Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 9: 1 – 8 Ken jy die uitdrukking: as dit ‘n slang was dan het dit jou gepik? Gewoonlik gebruik as jy iets soek en dis daar reg voor jou maar jy kan dit nie sien nie. Dan sal iemand sê: “Aggenee man, dis daar reg voor jou. As dit ‘n slang was het dit jou al lankal gepik. Vanoggend het ons te doen met mense wat iets groters kon raaksien en ander wat sien maar ook te blind is om te sien. Ek vra hulp vanoggend. Ek vra dat jy jouself inleef in hierdie vertelling in. Dink jou in as een van die verlamde man se vriende of familie. Voel die die desperaatheid. Voel hoe die farisseers verkeerde kant toe draai. Ons is in ‘n privaat woonhuis. Die nuus het vinnig versprei dat Jesus terug in die dorp is. En jy moet besef: die stories het geloop oor Jesus. Mense het gehoor van al die siekes wat genees is. Van die melaatse man se genesing. Die storm wat stil gemaak is. Om net enkeles te noem. En nou is Jesus hier by hulle in hulle dorpie. En hulle stroom na die huis waar Hy is. Die plek word oorvol. So vol dat die mense wat die verlamde man na Jesus bring nie naby die deur kon kom nie. Dis tyd vir plan maak. Hulle besef hierdie is hulle geliefde se groot kans. Hulle moet hom net by Jesus uitkry. Hoe gemaak? Hulle tel die verlamde man, draagbaar en al, op die huis se dak en lig die teels af sodat hulle hom deur die gat kan laat afsak tot by Jesus. Lukas se vertelling het meer detail en is meer dramaties. Hy vertel hoe mense van oral af oor gekom het. Skrifgeleerdes en Fariseers van selfs die omliggende dorpies af. Hy sê ook dat die Here vir Jesus die krag gegee het om die mense gesond te maak. En dan onverwags word die dakteels oopgemaak en ‘n verlamde man word afgesak na Jesus toe. Die verlamde man wat deur die gat in die dak laat sak is het almal onkant gevang. Voel die geskokte stilte. Die verlamde sê niks. Sy mense sê niks. Gewoonlik het die sieke of iemand anders namens die sieke hulp gevra. Jesus kyk dieper, Hy sien hulle geloof en sonder om gevra te word, sê Jesus: Vriend, wees gerus; jou sondes word vergewe.” En dis hier waar teologie en werklikheid bots. Waar tradisie mense verblind en hulle goed wat reg voor hul oë is begin miskyk. Die Fariseers is heeltemal korrek as hulle sê net God kan sonde vergewe. En hulle is weer korrek as hulle meen Jesus eien Hom self iets toe wat by God tuis hoort. Hy doen. Hulle is egter nou by ‘n vurk in die pad. En hulle vat die verkeerde vurk. Die keuse was 1) Of Jesus is Wie Hy hier sinspeel Hy is, die Seun van God en dus by magte om sondes te vergewe,; of 2) Jesus laster teen God. Hulle kies die tweede opsie. Jesus laster. En dis hier waar ek moet sê as hier ‘n slang was het dit die fariseers gepik. ‘n Waarheid reg voor hulle oë, een wat hulle geken het, en hulle sit nie een en een by mekaar nie. Help my asb. Hier sien jy ‘n verlamde man word genees. En jy glo nie. Wat het jou hierheen getrek? Is dit nie al die verhale van die wonderwerke wat hierdie Rabbie doen wat jou getrek het nie? Is dit nie ook so dat hulle geglo het net ‘n profeet weet wat in ander se gedagtes aangaan? Dink maar aan Jesus by Simon die Fariseer aan huis in Lukas 7. Hier weer. Hulle dink en Jesus antwoord hulle onverwoorde gedagtes. Sê dit vir hulle dan niks? Het die profete dan nie voorspel, Jesaja by name, dat die Messias blindes sal laat sien, melaatses sal genees, verlamdes laat loop ens? Het Jesus nie al keer op keer gewys Hy is Hy Wie die profete voorspel het nie. Dit was tog basiese kennis vir Skrifgeleerdes en fariseers. Hoe is hulle so blind? Ek het verlede Sondagoggend gevra: Wie is Jesus vir jou? Ek het nog gesê dis ‘n vraag om oor na te dink voor die aand se nagmaal. En