Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 8: 14 – 17 As jy een van Jesus se dissipels was, wat al hierdie goed gehoor het en al hierdie wonderwerke gesien het, dit alles fisies met Jesus beleef het, en iemand vra jou ... Wie is hierdie Jesus? Wat sal jou antwoord wees? Dit is wat Matteus ons wil vertel: Wie Jesus is, hoe Hy is en wat Hy gedoen het. Hierdie gebeure is nie los van die lewe nie. Doen jouself ‘n guns: Dink jouself in hierdie mense se skoene in. Jy is Petrus se vrou en jy is siek bekommerd oor jou ma. Of jy is die ma, skoonma wat hoë koors het en jy kan nie meer nie ... maar jy weet jy kry gaste, die nuwe Rabbi wat jou voortvarende skoonseun se lewe omgedop het, en dit ten goede, en jy wou regstaan vir Hom. En nou kan jy nie. Probeer jou indink wat hulle beleef het. Kom ons kom terug in ons eie skoene in. Dieselfde Jesus. Dit is net hierdie keer ons lewens. Ons krisisse. Ons ma of kind met Covid-19. Of met kanker. Ons wat nie weet waar die volgende bord kos vandaan gaan kom nie en of ons veilig in ons huise en op ons plase gaan wees. Of .... ... Ons ken eerstehands van die moeilikheid deel van die lewe. Ons weet wat swaarkry is. Ons sien dit daagliks. Veral in hierdie jaar het ons lelike seerkry al gesien en van gehoor en selfs met dit geleef. Die media is vol van die moorde en aanvalle. In ‘n wêreld soos ons s’n, het Jesus saam met ons kom stap en leef. 1. Jesus. Jesus kom sit die mooi in ons lewens terug. Hy bring hoop. Hy red. Hy dra. Die wete dat Jesus hier by ons is elke oomblik van ons lewens maak ‘n reuse verskil. Dat al is dit hoe donker, Hy is by jou en Hy gee ons die lig om nog ‘n voet en nog ‘n voet vorentoe te sit. In hierdie deel in Matteus bring Hy hoop in ‘n gemeenskap wat gesmag het na meer. Jesus, na Wie toe jy kan draai met al die swaar en die uitdagings en die lelik. Met alles. En as jy mooi kyk, in die moeilikste tye steeds iets mooi om ons sit. En dan is daar dae wat Jesus dinge vir jou hanteer voor jy besef hier kom ‘n ding. Byvoorbeeld, iemand was onlangs laat vir hul werk in Alberton en toe hou die robot nog ‘n ewigheid aan om oor te slaan na groen toe. Of so het dit vir hul gevoel. En toe hulle onderdeur die snelweg draai in Michelle avenue in, toe val ‘n vragmotor van die oorbrug af reg voor hulle in die pad. As hulle ‘n minuut vinniger was was hulle onder die vragmotor. Dit is ons Here! God wat soms goed wegkeer om ons te beskerm. God wat red, help nog voor ons kan bid. Vanoggend het ons gelees van so ‘n geleentheid. Kan ek net eers vra: As jy hier lees en luister, hou jou fokus op Jesus. Sien Jesus raak en hoor hoe Sy hart klop. Sien raak hoe dit vir alle mense klop. Warm, vol omgee. 2. Die hart van ons Here. Matteus wil vir ons sê: Jesus is die Seun van God. Jesus is die Messias. Kom kyk, Jesus het die mag oor die lewe. En oor siekte. En vandag steeds het Jesus al die mag orals en in alle domeine. Kyk na die hart van die Een wat alle mag het. Jesus het die melaatse man aangeraak. Sy omgee het gewaag. En Sy deernis het die man ‘n stuk menswaardigheid terug gegee in ‘n wêreld waarin hy op ‘n afstand moes bly en kontak vermy. En baie mense hom waarskynlik verjaag het, of van hom af weg gevlug het. Waar hy baie dalk gebid het, of nie meer gebid het, net gewens het om eerder nie meer te wees nie. Hy hoor: Ek wil. Word gesond! Die offisier is ‘n man van mag en gesag. Die teenoorgestelde van die melaatse. Nie deel van die Joodse volk met geen reg op Jesus se hulp. Hy hoor: “Ek sal hom gesond maak.” En “Gaan terug, en wat jy geglo het, sal gebeur. “ En in hierdie deel kom Jesus aan huis van Petrus en Hy sien Petrus se skoonma siek lê. En Hy wag nie om genader te word nie. Hierdie keer neem Hy die inisiatief en Hy maak haar gesond. Met elkeen is Hy anders. En met elkeen is Hy sag en vol deernis. Soos ook met ons vandag... Hy hanteer elkeen van ons op ‘n ander manier soos Hy wil... Matteus