Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 8: 23 – 27 Ek wil begin met ‘n gedig van Brian Plachta: Verskoon asb die Engels. What if You Were Peter? What if you were peter in the boat with the others tossed and battered wind howling waters raging it’s not just this storm you know it’s every turmoil you’ve endured life has beaten disappointed you hunker down into the hull of a wooden boat that crashes upon the sea as life’s waves slap hope out of you in desperation you stand gaze upon the waters wondering if there’s a break in the storm ... As die ergste jou tref --- en dis verby wat jy kan hanteer ... al jou ervarings ten spyte ... en jy vrees selfs vir jou lewe. Dan ontdek jy dat Jesus nog altyd in jou boot was. Immanuel. God hier by ons. Vanoggend is veral vir jou. Ongeag wat in jou gemoed lê, hierdie een is vir jou. Die offisier het ‘n groot geloof gehad. Die dissipels, by hierdie geleentheid, word kleingelowiges genoem. Dit val ‘n mens skerp op. ‘n Vreemdeling het ‘n groot geloof. Jesus se volgelinge word hier klein gelowiges genoem. Dit word nie bedoel as teenoorgesteldes nie. Kyk eerder dieper. Hier is iets wat ons moet leer en verstaan. Dit is belangrik. Die offisier het Jesus se mag herken en erken en daarop gereageer. En vind sy versoek beantwoord. Die dissipels is skynbaar nog onseker oor Jesus se mag, dalk selfs nog effens onseker oor Wie Jesus regtig is. Hulle kyk vas in die storm en raak angsbevange. 1. Die Storm. Net eers dit? Wie het bang geraak? Jou antwoord gaan iets van die omvang van die storm sê. Dit is manne wat die storms ken. Van die dissipels in die boot is ervare vissermanne. Hulle kan ‘n boot hanteer. Hulle ken storms op die see van Galilea. Die Griekse woord wat Matteus hier gebruik en wat ons met storm vertaal, is seismos. Elders in die Matteus evangelie word die woord seismos gebruik om aardbewings aan te dui. As jy daaroor dink, die toestel waarmee aardbewings vandag gemeet word, noem ons ‘n seismograaf. Dit behoort jou ‘n aanduiding te gee van hoe groot die storm was. Uit Markus en Lukas se woordkeuse lei jy af dat daar erge windvlae, en rukwinde was. Alles wil wys, die storm was erg en van so ‘n aard dat selfs die geharde vissermanne oortuig was dat hulle gaan vergaan. Waarskynlik het die wind en die golwe die klein vissersskuit soos ‘n stukkie speelgoed na harte lus rond gegooi. Hulle het alles gedoen wat hulle uit ervaring geweet het om te doen, en nou draai hulle na Jesus toe. Hulle gaan doen wat die storm nie kon doen nie. Hulle gaan maak Jesus wakker. “Here red ons! Ons vergaan!” Letterlik vertaal: Ons is tot niet! (We are destroyed.) Dit is asof die dissipels se oë oopgaan vir wie Jesus regtig is. Asof die wonderwerke nou eers as dinge totaal buite hul beheer is, werklik tot hulle deurdring. Jesus is nie maar nog ‘n rabbie nie. Hy is ook nie net ‘n skrynwerker nie. Hy word hulle enigste hoop. 2. Jesus. Kan ek net weer die ooglopende uitwys? Jesus self was nie ‘n visserman nie. Die see en skuite, was as mens, nie Sy wêreld nie. Ons moet dus elders kyk. En die plek om na te kyk is na God. Matteus wil ons leer dat Jesus is die Seun van God. Die Messias. Hy het mag oor alle dinge. In Matteus 28 word dit tot ‘n hoogtepunt gedryf as Jesus self sê: “Aan my is alle mag gegee in die hemel en op aarde.” Ek en jy word vanoggend gekonfronteer met die vraag: Is Jesus God met ons? En as jy hierdie gebeure in jou lewe wil intrek, vra dan ook, is Jesus dit vandag nog? Is Jesus vandag nog God hier by my? Anders is dit waarmee ons sit dalk net ‘n vruglose stukkie kennis. Dalk in Jesus se oë ... nog ‘n kleingeloof. Ek en jy kan nie bekostig om soos die mense in vers 27 verwonderd te raak en te vra: “Watter soort mens is hy dat selfs die wind en die see hom gehoorsaam?” Daardie verwondering sit nie altyd om in geloof nie. Dit