Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 8: 1 – 8 Ek het hierdie week een van die vreemste dinge in 33 jaar se bediening gedoen het. Vanweë die Covid -19 virus moes ek per Zoom meets ‘n ter aarde bestelling aan die Rand waarneem. Ek by my lessenaar. Hulle wou my nie blootstel aan die virus nie. Wat ek baie waardeer. Van die familie wat positief getoets het in hul huise en van die ander by die graf. Ook die diens is vooraf opgeneem. Op die kis was ‘n groot geel plakker wat sê “Highly contagious”. Dit was aardig om te sien. Die mens in die kis was iemand kosbaars. ‘n Baie geliefde mens. En dan plak hulle ‘n sticker op haar kis wat sê: “Highly contagious!” Die melaatse man was volgens die opinies van sy tyd “highly contagious”. Hoogs aansteeklik. Mense het melaatses verjaag want hulle is bang hulle steek aan. En tog kom waag hier die man met gevorderde melaatsheid dit by ‘n skare vir net ‘n oomblik met Jesus. Die melaatse man moes iets geglo het om soveel te waag. Hy het geglo Jesus sal die risiko werd wees. ‘n Oomblik saam met Jesus sal genoeg wees. Een oomblik by hierdie Jesus sal sy gesondheid omkeer. Vandag woon Jesus in ons. Hy vul alles met Sy teenwoordigheid. Soos die melaatse man het ons ook ‘n klomp goed oor Jesus gehoor. Ons het meer gehoor glo ek, as hierdie melaatse man. Genesings. Duiwels uitgedryf. Blindes laat sien. Die skare gevoed met net ‘n paar broodjies en twee vissies. En ons weet van die kruis. Wat sal jy waag vir ‘n oomblik met Jesus? En wat sou jy uit daardie oomblik wil kry? Wat is daardie een groot alles verterende ding waarvoor jy nou bid? Ek sit na die deeltjie en kyk en ek wonder .... wat as Jesus nee gesê het? Wat as ek glo in Jesus en ek bid en niks gebeur nie, wat dan? Word ek dan soos die man wat ek as student in Pretoria se middestads woonstelle raakgeloop het? Kom ek verduidelik...... Ons het evangelisasiewerk in die middestad van Pretoria gedoen. Ons het aan ‘n woonstel-deur geklop. Die man het die deur so half vuis eerste oopgepluk. Wou niks van geloof weet nie. Die deur toegmaak. Ons het weer geklop. En begin uitvra oor hoekom so hard? En hy het vertel van sy geloof. En van sy broer wat siek was met kanker. En hoe almal vir hom gebid het. En die Here het hom nie gesond gemaak nie. En hy sê daarom glo ek nie meer nie. Dit is ten diepste ‘n vraag oor wie God dan is. Is Hy net daar vir wonderwerke doen? Ek en jy besef dat alles in die lewe draai om God. En soos Paulus wil ons ook of ons lewe en of ons sterwe Christus verheerlik. Ek vra myself af: Waar lê ek die klem: “Sê die melaatse: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.” Waar lê ons die klem? Op, Here? Of op U wil? Of op gesond maak? (oftewel Gee wat ek voor vra). Ek het gesukkel met hierdie deel. Dit is duidelik dat Matteus weg beweeg van dit wat Jesus mense leer na dit wat Jesus gedoen het. Spesifiek dan genesings. Heel eerste op is ‘n melaatse man. Wat sê ‘n mens vir ons vandag hieroor? Dat God wonderwerke kan doen? Ons weet dit. Die mense van daardie tyd het dit ook geweet. Die leviete het instruksies gehad oor wat om te maak as iemand van melaatsheid genees is. En tog wil dit lyk asof dit nie veel gebeur het nie. Ek besef dis een ding om te weet, dit is iets heel anders as om op daardie kennis te reageer. Dis een ding om te glo, te weet, selfs seker te wees dat God die onmoontlike moontlik kan maak. Jy kan al die stories ken van hoe God Israel uit die hand van onderdrukkers gered het, of in oorloë. Dit is iets heel anders om vandag elke dag daarvolgens te leef. Ek kyk na mense se kommentaar op Twitter oor die regering, ek sien in mense se oë as ek sê God is die redding vir ons land. Hulle stem saam maar hul oë sê iets anders. Dit sou maklik wees om vanoggend te sê Jesus wil alle mense genees. Dit sou waar wees. Maar wat dan van al die mense wat tsv al ons gebede nog nie gesond geword het nie. En wat van die tyd met die giftige slange in die woestyn toe God die Israelite gestraf het. En Moses ‘n koperslang moes maak en op ‘n paal sit en wie as hul gepik is, na die slang kyk, sou bly leef. Lyding, siekte, krisis, is nie eenvoudig nie. Dit is moeilik om te