Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 9: 14 – 17 Dit gaan alles oor Jesus. Moet nie vanoggend vashaak by vas of nie vas, of by die beeld van ou wynsakke nie. Dit gaan oor Jesus. In die begin van Sy groot Bergpreek, het Jesus gesê, en ek haal Hom aan: 5: 20 Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.” En die voorbeelde wat Hy daarna gee, gaan oor versoening, om reg te gaan maak as iemand iets teen jou het; en oor nie met die doel om te begeer na ander te kyk nie; oor egskeiding; oor ‘n ja wat ‘n ja moet wees; weerwraak; om nie jou vyand te haat nie. Hoe jy mense help; hoe jy vas. Om net ‘n paar te noem. Julle het gehoor ... maar Ek sê vir julle ... is hoe Hy die dinge hanteer het. Wel, dis die begin van nuwe wynsakke skep, ‘n nuwe lewe leef en ontslae raak van die ou wyn sakke. ‘n Weg beweeg van ons ou lewens. En nou beweeg Jesus in hierdie deel verder met ons. Hy is besig om ons te vorm as Sy dissipels. Nie net dissipels nie, maar Sy dissipels wie se toeweiding aan God, meer is as die van die fariseers en skrifgeleerdes. Jesus leer ons hoe om te lewe in die koninkryk van die hemel. Jesus is die bruidegom hier. Dit is hoekom Sy dissipels nie vas nie. Jesus is die nuwe wyn. En jy giet nie Sy lewe in ou sakke in nie. Mag ek dit weer sê? Nuwe wyn kom in nuwe houers sodat die swakhede in die ou sakke nie dalk ingee en skeur en die nuwe wyn die wêreld vol spoel en verlore gaan nie. Dit is ‘n beeld wat vir die mense wat daardie dag gestaan en luister het, baie duidelik was. 1. ‘n Nuwe begin. Wat vir my baie baie duidelik is, is jy nooi nie Jesus in jou lewe in en dink jy kan jou ou lewe behou en, en Jesus in jou lewe hê nie. ‘n Aangepaste lewe gaan nie werk nie. ‘n Nuut, ‘n herskepde lewe in Jesus se hand, gevul met Jesus, is wat die vrug bring wat God soek. Okay. So. Ek hoor dat hier in vlak 5 en vlak 4 en selfs nog in vlak 3 van lockdown het party wyn liefhebbers wyn gedrink waarop hulle normaal weg sou neerkyk. Of so vermoed ek. Hulle het gedink dis nou maar okay. Dit sal doen vir nou. Dissipel wees werk nie so nie. Geloof ook nie. Christenskap ook nie. Jesus maak jou lewe nuut. Johannes 3: 16. En dan vul Hy, let wel, Jesus vul jou lewe met Sy nuwe wyn. Ons moet dit mooi hoor: Nuwe wyn kom in nuwe sakke. Ou sakke doen nie die ding nie en aangelapte klere ook nie. Nuwe lewe kom in ‘n nuut gemaakte jy. ‘n Wedergebore jy. Wedergebore ... opnuut gebore ... oorgebore ... hoe moet ek dit sê ... dit is waar die ou weë en maniere gegroet het en begrawe is, is en ons ons alles gee om gelykvormig te word aan die beeld van God se Seun, (Rom 8:29)... dit is waaroor dit gaan. Kom ek gebruik ‘n beeld. Toe my vrou by my ingetrek het in die pastorie, na ek so 8 jaar op my eie was, sou dit geen sin gemaak het, geen doel gedien het, as sy nooit iets mag verander het of selfs net geskuif het of oorgepak het nie. Dit sou sleg gewees het as sy net moes aanpas by wat reeds daar is. Dis nou waar ‘n mens sê: Hier kom ‘n ding. Hier is ‘n ongeluk wat wag om te gebeur. Ek dink sy sou ‘n baie hartseer vrou gewees het. Dalk uiteindelik opgegee het op my. In die lig van die ou sakke nuwe wyn beeld dan is my huishouding met net my goed daar, die ou sakke en Marisa verteenwoordig die nuwe wyn. Waarmee die boodskap eintlik hard en duidelik is dat daar eintlik nie vir haar plek is nie. Kom ons maak dit nou van toepassing op hierdie deel. Dit is wat Jesus hier teen waarsku. Dit is ook wat hopeloos teveel mense aan Christus doen. Hulle wil Jesus in hullle lewens hê, hulle wil kan sê ek het op hierdie dag Jesus in my hart ingenooi maar hulle wil nie hê Jesus moet aan iets raak of iets verander aan hulle lewens of hulle maniertjies nie. Dit is om nuwe wyn in ou sakke te gooi. Ek weet mense nooi Jesus met entoesiasme in hul lewens in. En twee weke later is al hul “ou meubels” steeds die plek vol. Twee weke later is hulle ou wynsakke steeds die ene asyn. En geen wyn. En mense wat dit beleef spoeg dit uit en stap weg. Hulle stap nie net van daardie mens af weg nie, maar ook van Jesus af. Want wie wil nou asyn drink. Nie eers in Lockdown het mense asyn gedrink nie. 2. Net die heel beste. In Johannes 2 is Jesus by ‘n bruilof. Die wyn raak op en die bruidegom staar ‘n baie groot verleentheid in die gesig. Jesus se ma kom na Hom en vra Hom om te help. En dan laat Hy groot klipkruike vol maak met water. Klipkruike waarin water gestoor is vir reinigings rituele. Hoor jy die woord reiniging? En dan verander Jesus die water in wyn. Goeie wyn. Eintlik is dit heel komies wat dan gebeur. Die seremoniemeester proe die wyn en roep die gaste tot stilte. En dan maak hy hierdie aankondiging: Normaalweg gee die bruidegom eers die goeie wyn en as almal se onderskeidingsvermoee nie meer so goed is nie, dan uit kom die minder goeie wyn. Maar hierdie keer was dit net andersom: Eers die swakker gehalte wyn en toe kom die uitmuntenste wyn. En die bruidegom, se verleentheid word deur Jesus in ‘n geleentheid omskep. Jesus red nie net die bruidegom nie, Hy laat die bruidegom skitter. Dit is Jesus. Daar is nie half half nie. En ek dink, as Jesus die beste wyn skep, dan sit jy dit in nuwe houers. Jy vat nie wat ookal jy het om dit in te gooi nie. Jy gaan vir die beste wat jy kan. Want dis die heel beste wyn. Maak ek sin? Dan maak dit sin om die nuwe wyn te giet in nuutgemaakte houers. In wedergebore lewens in. Want as ek die beeld van nuwe wyn ou sakke kan gebruik, ... vir wat, wil ons alles verskraal, en die beste wyn versny met ‘n ou minderwaardige produk, of eenvoudiger gestel, dit gaan staan en meng met die asyn van ons ou lewens. Ek gebruik die woord asyn, omdat sonde ons lewens suur gemaak het. Slegte smaak gegee het. En ek praat van ‘n ouer swakker produk, omdat ‘n lewe sonder Christus nie die diepte en die volrondheid ooit sal kan hê wat ‘n wedergebore Christus gevulde lewe het nie. Ek vra jou mooi vandag, dink mooi oor jou lewe, oor wat jy van jou ou lewe af insleep in die nuwe lewe in Christus. Gaan verwyder haat, ongevoeligheid, liefdeloosheid of watter sonde jy nog vertroetel, en vra Jesus om jou werklik skoon te was van sonde en te vul met Sy Gees. Nuwe sakke kan jy uitken langs die oues. Moenie bang wees om anders te wees nie. Weet jy wat is hartseer? Jy kan 100 persent inpas in die samelewing en doen nes almal doen, maar dit bly ‘n ou sak wat gaan skeur onder die krag van die nuwe wyn van Christus. Jou lewe moet nuut word. Dit is ook wat hopeloos teveel mense aan Christus doen. Hulle wil Jesus in hullle lewens hê, hulle wil kan sê ek het op hierdie dag Jesus in my hart ingenooi maar hulle wil nie hê Jesus moet aan iets raak of iets verander aan hulle lewens of hulle maniertjies nie. As jy dit doen is jy besig om nuwe wyn in ou sakke te gooi. As jy lap wat nog nie gewas is of gekrimp het nie, op ‘n ou uitgewasde kledingstuk werk, gaan die nuwe lap met die eerste was krimp en die ou uitgewasde kledingstuk verder skeur. Jesus is nie ‘n ekstra om te heg aan jou lewe nie. Jesus is jou lewe. 3. Feestelik. Weet jy wat is ongelooflik mooi hier? En ons mis dit want ons kyk vas in die vas of nie vas nie. En ons kyk vas in die nuwe wyn ou sakke deel. Moet nie die feit mis dat die nuwe wyn is teken van God se nuwe oes wat ingekom het. Die feit dat daar nuwe wyn gemaak is sê daar was ‘n oes. En in die lig van Johannes se deel oor water wat wyn geword het, Jesus het die water in top kwaliteit wyn verander. God omskep ons lewens in iets moois, iets besonders waarin ander ook met dank sal kan deel in. Die tweede mooi in hierdie deel lê rondom die vas. As Jesus die fariseers antwoord dan vra Hy ‘n teenvraag wat Hy so formuleer dat die enigste moontlik antwoord daarop ‘n nee is. Nee, dit sou absurd wees as die Bruidegom se strooijonkers vas tydens ‘n huweliks onthaal. ‘n Bruilof is ‘n feesgeleentheid. Hoor jy, ‘n feesgeleentheid. Feestelik. Sien asb raak dat dit wat jy prysgee, laat staan, weg gooi, maak ruimte vir iets veel mooiers, beter. Ek bly dink aan die bruilof by Kanaan. Ek bly dink as daar nog ‘n bietjie van die eerste wyn oor was, wyn wat die beste was wat die arme bruidegom kon voorsit, is ek seker, na die nuwe wyn van Christus, sou hulle nie die ou wyn weer geskink het nie. Hulle sou meer van die beste wyn wou hê. Ek sê dit as ‘n beeldspraak: as jy Christus eers werklik ken, maak niks anders meer saak. Dan leef jy. Amen.