Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Kolossense 1: 21 – 23 en Kol 2: 6 – 7 NAGMAAL Daar is al baie gesê oor mense wat hulle regte ken maar nie hulle verpligtinge verstaan nie. Maar dit is nou nie ek en jy nie. Paulus skryf sulke mooi goed oor ons hier. Hy skryf hoe dinge nou anders by ons is. Hoe ons fokus geskuif het. Ek is seker dat jy dit ook so beleef. Dat God in Christus Jesus ons gered het. Dat Hy van ons nuwe mense gemaak het. Hy skryf dat ons met God versoen is. Dink jou dit in! Ons is met God versoen. Dit wat so onmoontlik was ... vanwee ons swak keuses, ons sondes, is deur Jesus omgeswaai, en nou is God ons Vader. Paulus skryf verder: Ons is nou heilig. Dink jou dit in. God kyk na jou en sê jy is heilig., sonder iets vuil of leliks aan jou. En ek en jy staan oop mond en verwonderd hoe dan nou? Hoe het dit gebeur? Ons ken ons eie swakhede. Maar dit is wat God ons in Jesus gemaak het. Die prys was hoog, bitter hoog. Jesus het gesterf om ons heilig, onbesmet en onberispelik voor God te stel. Ek is mal oor die woord onberispelik. Onberispelik sê daar kan nie met ‘n vinger na jou gewys word nie. Onkreukbaar. Dit is hoe God ons sien in Christus. Vanaand vier ons die Christus. Hy wat dit moontlik gemaak het. Vanaand moet ek ook sê, ek hoop jy het gehoor, .... in alles wat ek nou so opgewonde oor geraak het, ... was daar ‘n in Christus. As jy die in Christus weg vat is ek en jy nie meer dit nie. Daarom in ons tweede deel wat ons saamgelees het, is daar die woordjie “aangesien. Aangesien Christus vir ons gesterwe het en ons geheilig het en en en ....aangesien ... moet julle. Moet ons. Ek weet daar is mense wat sê hulle moet niks nie. Moet is vir hulle ‘n lelike woord. As jy so iemand is, verloor asb so gou moontlik daardie gedagte. Want as jy die moet laat val, verloor jy die in Christus deel ook. Kom ek verduidelik. Het jy al na van Paulus se uitsprake gekyk en gedink ek wens ek kan so met God lewe? Byvoorbeeld Rom 14:8 “As ons lewe, leef ons tot eer van die Here, en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here.” Fil 1: 20,21 “20 Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, 21 want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins. Philippians 1:20-21 Miskien moet ons die moet vervang met “dis my vurige verlange”. Want dit is waar ons wil wees .... uit dankbaarheid uit. Gal 2: 20 20 en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê” Het jy al bv hierdie dele gelees en gedink, as ek maar kon? Wel hierdie verse is die gevolg van “moet”. Dit is hoe verbondenheid daar uitsien. Alles gebeur in ons een wees in Jesus. Moenie vir een oomblik dink dat die lewe die moeite werd gaan wees sonder Jesus nie. Of dat jy God kan vreugde verskaf sonder om vasgebind te bly aan Jesus nie. Of selfs voor God staande sal kan bly as jy nie meer in Christus is nie. 2: 6 sê “ 6 Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, ...” Verbondenheid. Paulus gebruik die woordjie verbondenheid, oor en oor. ‘n Mens wil amper sê dis die magic woord. Soos ons klein kindertjies leer om asseblief en dankie te sê ... jy weet mos, as hul iets wil hê en hul demand net, dan sê ons “wat is die magic woord?” En dit is natuurlik asseblief en dankie. Wel vir ons is die magic woord vanaand verbondenheid. Ek het gedink oor hierdie woord. Toe dink ek die Engelse woord connectedness gaan help verduidelik. Bv soos met die wifi. As ek nie geconnect is op die wifi nie beteken dit alles vir my niks, al is daar wifi in die huis. So connectedness doen ook nie die ding nie. Die afrikaanse woord verbintenis laat my ook in die steek. Praat ons nie van ‘n familie verbintenis nie? Dit kan ver wees. Dink eerder vanaand aan iets soos die wingerdstok en die lote. Of’ n boom. As jy na ‘n wingerdstok kyk, wat sien jy? Ek sien net die vrugte en die mooi takke, ek sien die boom se vorm. Meestal dink ons nie eers aan die wortels nie. Dis weg gesteek diep onder die grond. Maar die wortels