Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 8: 5 – 13 Kies een woord om die offisier mee te beskryf? Wat is jou woord? Nederig? Geloof? Hierdie is een van twee geleenthede, of twee mense van wie Jesus gesê het, hulle het ‘n groot geloof. Die ander een was ‘n Kanaanitiese vrou. Opmerklik, nie een was Joods nie. Ek gaan na dit moet terugkom later. Ek sou verwag het van so ‘n offisier dat ons hom sou beskryf met woorde soos magsbehep; entitled, soos in eks belangrik U beter my help; of arrogansie – dis tog ‘n offisier van koning Herodus Antipas se magte. Dalk sou ons dit verwag het omdat dit is wat ons dikwels beleef: Mense in beheer of mense met een of ander vorme van mag treë baie keer so op. En die koerante en twitter en facebook sou vol gewees het van beskuldigings oordat hy ‘n slaaf gehad het. Of hulle sou hulle vingers stomp getik het oor vir wat het Jesus hom nie uitgetrap oor sy slawerny nie. Maar Jesus is nie so nie. En die offisier is ook anders. Ek weet nie of dit Jesus se teenwoordigheid was, wat hom oorweldig het nie, maar hy sê vir Jesus “Here, ek is nie werd ...” Hoor jy dit? Dis die man waarvan Lukas vertel die familiehoofde by Jesus aangedring het om te help en selfs van hom gesê het, “hy is dit werd dat Jesus hom help. Lukas se vertelling is meer uitgebreid as Matteus sn. By Matteus is die klem nie op die man se “dit werd wees” nie maar op geloof. ‘n Geloof van ‘n nie Jood wat groter is as enigiets wat Jesus nog in Israel gesien het. Die offisier self, voel homself nie werd dat Jesus onder sy dak moet inkom nie. Die offisier kom vra hulp. Sy woorde is: “Here, my slaaf lê by my huis verlam en verduur baie pyn.” Wat my tref is dat Jesus dadelik sê: Ek sal hom gesond maak. Geen voorwaardes nie. Geen vinger wys oor die man deel is van die verdrukkers nie. Net .... Ek sal hom gesond maak. Tot op hierdie punt kan ‘n mens nie juis iets uitsonderliks aan hierdie man se geloof sien nie. Net ‘n man met ‘n versoek om hulp. ‘n Man wat hoop dat hierdie Jesus hom sal kan help. En dan breek die man se geloof op ‘n eenvoudige praktiese manier deur. En jy besef hierdie offisier ken gesag. En hy kan mag en gesag raaksien. Of dalk het hy uit alles wat hy oor Jesus gehoor het besef Jesus het gesag. Wat mooi is is dat hy waarskynlik besef het dat volgens die Joodse kultuur sou ‘n besoek aan ‘n heidense huis Jesus onrein maak. Respekvol en nederig sê hy dan U hoef maar net ‘n woord te sê en my slaaf sal gesond word. Jesus het die gesag. Na die kruis en opstanding en net voor Sy hemelvaart het Jesus gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Nou, soveel te meer as met die offisier, word Jesus se Here wees, Sy heerskappy gesien, in wat Hy doen. Geen rituele. Geen handoplegging of enigiets nie. Net “Ek sal hom kom gesond maak.” Verlede week met die melaatse man se storie was dit “Ek wil”. Vandag is dit “Ek sal.” Verlede week geen woord oor geloof. Vandag: Groot geloof. Die offisier sê dit so mooi. 8 “Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Sê maar net 'n woord, en my slaaf sal gesond word. 9 Ek is ook 'n mens wat onder gesag staan en ek het soldate onder my. Vir een sê ek: ‘Gaan daarheen!’ en hy gaan; en vir 'n ander: ‘Kom!’ en hy kom; en vir my slaaf: ‘Doen dit!’ en hy doen dit.” As hy ‘n opdrag gee word dit uitgevoer. En Jesus hoef maar net te sê en hy wat die offisier is weet, dit sal so gebeur. Jesus hoef nie eers na sy huis te kom nie. Jesus kan maar net ‘n woord sê, hy weet dit sal so wees. Dit is dan die geloof wat Jesus verwonderd gelaat het. En daartoe aanleiding gegee het dat Jesus mense van regoor die wêreld af betrek by die koninkryk van God. Daarom, hoop ek, dat jy so tussendeur aandag gegee het vir ‘n beskrywende woord vir jouself. Nederig dalk? Geloof? En selfs ‘n gedagte oor hoe jou geloof sou uitgespeel het in hierdie situasie. Ek fokus jou aandag op jouself want in vers 11 maak Jesus die deur by wyse van spreke oop vir mense soos ek en jy om te deel in dit wat God gee. Om saam met die offisier te mag ontvang. . Iets wat profete soos Jesaja, Jeremia, Amos Hosea en selfs Maleagi lank reeds voorspel het. Ons is deel van die nie-Jode wat die genade van God beleef. En daarmee draai Jesus terug na die offisier met ‘n “Gaan terug, en wat jy geglo het, sal gebeur.” Die man was gesond. Dit is wonderlik dat hierdie offisier so ver gaan vir ‘n slaaf van hom. Volgens Lukas was die slaaf vir hom baie werd. Ek wonder wat is ons werd? Wat is ons werd dat Jesus vir ons kruis toe is? Ek besef ons is dit nie werd dat Jesus vir ons so wreed moes sterf nie. Dit is God se liefde wat Hom kruis toe gedring het om ons te red. Maar die vraag bly knaag: Wat is ons werd? Is ons dit werd dat Jesus enigsins iets vir ons moet doen of gee? Is my gedrag van so ‘n aard, my toeweiding dalk, dat ek kan waag om te dink, ek is dit werd dat Jesus ... vir my doen? In Lukas het die gesinhoofde vertel hoe die offisier op eie koste vir hulle ‘n sinagoge gebou het en dat hy lief is vir hulle volk. Maar ek? Jy? Enigiemand? Die offisier help my baie: Hy sê: “Here, ek is nie werd dat U ...” Hy help my om my aandag terug te skuif na Jesus. Hierdie stukkies geskiedenis is vir ons opgeskryf dat ons kan raaksien dat Jesus die Here is. Die Messias. En in hierdie spesifieke verhaal, ook hoe groot die kloof tussen ons en die die Here behoort te wees. Die offisier is ‘n belangrike man. Tog is hy uit eie besef nie werd dat Jesus na sy huis toe moet kom nie. En tog was Jesus bereid. Toe die offisier sê van sy siek slaaf wat in erge pyn is, was Jesus soos in dadelik, “Ek sal hom kom gesond maak.” Jy kan maar sê: Nou kom, laat ons gaan, dan maak Ek hom gesond. Die offiser verstaan: Jesus hoef nie eers te gaan nie. Hy hoef maar net ‘n woord te sê. Dit is ons Here. Sien Hom raak in Sy mag en gesag. Vir jou en my is dit anders. Ons weet Jesus is die Seun van God. Hoeveel te meer behoort ons te verstaan, ‘n woord van Jesus af is genoeg. Wat Hy sê sal gebeur. Sal so wees. Hy woon in jou. En in my. Selfs tsv ons. In Hebreers 11: 6, staan daar tussen al die geloofsverhale, die volgende: 6 As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.” Die offisier kom na Jesus met die geloof dat Jesus as ‘n man van gesag, net ‘n woord hoef te sê en die offisier se slaaf sal gesond wees. Ek vra van jou dit: Gaan dink oor hierdie verhaal. Gaan lees die preek op ons webblad weer. Of luister dit weer. Met die doel om Wie Jesus is helderder, duideliker te kan sien. En dan dink jy ook oor jouself. En daardie woord waarmee jy jouself sou wou beskryf. Ons hou daarvan as mense dink ons is dit werd. En weet jy, ek dink jy is dit werd. Ek sien die mooi in jou. Ek respekteer jou. En daarom wil ek vra met watter woord moet ek jou beskryf by Jesus? Die familiehoofde in Lukas se vertelling se woord vir die offisisier was: Werd. Hy is dit werd. Sal jy hieroor gaan dink? Asseblief. Insig. Insig. Dis ‘n woord wat ek vir die offisier ook nog sou wou gebruik. Hy het die insig gehad dat hy Jesus nie werd is nie. En die insig gehad dat Jesus ‘n man van gesag is wat net hoef te sê en dit sal so wees. Here, gee ons die insig om U gesag te herken. Die insig om te besef aan U is inderdaad al die mag gegee. Niks is by U onmoontlik nie. U hoef net die woord te spreek en dit sal so wees. Kom ons bid.