Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 7: 15 – 23 Die plan was om oor elkeen van hierdie twee dele afsonderlik te preek. Om twee redes gaan ons dit nie doen nie: • Die Griekse woordjie poein. Ons vertaal dit met vrugte dra. • Die opbou van hierdie deel Vers 15 tot 20 bou op tot ‘n hoogtepunt in vers 21. En na vers 21 volg ‘n verdere verduideliking van vers 21. Vers 21 sê: 21 “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.” Kom ons lees die hele gedeelte nou. Onthou jy nog die gedeelte waar die profeet Nathan vir koning Dawid aangespreek het oor Dawid se affair met Batseba? 2 Samuel 12. Natan het eers vir Dawid ingetrek met ‘n storie oor ‘n ryk man wat ‘n arm man se enigste lammetjie slag. En dadelik is Dawid ingetrek en kwaad en hy spreek daar en dan ‘n oordeel oor die ryk man uit. Waarop Natan dan sê: “Jy is die man!”. Matteus doen dit met jou en my ook. Hy begin daar waar ons veilig voel. Ons voel selfs krapperig oor mense wat die evangelie verdraai of met allerhande valse stories oor Jesus en geloof kom. En dan, en dan, kom hy met vers 21 en sê oppas dat dit nie jy is nie! Dit gaan ook oor wat hulle gedoen het, as hulle nie besig was om dinge in Jesus se Naam te doen nie. Dit gaan oor wie hulle was as hulle gedink het niemand sien hulle nie. Die belangrikste ding vir ‘n dissipel van Jesus, ‘n leerling van Jesus, is, wees soos Christus. Be Christ like. Wie jy is en hoe jy is is meer belangrik as al jou woorde. Kom ons kyk net weer: Die gedagte van vers 16 kom weer terug in 20: “16 Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. Kry 'n mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan dissels?” “20 So sal julle die vals profete dan aan hulle vrugte ken.” Met die “punchline” in vers 21: En nou praat Jesus skielik nie meer van die vals profete nie. 21 “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. In vers 21 praat Jesus nie meer van die vals profete nie. Hy praat van jou en my. Die oordeel wat die vals profete tref, tref nou jou en my. In vers 21 word poein (om vrugte te dra), nou dade. So as jy gesukkel het met die konsep van vrugte in jou lewe, hier word dit nou dade. Dit wat jy doen wys wie jy regtig is. Nie woorde nie, nie voornemens nie maar dit wat jy doen. Daaraan word ons geken. Ook ek en jy wat deur genade alleen gered is, wat bely ons word deur Jesus gered, ook ons moet nou kom staan dat die vrugte van ons lewens, dit wat ons gedoen het, bekyk en ondersoek kan word. En blaai jy na die boek Openbaring toe, Openb 14:13 en 20:12,13 word dit wat jy gedoen het ook ter sprake gebring. ‘n Dissipel van Jesus tree soos Jesus op. Straal Jesus uit. Hulle aanvoelbaarheidstemperatuur is Jesus se liefde. As daar ‘n diskrepansie is tussen wat jy sê en wat jy leef, dan is jy soos ‘n vals profeet. As mense nie jou geloof in wat jy is en hoe jy doen, kan sien nie, is jy dalk net soos ‘n vals profeet. Kyk weer na wat Jesus hier sê: Hy praat van mense wat voel maar hulle ken Hom. Dit is mense wat vir Jesus aanspreek as Here, Here. Die Here Here aanspreekvorm, herinner sterk aan ‘n Joodse liturgiese ritueel. Aan iets wat hulle in hul godsdiens beoefen het. Maw Jesus sê: jy kan die ritueel, die uiterlike goed baie mooi regkry en steeds geen werklike verhouding met Jesus hê nie. Jeremia 7 gee netso ‘n mooi voorbeeld. Dit klink ampertjies soos ‘n parrallel vir Matteus 7: 3 So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Maak julle lewe en julle dade reg, dat Ek julle kan laat bly in hierdie land. 4 Moenie julle vertroue stel in leuens nie. Julle sê: “Ons is veilig! Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel!” 5 Maak liewers julle lewe en julle dade reg. Doen aan mekaar wat reg is, 6 moenie vreemdelinge, weeskinders en weduwees onreg aandoen nie, moenie mense onskuldig om die lewe bring in hierdie land nie en moenie ander gode dien nie. Dit sal onheil oor julle bring. 7 As julle aan My gehoorsaam is, sal Ek julle in hierdie plek laat bly, in hierdie land wat Ek vir altyd aan julle voorvaders gegee het. “ Jeremia se tyd se mense het gedink solank ons bely “Ons is veilig! Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel ...” is ons okay. Maar hulle het gerieflik nagelaat – seker omdat dit nie ingepas het by die bree pad waarop hulle so lekker gestap het nie – hulle het gerieflik nagelaat om God se wil te lewe. Hulle dade en hul belydenis het nie by mekaar gepas nie. Jesus sê vir mense wat graag sê “Here, Here”, of watter ander belydenis, jou lewe moet strook met jou belydenis. As die Here, jou Here is, dan leef jy jou Here se wil. Dan doen jy die wil van ons Vader wat in die hemel is. Maak jou dade reg. Jou dade sal wys of jy ‘n omkeer gemaak het van die bree pad af en die ingang na die smal weg gevind het. Wat is die “wil van die Vader” waarvan Jesus in vers 21 praat? Heel eenvoudig: Dit is alles wat Jesus tot hiertoe in die bergrede geleer het. Al die stene wat Jesus sorgvuldig tot hiertoe gelê het, het ons gebring by hierdie steen: 21 “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Matthew 7:21 Die implikasie van vers 21 is baie duidelik: Dit is nie genoeg om Jesus te erken as die Messias, of die Seun van God of om Hom Verlosser te noem nie. Die koninkryk van die hemel vereis `n persoonlike verbintenis wat jou lewe so diep raak dat jy nou optree en leef soos God weet die beste vir jou en my is. Daar is ‘n gesegde wat sê jy kan besig wees met die dinge van die Here sonder dat jy die Here van die dinge geken het. Tot hiertoe kon jy aan ander mense dink. Jy kon soos Dawid jou vervies het vir wat ander mense aan ander doen. Nou is die punt wat die vinger na my en jou gewys word: Jy is die mens! [Stilte]. Ek het nie woorde nie. Wat maak ‘n mens met jou te besig wees? Ek wil net by die Here sit en om vergifnis vra. Ek wil tog nooit hoor dat die Here ooit sê “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.” Matteus 7:23 Ek hoop ons besef dat as Jesus sê ek het jou nie geken nie, dan gebruik Hy nie ken soos ek en jy dit doen nie. Ons sê ek ken iemand wat dit of dat doen en dan bedoel ons eintlik ek weet van. Jesus bedoel dit in die ou Hebreeuse sin waar ken bedoel jy en daardie persoon is in ‘n noue persoonlike verhouding. Nabye konstante kontak tussen julle. ‘n Kontak, meen ek, wat jou en my verander. En natuurlik is dit eers by die eindoordeel waar dit gebeur. Matteus 25: 31 praat dieselfde taal as Jesus die skape van die bokke skei. En nee, ons weet nie wanneer dit gaan uitspeel nie. Behalwe dat dit onverwags sal kom soos ‘n dief in die nag. Wat ek wel weet is dat hier en nou is daar kans om ons verhouding te bou met Jesus. Om Hom lief te hê en vanuit Sy liefde te leef. Om tyd met ons Here deur te bring. Kom ons maak Jesus weer prioriteit in ons lewens.