ek dink ek is reg as ek sê ons het die regte antwoord. Ons weet Wie Jesus is. Hy is die Seun van God. Hy is ons Verlosser. En veel meer. En tog, Hoe is dit dat ons baie dae Jesus steeds miskyk? Doodgewoon met ons lewens aangaan asof Jesus nie in ons werkplek is nie, nie meer wonderwerke doen nie, dalk sommer iewers daar ver is waar Hy nie kan sien wat ek aanvang of hoe ek mense hanteer nie? Matteus wil wys Jesus is die Messias. Dankie. Maar ten spyte van al die bewyse, mis die kenners hul Messias. Is dit moontlik dat ‘n mens jou wonderwerk kan miskyk. Dat jy God kan mis. Al verlang jy na Sy koms. Die skrifgeleerdes en fariseers dink Jesus laster omdat Hy vir die verlamde sê: “Vriend, wees gerus; jou sondes word vergewe.” En as Jesus vir hulle wys dit wat reg voor hulle oë is, dan mis hulle dit. Ek sê jou as die waarheid ‘n slang was daardie dag het dit hulle gepik. Soos per ons gesegde. So wat doen Jesus? “Waarom het julle sulke slegte gedagtes in julle harte? 5 Wat is makliker? Om te sê: ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en loop’? 6 Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op aarde sondes te vergewe.” Hy sê toe vir die verlamde man: “Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.” 7 Hy het opgestaan en huis toe gegaan; 8 en toe die menigte mense dit sien, het hulle God, wat sulke mag aan mense gee, met eerbiedige vrees geprys. Ek het jou gevra om jou in te leef in my vertelling. En toe uit die Skrif gelees. Ek het vir jou uitgewys dat die Messias sou verlamdes laat loop. En duiwels uitdryf. Blindes laat sien. En gedagtes lees. Nou vra ek jou: Is Jesus die Een wat sou kom? Die Messias. Die Seun van God.? Want as Hy dit is, hoekom leef jy nie soos Hy ons lei nie? Wat verhinder jou om die Messias ten volle te volg. In daardie tyd het hulle geglo in oorsaak en gevolg. Jy het erg gesondig, dus is dit hoekom jy siek of verlam is. Die boek Job het al die teendeel gewys. Dit werk nie so nie. Jesus het dit ook al vir die dissipels verduidelik. Van die kommentare reken Jesus het die verlamde se innerlike sonde gesien en dit is hoekom Hy gesê het “jou sondes word vergewe.” Ek kan dit nie sien nie. Siekte en sonde het nie altyd ‘n verband nie. Ek dink nie Jesus het die ligtelik gesê nie. Hy het geweet wat kom en wat so ‘n vergifnis van sonde Hom nog sou kos: die worsteling en angs in Getsemane; die verhoor; geseling en kruisiging. Die stryd om die dood te oorwin. Sonde vergifnis kom met ‘n duur en pynlike prys. En jy moet besef dat as jy dit nie betaal nie, Wie dan? Jesus. Daarom wil ons nie Sy las swaarder maak deur aan te hou sondig nie. Hier is “ jou sondes is vergewe” en “staan op, vat jou draagbaar en loop” op dieselfe vlak. Wisselterme. Die uitslag is dieselfde: Die man staan op en loop. En al die mense het hulle God, wat sulke mag aan mense gee, met eerbiedige vrees geprys. Soos die verhale aangaan, kom jy agter dat die fariseers se blindheid vererger, dat jaloesie intree, dat hulle Jesus uit die weg uit wou ruim. As ek na myself kyk, en ek dink oor dit wat ek beleef het toe ek my ingedink het in hierdie verhaal in, van verskillende hoeke af, as die verlamde, as die vriende van die verlamde, selfs as die skare wat saamgedrom in die huis. Dan wonder ek of ek, ons oop genoeg sou wees om die Messias te kon herken. En ek wonder of ons nie afgestomp geraak het nie tov geloof en Jesus en hoe Jesus in ons lewe wil betrokke wees nie. En ek wonder of tradisies vir party nie harder praat as die evangelie nie. En ek kyk na my eie lewe, soos ek hoop jy jou eie lewe nou bekyk, dat vanoggend se spreekwordelike slang my nie sal pik nie; en dat ek elke keer die regte vurk in die pad sal volg. Agter Jesus aan.