Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 9: 9 – 13 Elke keer as hierdie wrewel in my opwel, dis nou teen politici, en al die valshede en lelikheid in politiek, dan onthou ek iets. En politiek is orals. Ek kan politici vermy maar nie politiek nie. Daars kantoor politiek. Dit is die agterbaksheid, leuens, voorgee en rugstekery wat in die werksplek gebeur. Politiek is ook in woonbuurte. Sasol het destyds bepaal wie mag waar woon in Sasolburg. Werkers die kant. Middelbestuur daar en top bestuur anderkant. Dit is ook politiek. Ek is beter as jy politiek. So elke keer as die wrewel teen dit alles in my opwel, veral oor politici, dan onthou ek my oupa aan my ma se kant was in die politiek gewees. My oupa was ‘n kosbare mens, sonder valshede. En ek besef hoe maklik kan ‘n mens met veralgemenings iemand wat eintlik die moeite werd is, kan afskryf. Die woordjie veralgemeen sê tog dat as jy veralgemeen dan is jy veral- gemeen- met- iemand- iewers. Want nie almal is so soos die veralgemening wil hê ons moet glo nie. So ek kan nie sê alle politici is sleg en vals en aaklik nie ... want my oupa was nie so nie. En daar is sekerlik ander wat ook eerbaar is. Iemand wat in sy of haar kringe die teendeel bewys en ander ongemaklik laat. En wat van as die persoon wel so is, dalk baie mooi in pas by dit wat ons verpes of haat maar, maar God, dink anders en wil daardie mens gebruik? 1. Ongemak. Dit is ‘n ongemaklike gedagte. Ongemaklik want ons besef, ons moet nou ons houding en ons hantering van daardie mens verander. Want ons is God se kinders en ons alles moet in lyn wees met God. Ons bid dan so mooi : Laat U wil geskied. Jesus, al het baie mense na Hom toe gestroom om na Hom te luister, het mense ongemaklik gelaat. Dalk nie alle mense nie. Maar wel vir baie. Hy het nie ingepas in hul boksies nie. Hy het dinge gedoen wat die tonge losgekry het. Selfs dinge wat die godsdienstige leiers van daardie tyd as ‘n nee nee beskou het. Byvoorbeeld: Die rabbies het die volk geleer om nie te meng met die sondaars nie. En in ‘n heiden se huis het nie jy in huis gegaan nie want dit sou jou onrein maak. Baie van ons het grootgeword met die gesegde, moet jou nie met die semels meng nie want die varke sal jou eet. Bly weg van sulke mense af want as jy eers jou goeie naam verloor het kry jy dit nooit weer terug nie. En dan kom Jesus verby en Hy meng met sondaars. Hy praat met vroue, soos die Samaritaanse vrou by die put. Ek wonder soms net hoe ongemaklik sy dissipels geraak het met hul Meester. Elke keer as Hy die ongehoorde gedoen het, saam met die gehate tollenaars en die prostitute geeet het, wat sou dan deur die dissipels se koppe gemaal het. Soos toe Jesus vir Matteus by die tolhek geroep het. Dit is asof die Here vir my sê: Raak gewoond aan die buitengewone. Raak ongemaklik want as jy ernstig is oor geloof, ernstig is oor om Jesus te volg, gaan jy uit jou gemaksones gedruk word. Die hele bergrede het ons hierop voorberei. Of het jy dit nie besef nie? Keer op keer het Jesus gesê “julle het gehoor dat ... en dan vat Hy die een siening van die wet na die ander ... sieninge, teologie van daardie tyd, en Hy sê .... julle het gehoor dat .... maar Ek sê vir julle. En dan ontdek jy jy moet selfs jou vyand lief hê. Ek vat spesifiek jy moet jou vyand liefhê ... en met rede. ... want wie was die Jode se vyande? Die Romeine. En enigeen wat vir die Romeine gewerk het. Soos byvoorbeeld tollenaars. Die blote idee om ‘n tollenaar lief te hê sou enige goeie Jood van daardie tyd ongemaklik gehad het ... en dan stel ek dit sag. Die tollenaars is gehaat. Hulle is as volks verraaiers beskou. Dikwels het hulle eie gesinne, hulle ouers en broers teen hulle gedraai. Julle het gehoordat daar gesê is ... Matteus 5: 43, jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê ...” Okay. Wie roep Jesus hier? Kyk wie roep Jesus. Die vyand. Die uitverkoper van sy volk. n Gehate man. Leer om ongemaklik te raak met die mense wat Jesus uitkies. En leer daarmee saam om Sy keuses te aanvaar en soos die Here na mense te begin kyk. Iewers as mense te vas gevang word in teologie en verse uitlê, mis hulle God. En mis hulle die mense wie God wil gebruik. Ons moet meer bid dat God ons verby ons vrese en sieninge druk sodat ons kan leef soos God wil en kan liefhê wie God wil hê ons moet liefhê. Voel jy ongemaklik? Kyk na alles in Matteus wat ons tot hiertoe mee besig was. Sê my as ek verkeerd is. Vanaf Matteus 4: 17 waar Jesus vir die mense gesê het, bekeer julle want die koninkryk van die hemel het naby gekom, tot in hierdie deel waar Jesus Matteus roep, hoeveel keer het Jesus jou ongemaklik gehad? Gaan blaai terug deur die dele en lees dit weer. Sit dit langs ons samelewing neer en kyk ... en sit dit langs jou gewoontes neer en langs jou sieninge, en kyk wat jy voel. 