Jy het al al jou geld uitgegee op dokters en rate. Niks werk nie. As jy getroud is dit al 12 jaar wat jy of jou man maar liewers in die spaarkamer moet slaap. En alles wat jy opsit onrein is. En jy mense moet vermy. Volgens die wet. En hier is sy en sy waag dit as vrou en boonop as ‘n onrein vrou tussen mans in om net naby hierdie Rabbi te kom. Sy waag baie. Maar sy dink: “As ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word.” Desperaat beskryf nie hierdie vrou goed genoeg nie. Wat van ...... radeloos, wanhopig of selfs moedeloos? Die twee blindes. Hulle woorde sê al baie: ““Ontferm U tog oor ons, Seun van Dawid!” Kan ek dit so stel? Sien ons tog raak en vat ons blindheid weg dat ons tog net weer kan sien en nie meer hoef te bedel en so afhanklik wees nie. Vat ons blindheid weg dat ons ons gesinne kan sien. Wat doen Jesus? 2. Wag op Jesus. Hy hanteer hulle elkeen verskillend. Daar is nie een grootte pas almal tipe hantering nie. Niemand word in boksies ingeforeer nie. Hy het elkeen op ‘n manier lief wat vir hulle werk. Jairus moes bietjie wag vir sy wonderwerk. Die vrou wat aan Jesus se klere se soom geraak het, was sekerlik vir Jairus uitmergelend swaar ... Volgens Markus se onthou het Jairus se dogtertjie nog geleef ... al is dit ook maar net. Sy is op haar uiterste, sê Jairus daar. So die onderbreking van die vrou moes vir hom sleg gewees het. Maar hy wag. Hy wag op Jesus. Die vrou wag al 12 jaar vir genesing. 12 jaar wat sy bid en alles probeer. 12 jaar van hartbreek moedeloosheid en wil opgee en alles uitgee aan dokters en steeds siek bly. Tot op hierdie dag wat sy dit waag om te probeer ongesiens net aan Jesus se klere te raak. Jesus draai om en kyk na haar. Anders as die geestelike mense van daardie tyd, wat kwaad sou wees as ‘n onrein vrou aan hulle raak, of verontwaardig en sou gemeen het so ‘n vrou moet darem haar plek ken. Nie Jesus nie. Hy het omgedraai, haar gesien en gesê: “Wees gerus, dogter, jou geloof het jou gered.” Dogter. ‘n Sagte term. En van daardie oombllik af was die vrou gesond. En dan bots Jesus met die skare by Jairus se huis. Hulle is daar om die kultuur ding te doen. Die roubeklaers. Fluitspelers. Matteus sê toe Jesus die fluitspelers sien en die klomp mense wat te kere gaan ... Sien jy die prentjie ... En as Jesus hulle wegjaag en sê die dogtertjie is nie dood nie, sy slaap net, toe lag hulle Hom uit want hulle ken dood en die dogtertjie is, volgens hulle definitief dood. Jesus laat Hom nie afsit deur hulle populere mening nie. Hy maak die dogtertjie lewend. Vir die twee blindes wat sonder ophou skree: “Ontferm U tog oor ons, Seun van Dawid!”, vra Jesus “Glo julle dat Ek dit kan doen?” “Ja, Here” antwoord hulle Hom. En Hy het aan hulle oë geraak en en sê “Wat julle glo, sal gebeur.” Vir Jesus, was hulle nie ‘n lastigheid met hulle geskree en geroep nie. Kyk na Jesus. Sien Liefde aan die werk. Mense sê gebed werk nie. Wat tussen Jesus en hierdie mense gebeur is niks anders as gebed nie. Gebed is interaksie met God. Is om God deel te maak van jou daaglikse lewe. Is om te verwag dat God sal help, al moet ek wag. Selfs 12 jaar of meer selfs. Aan die einde word God verheerlik. Ek weet ek het in die begin Matteus bygevoeg. Miskien dink jy hy kon nie desperaat gewees het nie. Hy het ‘n goeie werk gehad, hy was waarskynlik ryk gewees. Maar kyk jy verby die uiterlike sien jy ‘n man wat uitgeskel word deur sy eie mense, deur sy eie mense vermy word, as sondig uitgekryt is deur die priesters en die skrifgeleerdes. Daar is gesê met so ‘n mens moet jy niks uit te waai hê nie en definitief gaan jy nie by so iemand aan huis nie. Matteus is ‘n man, wat as ek moet raai, net graag iewers tussen sy eie mense sou wou behoort. Ook by God sou wou kon tuiskom. En sy eie familie, sy ouers? Die geskiedenis wys dat tollenaars is deur hulle eie familie verwerp. Tensy jy harder as klip is, is dit woorde en houdings wat jou diep seer maak. As ek nie desperaat kan gebruik nie, wat dan van honger? Of verlangend na God en God se mense? Matteus roep nie uit na Jesus nie. Wel nie hardop nie. Maar God roep na Matteus. En Matteus hoor en staan op en stap van sy ou lewe af weg en volg Jesus. En Matteus vind uiteindelik ‘n plek van tuiskoms en aanvaarding in God se gemeenskap. Ek hoop jy hoor dat die antwoorde op jou lewe, op jou dieper seer of dors, lê by Jesus. Hoe Hy dit gaan hanteer kan ek jou nie sê nie. Hy sal jou hanteer op ‘n manier wat jou nader aan God sal laat groei. Hy sal jou met Sy groter visie deur alles lei. Wat ek absoluut oortuig is, is dat Jesus dit met die grootste liefde en deernis denkbaar sal doen. 3. Leer by Jesus. Leer vanoggend ook om dieper te kyk. Leer om anders as die samelewing van ons tyd na mense te kyk en om hul met deernis te hanteer. Kyk na Jesus. Hy wys ons hoe lyk liefde in aksie. En as jy meer wil leer, gaan dink na oor hoe Jesus anders as vandag se kultuur ook is. Dink oor wat Nouens gesê het, ek het dit in laas jaar se boodskap ook aangehaal. Hy het gesê: Henri Nouens vertel dat hy geweldig gefrustreerd kon raak as mense hom onderbreek. Dit is, tot die dag wat hy bewus geraak het dat hy juis geroep is vir die onderbrekings. Onderbrekings is dikwels geleenthede om God te sien werk, of God se liefde en omgee te wys. Ek wonder, as Jesus nie onderbrekings toegelaat het nie, sou die vrou dan haar wonderwerk nog ontvang het? Sou die blindes kon sien? Op Facebook is daar gereeld ‘n plasing wat sê jy kan nie uit ‘n leë beker vir ander iets inskink nie. Kyk eers na jouself. Dit is mooi en goeie raad. Maar dit is nie Jesus nie. Hy het voor Sy dag begin reeds Sy beker by God gevul sodat Hy ander kon gee wat hul nodig het om te drink. Moet nie inkoop in ons tydsgees in nie. Leer dat Jesus se denke en maniere van doen eintlik kontra kultuur is. Dit is stroomop van populere opinies en maniere. En dat ons die krag van God beleef in die dikwels onverwagse onderbrekings wat gebeur in die loop van ons doodgewone dag. As jy Jesus volg, gebeur daar interessante dinge. Leer by Jesus en volg Hom.