het ons verlede week gesien. Toe het die skrifgeleerde en ook een dissipel net verwonderd gebly maar nie Jesus gevolg nie. Daarom vra ek weer: Kan Jesus deur die wind en die see hard aan te spreek, dit doodstil laat word? Ja of nee? Dink Wie Jesus is. Dink oor wat Matteus hier weergee. Kan Jesus of kan Hy nie? Draai nou na die storms in jou lewe. Ek noem dit maar storms, die krisisse, vrese, wat ookal maak dat jy voel dit gaan nog jou einde beteken. Dink ook in terme van wat die doemprofete, dikwels hoogs geleerde en erkende kenners, sê oor die toekoms van Suid-Afrika. Dink aan misdaad, geweld, moorde, verkragting, korrupsie, al die haat en wantroue. En draai na Jesus toe. Dit is nie meer die mens Jesus wat doodmoeg, uitgeput lê en slaap in die boot nie. Dit is die opgestane Here. Die Lewende God wat alles vul met Sy teenwoordigheid na Wie toe ek jou vra om te draai. Hy sluimer of slaap nie. Hy word nie moeg nie. Hy doen Sy titel van Imanuel, God by ons, absoluut gestand. Sê vir Hom hoe jy voel. Wees eerlik: erken as hierdie storms ver groter is as wat jy weet hoe om te hanteer. Erken maar as die terugkeer na ‘n nuwe normaal jou onseker of selfs benoud laat. En onthou, die storm op die see was werklik. Dit is nie die metafoor van een of ander skrywer nie. Dit is iets werkliks en vir die dissipels ‘n storm wat hulle sou laat vergaan het. En Jesus het dit stil gemaak. Deur ‘n woord te spreek. Sê vir Jesus: “Here, red my? Red ons! Ons vergaan!” 3. Kyk in die boot. Weet jy wat? Jesus was die heeltyd in die boot gewees. Hy was nie ver weg nie. Hy was in die boot. Vir Hom was alles onder beheer. Hy was moeg en as mens slaap Hy. En slaap kon Hy want Hy ken Sy hemelse Vader. Hy het geweet in God se hand is alles onder beheer. Al is die storm hoe groot. Daar word baie gesê in die media en op sosiale media, dat ons is nie almal in dieselfde boot nie. Ons is met die covid-19 virus in dieselfde storm. Maar almal se bote is nie ewe sterk nie. Of iets in daardie lyn word gesê. En ja, sommiges het nie eers ‘n boot om aan vas te klou nie. My boodskap aan jou vandag is, dat dit nie gaan oor die boot of die storms wat ons beleef nie. Die verskil lê in Jesus wat nog ons hele lewe lank in ons boot is. Niks het verander nie. Nie van jou doop tot nou nie. Die Here is hier by ons. En ons moet leer om dit raak te sien en te besef. Die Here is werklik en Hy is in jou boot. William Hendricksen het gesê dat baie van dit wat verkeerd is in die lewe, kan reg gemaak word. ‘n Stukkende wasmasjien kan herstel word. Dokters gee medisyne en doen operasies. Sielkundiges kan verhoudings help heel maak. Maar dit vat God self om ‘n storm stil te maak. Die weer in ‘n oomblik te verander. Ons moet raaksien wat God kan doen en wel doen. Sien God raak in Sy vermoeë om selfs storms te stil. Sien Hom ook in Jesus aan die kruis besig om jou lief te hê en Sy lewe te gee as offer in jou plek. Sien God. Hier is mense wat na hierdie boodskap luister wat deur groot spanning gaan. Ek weet dit vir ‘n feit. Mense wat selfs voel dat God hulle vergeet het en by hulle huis verby gegaan het. Mense wie op breekpunt is. En ook ander wat op hierdie stadium ook maar net deur genade van Bo nog deur elke dag kom. Ek hoop jy hoor: God is in jou storm by jou. God is by jou in die boot. Hy is rustig. Word jy ook rustig. God is in beheer. Iewers het iemand die term of konsep van ‘n perfekte storm geskep. 2020 voel na so ‘n jaar: Die virus, werkstress, retrenchments, werkloosheid, misdaad, korrupsie, besighede wat vou en mense wat alles verloor. En tussen dit alles deur hoor ek van wonderwerke. Van genade op genade. Uitkomste. Ommekere. Ek hoor en sien hoe mense ontdek: Jesus is die Seun van God. En Jesus is by hulle in hul boot. En soos jy dit ontdek, Aanbid Hom dan. Glo Hom en volg Hom! Wat ookal jy doen, bly by Hom.