Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 8: 28 – 34 “Ask me not where I live or what I like to eat ... ask me what I am living for and what I think is keeping me from living fully that.” Thomas Merton Waarvoor leef jy? Christus? Wat keer jou om die Christus ten volle te volg? Is jy onseker of Jesus regtig die Christus is? Die Seun van God? Wel let op na wat Hy doen. Matteus wys op alles wat Jesus gedoen het wat in lyn is met die voorspelling van die profete oor die Messias wat sou kom. Siekes genees. Duiwels uitgedryf en en en. Let vanoggend op Jesus se mag. Was daar al ‘n area in hierdie laaste weke se reis met Jesus aan die hand van Matteus se evangelie, waaroor Hy nie mag het nie? Melaatsheid genees. Vanoggend sien ons Jesus se mag oor die bose. 1. Vasdraai. Ons kan baie maklik vasdraai met vrae. Byvoorbeeld: Ons kan die arme varke jammer kry. Ons kan die inwoners van die streek jammer kry want daar gaan hulle “beleggings” die see in. Hulle brood en botter weg. Ons kan soos ‘n Amerikaanse prediker, ten minste ek neem aan dis ‘n Amerikaner, vanoggend baie gewag maak van hoe die duiwel jou aanval waar dit seer maak. Ons almal weet as jy aan iemand se beursie vat word hulle liggeraak en omgekrap. Hy sê dan die duiwel weet dit en daarom wou die duiwels in die varke in gaan. En met die varktrop en die se inkomste weg gaan die Gadareners Jesus verjaag. En God se koninkryk sal daar uitbly. Of so is sy redenasie. So die duiwel vat waar dit seermaak by die Gadareners. Dit is waar dit jou gaan aanval. Dis goed gesê. Die waarheid is dat die duiwel het met niemand goeie bedoelings nie. Ons almal het gevoelige punte. Goed wat maklik ‘n afsny punt sou kon word as dinge juis daar skeefloop. Nee, dis ‘n veralgemening. Baie mense het afsnypunte as dit by geloof kom. Maar baie mense sal hulle lewens gee ongeag vir Christus. Ons moet ons egter nie laat vang met simptome nie. As jy siek is en dokter toe gaan wil jy nie die simptome behandel hê nie. Jy wil die oorsaak genees hê. Want jy weet dan verdwyn die simptome ook. Kom ons los dan die simptome en ons fokus op dit wat saak maak. Vra jouself af wat wil Matteus bereik met die skryf van hierdie evangelie? 2. Matteus sê: Jesus is die Messias. Van die geslagsregister af, regdeur, is Matteus besig om te wys op een ding en dit is dat Jesus die Messias is. Die oomblik as ons vashaak by die varke of die mense se verlies en die onreg van dit alles, mis ons die Messias. Soos ek hier praat ek besef ek ook hoe maklik mis ons die Messias in ons elke dag se dinge. Soos die Gadareners. Dit het begin as net nog ‘n gewone dag. En toe gaan die duiwels in die varke in en die varke in die see in en toe is dit nie meer nog ‘n gewone dag nie. Toe is dit n nagmerrie van n dag. En Jesus moet net weg. Vergeet Wie Hy is of Wie hulle sou kon ontdek Hy is. Hy moet net uit hulle gebied uit. En hulle mis die Messias. Weet jy wat mis hulle nog? Hulle medemens. Hulle mis die twee mense wat deur Jesus van die duiwels bevry is. Geen vreugde vir hulle nie. Hulle sien net hulle verlies. Hartseer nê? Jesus het mag oor die duiwels en die bose geeste. Jesus het mag oor daardie twee manne se situasie en Hy verander hulle elke dag se lot. Daardie twee mense was gevaarlik. Mense het daardie pad vermy. Die vers sê: niemand kon dit langs daardie pad waag nie. Die twee mense was gevaarlik. Matteus vertel dat hierdie einste twee mense vir Jesus vanaf die grafte af tegemoet gekom. En as jy nou drama verwag, dan kry jy ‘n drama van ‘n nader aard. Ek lees: 29 Skielik het hulle begin skreeu: “Wat het U met ons te doen, Seun van God? Het U hierheen gekom om ons voor die tyd te pynig?” Die duiwels vrees die Seun van God. Die duiwels vrees Hom wat in ons tempel maak. Hoor jy dit? Volgens Matteus was hier nog geen reaksie vanaf Jesus se kant nie. Van die duiwels af wel: 30 'n Hele ent van hulle af het 'n groot trop varke geloop. 31 Die bose geeste het Hom gesoebat: “As U ons uitdryf, stuur ons tog in die trop varke in.” Hulle gesoebat. Hulle versoek. En Jesus het dit toegestaan. “Gaan! Het Hy vir hulle gesê. Wie het die mag hier? Die duiwels het mag gehad. Hulle het twee mense se lewens hel gemaak. Hulle het almal wat daardie pad wou gebruik se lewe ontwrig met aanvalle. Maar hulle moes toestemming vra om in die varke in te gaan. Toestemming by Jesus vra. Nee, ek weet nie hoekom Jesus hulle dit gegun nie. Toe Jesus die storm stilgemaak het, toe vra die mense “Watter soort mens is Hy dat selfs die wind en die see hom gehoorsaam? (8: 27). Hierdie keer, vra die mense iets anders. Hulle het Jesus ernstig versoek om hulle gebied te verlaat. Ek wou gespekuleer het oor die Gadareners. Hulle is nie Jode nie. Die feit dat hulle varke besit het was nie ‘n probleem nie. Ek wou sê dis darem koud van hulle: Geen blydskap oor die redding van die twee mense nie. Hulle het ook nie soos elders keer op keer gebeur het, hulle siekes na Jesus toe gebring om gesond te maak nie. Hulle het skynbaar net nie omgegee nie. Hulle het net omgegee oor hul groot verlies. Dit staan skreiend uit soos ‘n paal bo water nê, dat hulle meer waarde aan hulle varke geheg het as aan die lot en die genesing van die twee mense wat duiwelbesete was. Ek los dit daar. Ek wil nie soos die Gadareners die Messias mis nie. So kom ons hou die fokus op Jesus. Hy het in die skuit geklim, die see oorgesteek en in Sy eie dorp aangekom. 3. Wie is Jesus vir jou? As dit nou net ek en jy alleen bymekaar was, sou ek jou wou vra, wat dink jy? Wat draai nou deur jou gedagtes? Wat voel jy? Ek het die gevoel as jy nou oor die varke wil praat, of oor die Gadareners se verlies, of selfs die twee mense wat bevry is, dan het jy dalk die Messias gemis. Kom ek wys eerder uit: Alles staan en val by Wie is ... Jesus ... vir jou. By die duiwels was daar geen twyfel nie: Jesus is die Seun van God. En hulle was bang. En jy? Wie sê jy is Jesus? Dit is ‘n vraag wat ons moet deurdink voor vanaand se nagmaal. Want wat jy vanaand gaan beleef, sou jy saam met ons nagmaal gebruik, is die skreiendheid dat hierdie selfde Jesus, Wie duidelik die Seun van God is, met die mag om siekes te genees, storms stil te maak en duiwels uit te dryf, Sy lewe aan ‘n kruis opgeoffer het, om jou te red. Met hierdie soort mag was daar nie ‘n manier dat die Romeine of die tempelwagte of wie ookal Jesus sou kon gevange neem en kruisig sonder Sy medewerking nie. Hy kies om Sy lewe op te gee om vir jou die lewe te kan gee. Hoe gaan jy nou op Jesus reageer?