verstaan. En tog beleef ‘n mens in hierdie deel ‘n stuk hoop. As ek Jesus se aardse lewe intrek, asook die kruis, dan moet ek sê: Jesus het kom deel word van ons lyding. Jesus het hierby ons, tussen mense kom staan en kom beleef wat ons beleef. Polities ook. Jesus is nie vêr af of afwesig nie. Hy is hier. In hierdie wonderwerk, die eerste na die bergrede, kom wys Hy Hy is die Messias. Die Seun van God. Die Immanuel: God by ons. Hy doen wat die profete gesê het die Messias sou doen. Of die melaatse man dit als besef het, word nie direk vir ons gesê nie. ‘n Mens besef wel dat toe hy Jesus aangespreek het as Here het hy nie bedoel meneer nie. Saam met die dat hy voor Jesus kom kniel het, besef jy hy het aangevoel daar is meer aan hierdie Jesus as wat hy dalk in woorde kon omsit. Die kniel dui ook op ‘n oorgawe. Soos in ek “hennsop”, ek gee oor aan U. Jy sien dit ook in die woorde “as U wil”. Daar is geen onsekerheid by hom dat Jesus hom kan gesond maak nie. Hy glo Jesus kan. Met die as u wil sê hy eintlik maar net ... my lewe is nou in U hande, doen soos U wil. Sou jy dit kon doen? Ek gaan so bietjie woorde invoeg om die punt tuis te bring. Dink daaroor. Wat is dit wat jy nou vir die Here vra in gebed? Iets groot, Swaars. Iets wat lewensveranderend sal wees vir jou of vir iemand anders. Sal jy oor dit vir Jesus sê: Here as U wil sal U my hiermee help. Maar as U nie wil nie ek is okay daarmee ook. Want dit is die vlak van oorgawe van hierdie melaatse man. Here, my lewe is op. My melaatsheid soos U kan sien en ruik is vêr gevorderd (Luk 5:12). Mense vermy my en ek is uitgestoot uit my familie en my dorp uit. Ek wil rerig gesond word, ek is desperaat Here, en ek weet U kan my gesondmaak. Ek het geen twyfel nie: U kan my genees. En nou: wat is jou volgende woorde? Die man sê in effek: My lewe, my toekoms, my gesondheid alles, is in U hande. As U wil sal ek gesond wees. As U nie dit wil nie, dan is dit okay. Ek sal dit so aanvaar. Hy het kom kniel. As teken van dit wat in sy hart leef. Eintlik is ek nie werd om voor U te staan nie. Ek is niks. Maar ek het U nodig. Dit is wat die kniel op wys. Sy hele lewe oorgegee aan Jesus. In hierdie toneeltjie word die afstand tussen God en mens sommer baie klein. Skielik is God nie meer vêr af nie. Skielik hoef ek nie meer te wonder of God my sal help nie. Jesus sê: Ek wil. En dan gebeur dit wat almal geglo het onmoontlik is. Die man se melaatsheid was onmiddelik weg (8: 3c). Het jy raakgesien hoe Jesus hierdie man hanteer? Anders as die skare mense. Anders as die aanvaarbare manier van daardie tyd. Nie op ‘n afstand nie. Hy het Sy hand uitgesteek en aan hom geraak. Ek beleef ‘n groot stuk deernis en sagtheid in hoe die Here hierdie melaatse hanteer het. Kan jy dink wat dit vir daardie melaatse beteken het. Hulle sê in hierdie vreemde tye waarin ek en jy nou leef kry die drukkies mense swaar want hulle moet sosiale afstande hou, mag nie ander druk nie ens. Hierdie man is deur sy siekte gedwing tot sosiale afstande hou en geen aanraking of drukkies vir hoe lank al nie. Hy waag baie om voor ‘n skare mense reg voor Jesus te kom neerkniel. Hy moes op ‘n afstand gebly het. Kan jy dink hoeveel dit, daardie aanraking vir hom moes beteken het? Die kloof tussen God en hom oorbrug het. Ek kan in my geestesoog sien hoe die skare na hul asems snak. Hoe kan Hy? Hy sal aansteek! Dis ongehoord! Jesus steur Hom nie aan wat die mense dink of die aanvaarbare opvattings is nie. Hy doen wat God wil hê. Hy raak die man aan en genees hom. En nee, Jesus het nie almal van daardie tyd gesond gemaak nie. So ons moet nie ‘n reël wil maak uit wat ons hier sien nie. Hier is nie ‘n resep vir genesing nie. Hier is net nederige opregte soeke na God. Ek wil bly sê oorgawe aan God. Soms vat dit diep gebroke wees, vir ons om werklik alles wat ons in onsself aan vasklou te laat gaan en so by Jesus kom wees: oorgegee. Tevrede met wat ookal Hy wil. Ons geloof is in die Here. Ons glo Hom. Hy is die Seun van God. En hoe Hy beskik oor ons gaan nie jou en my laat ophou glo nie. Here, As U wil” is vir ons meer belangrik as dit wat ons self wil. Mag die Here se genade groot oor ons elkeen wees.