2. God kyk en doen anders. Jesus roep ‘n tollenaar. Dink jou die konsternasie in. En toe gaan eet Jesus by die einste tollenaar en ander sondaars. En die Fariseers wil weet “Waarom eet julle leermeester saam met tollenaars en sondaars.?” Geen blydskap oor Matteus se lewe omgekeer word ten goede nie. Geen blydskap oor ‘n verlore mens wat gered word nie. Nee: “Waarom eet julle leermeester saam met tollenaars en sondaars?” Vergeet die woordjie ongemak. Ons word geroep om Jesus te volg weg van ons maniere en lewens af. Ons word gevra om met nuwe oë en met liefde na selfs die randfigure te kyk. Om ‘n u draai te maak op al die mense wat jy verag, haat, ignoreer, of bloot net dink hulle is benede jou. En te begin liefhê. Jesus roep Matteus die tollenaar. Hy sien hom sit by die tolhuis en Hy sê vir hom: “Volg My.!” Jesus steek hom nie ‘n preek af nie. Hy sê nie eers bekeer jou nie. Hy sê net: “Volg My!”. Volg My! Kan jy Jesus dit hoor sê ook vir jou! Kom word soos Jesus. Dit is ons roeping. Ons moet gelykvormig word aan die beeld van God se Seun. Romeine 8: 29. Deel van ons u draai proses, al agter Jesus aan, is om ongemak te ervaar met ons ou sieninge en idees. Van wat aanvaarbaar is en wie aanvaarbaar is. En ook ‘n ongemak met ‘n samelewing wat uitpas geraak het met God. Daar is een van twee reaksies moontlik: 1. Jy volg Jesus. Jy los alles en jy volg Hom. In ons geval, tensy Jesus duidelik anders wys, stap jy weg van jou ou manier van doen en wees af en leer by Jesus hoe om nuut en anders te leef. Jy leer om nou reeds in die koninkryk van die hemel te begin leef. Dit word nie uitgestel tot na jou opstanding uit die dood uit nie. Jy begin nou reeds ‘n koninkrykslewe leef. En die 2 de reaksie moontlikheid is, jy kritiseer. Jy wys vinger en skud jou kop meerderwarig soos die Fariseers. En jy laat jou tradisies en sieninge en teologie en wat ookal tussen jou en God inskuif. Tradisies oor by wie se huis jy mag ingaan en by wie jy mag eet ... staan nou reg in die pad van Matteus se redding. En vierkantig in die pad van God se wil. Dit het, as ek so kyk, glad nie by hulle opgekom dat iemand soos Matteus gered kan word nie. Al was Matteus ‘n Jood nes hulle. Hulle veragting en haat was net dit te veel. 3. Barmhartigheid / omgee is groot by God. Hoe gaan ons ooit hier verby kan beweeg, gegewe al die haat en seer en skeidings in ons land? Uit ons self uit kan ons nie. Wat gevra word is ‘n dieper of groeiende oorgawe aan God. Hoe meer jy Jesus nougeset volg en werklik soos ‘n loot uit Hom die wingerdstok leef, hoe meer deel jy Jesus se ongemak met hoe mense mekaar hanteer. Hoe nader aan God, hoe nader aan ander mense. Kom ek verduidelik dit. ‘n Beeld wat ek raak gelees het in die boek van Martin Laird (Into the silent land) help my geweldig baie. Dit is ‘n beeld vanuit die vroeë kerk Kyk na die prentjie (van 'n ossewa wiel). Die naaf is in die middel. In Engels is dit die hub. Daar waar die as inkom. Die middelpunt van die wiel. Die speke is daar vas. En as dit speke daar loskom of breek, breek die wiel. Okay. Kyk hoe naby is die speke daar aan mekaar. En hoeveel verder is hulle van mekaar waar hulle in die velling ingaan. God is in die middelpunt, waar die naaf sou wees. En ons is die speke. Daar waar ons die “naaste”, of die meeste is soos ‘n loot aan ‘n wingerdstok, intens bewus van God, is ons ook die meeste in eenheid met ander. Is ons ook die naaste aan mekaar. Dit is waar ons mekaar waarlik eers ontmoet. In Christus. In ons saam wees met Christus. Daar is niemand ‘n tollenaar of ‘n sondaar of ‘n vyand nie. En daar leer ek om na ander met God se oë te kyk en net geliefdes te sien potensiële kinders van God tesien. Matteus-se wat volgelinge word. Hoe meer ons soos ‘n loot ten volle uit die wingerdstok leef, hoe meer ons nader aan die as, die hubb of naaf leef, hoe nader beweeg ons aan ander. Hoe groter die barmhartigheid in ons. Jesus se antwoord op die Fariseers se verwyt en vraag is: “Gaan leer wat dit beteken: Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.” Sê Jesus. Barmhartigheid is groter naby die naaf, en minder naby die velling / rim. En afwesig of koud los van die wiel. Terug na my begin storie van kantoor politiek en politiek politiek. Wat as Jesus daardie mens ook wil roep? As daardie steen des aanstoot in jou lewe ‘n Matteus by sy tolhek is wat nog net moet hoor dat Jesus sê volg My? Dalk by jou Jesus se vergifnis en liefde prakties moet sien en ervaar? En as ons sukkel om dit te sien, dan is ek dalk nie meer so naby aan die naaf van die wiel soos ek gedink het nie. Is barmhartigheid vandag nie ook, ek en jy wat vir die Matteus-se by hul tolhekke sê, kom volg Jesus. En dit kan net gebeur as ons ongemak met onsself groter is as ons selfbeheptheid ... en oorgaan in gehoorsaamheid aan Jesus. Volg My! Sê Jesus.