Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 7: 24 – 28 Ek het hierdie week iets gedoen wat ek weet ek nie moet doen nie. Ek het toegelaat dat my gedagtes elke keer direk spring na die twee huise in hierdie deel. En dan word hierdie woorde van Jesus net nog ‘n mooi sedelessie. Hier is wat ek moes gedoen het, en nou saam met julle doen: ‘n Mens spring nie oor die eerste paar woorde in vers 24 nie! Hierdie eerste paar woorde van vers 24 verander alles. Lees hulle weer: “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel ....” Nou is dit baie meer ernstig en intens. Nou gaan dit oor ... ingaan in die koninkryk van die hemel of nie. Nou is dit maak of breek sake. Die woordjie “dan” ... “elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor ....” Watter woorde? In die oorspronklike Grieks vat die “dan” jou terug na wat voor dit gesê is. Hierdie gedeelte is deel van die slot van die bergrede. Die slot het begin by vers 13. En in elke onderafdeling staan daar twee goed teenoor mekaar: • Breë pad vs smal pad • Goeie vrugte teenoor slegte vrugte • Huis op rots staan teenoor die huis op sand gebou. Ek hoop jy het dit opgemerk. Die twee huise staan nie teenoor mekaar nie. Waarop hulle gebou is staan teenoor mekaar. Eintlik is die twee deeltjies is baie dieselfde. Jesus sê: Twee mans het elkeen ‘n huis gebou. Hy sê nie of hulle goed of sleg gebou het nie. Hy sê net hulle het elkeen ‘n huis gebou. Dit kan ook net sowel twee identiese huise gewees het. Dieselfde storm tref albei. Vers 25 en 27 is bykans identies. Net die uitkoms, die uiteinde verskil. Stortreën, vloedwaters en wind. Dink nou aan ‘n sg wadi in Israel. Ek kan dit seker beskryf as ‘n droee rivierloop in die middel van woestyn agtige gedeelte. Daar is bitter slede water in so ‘n lopie. Maar as ‘n groot storm iewers losbreek, dan verander die afloopwater, selfs waar dit nie gereen het nie, baie vinnnig die droeë loop in ‘n kolkende watermassa. Jy wil nie in sulke water se pad wees nie. Wat Jesus wil hê ons moet raaksien is waar die twee manne gebou het. Hy wil ons aandag gefokus op: Waar het die manne gebou? Die een het op ‘n rots gebou. Die ander op die sand in ‘n wadi wat dalk selde water sien. In ons land is daar ‘n 100 jaar vloedlyn. Dit wil sê dit lyk na ‘n veilige plek om te bou want vir jare en jare was daar nog nooit water nie. Maar iewers in die laaste 100 jaar was die water verby tot op die vloedlyn. Die tweede man het onder die vloedlyn gebou. Dit was waarskynlik, so op die oog af okay, veilig en gerieflik. Tot op een dag en een storm. Daardie een dag, daardie een perfekte storm, as ek dit so mag uitdruk waarvan Jesus hier praat is die eindoordeel. Onthou, die “Elkeen dan ...” waarmee vers 24 begin, koppel terug na die bergrede, en dit sluit aan by die bree en smal weg, die bome met of goeie of slegte vrugte, en Jesus wat sommiges by Sy feesmaal inlaat en ander mense wat in Sy Naam aangrypende dinge gedoen het, word uitgesluit. En alles hangaf van waarop jy jou lewe gebou het. En dit is hier wat versoekings weer kop uitsteek. ‘n Mens wil begin uitbrei op die rots. Jy wil goed indra in die deel in. Byvoorbeeld dat Petrus se belydenis dat Jesus die Christus is, die Seun van God, die Rots is waarop ons moet bou. En jy sou nie verkeerd wees nie. Indirek kom dit hierop neer. Ons fondament is Jesus. Sy kruisdood en opstanding, Hy wat ons reinig van al ons sondes en ons wedergebore maak. Dit is ons fondament. Maar as jy dit by hierdie deel insleep, dan mis Jesus se punt hier totaal. En waar eindig ‘n mens dan op? Met ‘n grend huis in ‘n wadi? In die hele bergrede sê Jesus jou lewe moet meer inhou as die van die fariseers en skrifgeleerdes van daardie tyd. En in detail het Jesus voorbeeld op voorbeeld gegee van hoe ‘n mens lewe in die koninkryk van die hemel. Hoe ‘n lewe daaruitsien wat meer inhou as mens wat sê Here, Here, het ons nie in U Naam ... Kyk na vers 21, 23 en 24: 21 “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. “23 Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.” 24 “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met 'n verstandige man wat sy huis op rots gebou het.” Die beeld van die smal weg en die bree weg het na hierdie verse opgebou. Aan hierdie verse herken jy ‘n vals profeet. Aan hierdie verse lê die geheim vir goeie vrugte: Die doen van God se wil. Die hoor en doen van wat Jesus verkondig. God stel nie belang in leë beloftes nie. God begeer veranderde lewens. Want as jou lewe nie verander het nie dan het Jesus verniet vir jou gesterf. En met verander bedoel ek doodgewoon as ons nie Jesus se woorde ons eie maak en probeer prakties uitleef nie, kon ons netsowel nooit Jesus se woorde gehad het nie. Geloof is om te glo dat Jesus beter weet as ek en jy hoe ons ons eie lewens moet leef. En daarom doen ons dinge soos Jesus weet die beste is. En as die storms kom dan ontdek ons dat ons lewenshuis staande bly. Maar as ek Jesus se woorde koester maar steeds my eie kop volg, en die perfekte storm tref ons, dan gaan ek ontdek ek het in ‘n wadi gebou en daar word ek meegesleur weg van Jesus af. Dit gaan hier in hierdie preek van Jesus oor `n keuse wat elke mens moet maak om te doen wat Jesus sê. Dit is die rots – doen wat Jesus sê. Die sand is om te weet wat Hy sê en dit nie te doen nie. Kan ek dit weer uitwys?: Die man wat op die sand gebou het, het ook na Jesus geluister. Sy woorde was vir hom interessant, hy het dit dalk self aangehaal. Dis net – hy het dit nie gedoen nie. Hy het nie in lyn met die bergrede geleef nie. Hy het maar aangegaan om dinge op sy eie manier te doen. Hy het toe ook `n heel mooi huis gebou. Maar net op die verkeerde plek – op die sand. Solank dit nie gereën het nie het alles goed gegaan. ‘n Mens kan so maklik laat los en op ‘n makliker plek gaan bou. En alles kan wonderlik goed gaan. En dan gaan Jesus se waarsku in vervulling. Was dit dan alles die moeite werd? Jesus is duidelik: Wees verstandig. Wees soos Jesus. Bou op gehoorsaamheid aan God. En ja, dit is God se wil dat jy in Sy Seun glo.