verbind Jesus aan die lydende kneg van die Here in Jesaja 53. Ek het soontoe geblaai en weer gaan lees. Jesaja 53: 10 sê dit was die wil van die Here om Jesus te verbrysel. Ons sondes op Hom te laai. Dat Hy ons siektes dra. En Jesaja 53:1 vra dat ons die mag van die Here hierin sal raaksien. In die feit dat Jesus ons siektes en ons lyding op Hom kom neem het. Ons vertrou op God Wie iets nuuts kan voortbring. Ons God wat vasgedraaide lewens, heel maak. Die wêreld sê lyding is ‘n doodloop straat. Dit is net sleg. Lyding is in God se hande ‘n geleentheid om iets nuuts te ervaar. God by jou te ervaar. Dalk moet ook ons anders oor mag dink. Het die vorige genesing, die van die slaaf van die offisier nie al in hierdie rigting gewys nie? Dat mag nie altyd in die hand van die onderdrukker is nie. En in Jesaja, dat die mag van God gesien kan word in ons siektes ... in God immanuel. God by ons, in ons siektes en lyding. 3. Omgee, ook vir jou. Volgens Markus gebeur die genesing van Petrus se skoonma op die Sabbatdag. Die ete sou dus wees na hulle uit die sinagoge uit gekom het, ongeveer 12:00 se kant. Hulle kom by die huis en hulle gasvrou is siek. Jesus doen dit so eenvoudig. Ek wens ek kon daar gewees het. Hy vat haar hand en die koors het haar verlaat. So eenvoudig. Die krag, die mag van God aan die werk. Matteus sê bitter min verder, ek wens hy het meer uitgebrei oor wat toe gevolg het. Hy sê net: “Sy het opgestaan en Hom bedien.” Sy, was die skoonma van een van Jesus se volgelinge, van Sy dissipels. Is Jesus se omgee oor Sy dissipel se bekommernis oor die se skoonma? Of is dit meer oor die vrou se siekwees? Matteus sê nie. Ons vra want ons wil Jesus beter ken. Die maklike antwoord is seker albei. Wat wel duidelik is is Jesus is Wie Hy sê Hy is. Hy is die Messias. Hy is die lydende kneg van die Here. Hy doen die dinge wat die Messias volgens die Skrifte sou doen. Ons moet die mag van God hier raaksien. En ook God se omgee vir alle mense. En as ek sê alle mense moet jy jouself by die alle insluit. Jy is vir God kosbaar. Jy is iemand vir wie Jesus kruis toe is. Jy is iemand vir wie God baie lief is. En wat is die vrou se reaksie? Sy het opgestaan en Hom bedien. Het sy doodgewoon haar lewe weer opgetel en aangegaan met haar huishouding, wat kosmaak en gaste bedien insluit? Of is dit uit dankbaarheid uit dat sy Hom bedien? Matteus sê nie. Maar as dit jy was, wat sou jou reaksie op jou genesing wees? As jy na Markus se vertelling kyk dan word die woordjie “dien” wat in die Grieks gebruik word vir dit wat die skoonma gaan doen het, kom dit nog 2 keer voor. Die een is waar die Engele Jesus dien. Dien is ‘n normale onderdeel van ons Christenskap. En as jy hier kyk dan is ons gewone werk, in hierdie geval, die skoonma se gasvrou speel, kosmaak en aandra, ook deel van ons diens aan ons Here. Paulus het geskryf ons moet alles doen asof vir die Here. (Bv Efes 6: 5-8). Ons gewone werk is ook dank aan God, kan ook God verheerlik. Matteus gee ons nie kans om te prossesseer nie. Hy gaan aan. Toe dit aand word, skryf hy, ... en dan lees jy van hierdie stroom van siekes en duiwelbesetenes wat die mense na Jesus gebring het. As dit dan op die Sabbat was, (soos Markus dit weergee), dan is die Sabbat verby en die mense kon vrylik rond beweeg. En nou bring hulle al hul siekes en almal wat van duiwels besete was na Jesus toe. Nou is Jesus weer die Een wat dien. En die mense kom om gedien te word. Matteus gee ons geen reaksie van die mense se kant af nie, net hulle het hul siekes gebring na Jesus. Kyk die mag van die Here. Hy het die geeste met ‘n woord uitgedryf. Petrus se skoonma genees deur haar hand te vat, die offisier se slaaf deur net ‘n woord te spreek. Ek wil jou ten slotte terug vat na ons aanhalingvan verlede week uit Hebreers 11: 6” As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy die wat Hom soek beloon.” Daar is geleentheid vir selfondersoek.