doen al die werk. En as die wortelstelsel nie gesond is nie, dan kwyn die boom bogronds. Die belangrike goed in die lewe gebeur eers onder die grond. Paulus sê ons het nodig om ons wortels baie diep in te groei in Christus Jesus in. En as ons goed gewortel is in Christus dan sal mense die vrug van Christus in ons sien. En dit is hoe ‘n lewe lyk wat onberispelik is. Dit is ‘n lewe wat soos Christus lyk. Wat gelykvormig is aan die beeld van God se Seun (Romeine 8). Verbondenheid beteken om te wandel in Christus. Die Griekse woordjie (peripateo), ons vertaal dit met verbondenheid, beteken dat die manier waarop jy lewe so is dat mense kan sien Jesus is die Hoof van jou lewe. Jesus is aan die stuur van sake in jou lewe. Jesus is alles. In verbondenheid aan Christus. Ten nouste verbind wees aan. Waar Sy lot jou lot is, Sy vreugdes jou vreugdes is, Sy dood jou dood is en Sy opstanding jou opstanding word. Ons vier dit vanaand. Christus se dood wat ons dood was en Christus se opstanding wat ons opstanding was en nou vir ons nuwe lewe en ewige lewe gee. Dit is hier wat om vry te wees vra dat jy vasgebind sal wees. Om werklik vry te wees, vry van jou self, vry van sonde, vry van haat ens vra dat jy vasgebonde bly aan Christus. Kyk hoe gebruik Paulus dit: Verbondenheid kom 4 keer voor. • Vers 6: Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, • Vers 10: en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid. Hy is die hoof oor elke mag en gesag. • Vers 11: Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis wat deur mense verrig word nie, maar met die besnydenis deur Christus, en dit bestaan in die wegneem van die sondige natuur van die mens. • Vers 12: Dit het by die doop gebeur deurdat julle toe saam met Hom begrawe is. Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook saam met Hom opgewek, omdat julle geglo het in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het. Voeg nou hierby vers 13 waar die term “saam met” gebruik word. “God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het.” Op verskillende maniere sê Paulus meer as vyf keer in die kwessie van 9 verse dat ons asof vas gebind aan Jesus moet lewe. Dit is duidelik dat dit baie belangrik is. Peripateo, ons Griekse woordjie wat ons met verbondenheid vertaal, word ook elders in die Nuwe Testament gebruik. Dit gaan jou help om te verstaan. Byvoorbeeld in Johannes 10: 38 “die Vader is in My en Ek in die Vader.” En weer in Johannes 15:4 “As julle in My bly en Ek in julle.” Dit is die deel waar die loot in die wingerdstok moet bly. Wanneer kan ‘n loot sy haar maksimum lewe beleef? In die vaswees aan die wingerdstok. As dit los is van die wingerdstok, dan is daar niks oor. Dit verdroog en gaan dood. Dit is ‘n baie sterk beeld. Nie een van ons sukkel om die beeld van die wingerdstok en lote te verstaan nie. Want ons weet, sny ‘n loot af en dit gaan dood. Maar aan die wingerdstok kan dit vrugte dra. 1 Johannes 2: 24: “Wat julle betref, wat julle van die begin af gehoor het, moet in julle bly. As wat julle van die begin af gehoor het, in julle bly, sal julle ook in die Seun en in die Vader bly.” So ook kom die woord voor in die verse wat sê dat die Heilige Gees in ons bly. Kolossense 2: 7 7 in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul.” Kyk die begrippe: in Hom gewortel; op Hom gebou. Dit is die sleutel vir die nuwe lewe. Dit is die sleutel vir heilig lewe. En vir onbesmet en onberispelik voor God leef. Ons is gered deur vasgebind aan Christus te wees. Deur ons verbondenheid aan Christus. Hoekom sal ons nou anders wil leef as om te leef soos ons gered is? Deur Christus. Deur verbonde aan Christus te wees. Jy is gered. Ons vier dit vanaand. Leef jy nou as ‘n loot, vas aan die wingerdstok van waar jy alles kry om te leef , te wees. Dit is hier wat regte irrelevant word en verpligtinge ons vurige verlange word. Waar demands in dankbaarheid omsit. Bly in Christus. Moet nie die in Christus verloor nie.