Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 7: 13 – 14 Ons almal ken die prentjie van die breë en die smal weg. In die vorige eeu het baie huise so ‘n prentjie gehad. Jy kan duidelik die bree weg met al sy euwels sien en die smal weg met net so ‘n paar mense op. Wat as ek vir jou sê die prentjie is nie heeltemal korrek nie? Wat as ek sê die prentjie moet eerder nie vir jou die smal weg wys nie omdat dit ingang na die smal weg ‘n versteekte ingang is wat jy moet soek. Want vers 14 sê dat die wat dit kry is min. In baie wedlope, ek praat van langafstand wedlope of rallies is daar gereeld kontrolepunte. Ek skep vir ons ‘n kontrolepunt vanoggend. Jy is nou by ‘n kontrolepunt. En in my beeld, by hierdie kontrolepunt, hetsy in jou sitkamer of hier in die kerkgebou, staan Jesus nou by jou. En Hy vra: Glo jy in My? En met jou hele hart antwoord jy: Ja, Here, U weet ek glo. En die Here sê, wag, jy verstaan nie. Kom Ek vra jou so: Glo jy My? En weer antwoord jy: Ek glo U Here. U weet ek glo. Sagkens, dalk met ‘n sug, vra Jesus ‘n derde keer: As jy in My glo, en siende dat jy My glo, hoekom noem jy MY Here Here maar jy doen nie wat Ek sê nie? (Jesus vra dit in Luk 6:46). Hier waar jy nou sit en luister, antwoord nou vir Jesus. Verduidelik vir ons Here hoekom jy nie kon doen dit wat Hy weet die beste is nie. Antwoord die Here se vraag wat Hy daar in Lukas 6:46 gevra het. Hoekom doen jy nie wat Hy sê nie? En ek wonder of al die verskonings nie te make het met goed wat ons op die breë weg besig hou nie. Wat vir my duidelik is, is hier is twee werklikhede. Of twee benaderings tot die lewe. Die een is baie populere en het groot aanhang. Mense stroom soontoe. Dit kom as t ware vanself. Dis maklike keuses. Die ander een vra tyd en energie. Jy moet soek. En min vind dit. Jesus begin hier met Sy samevatting , of slotopmerkings van Sy bergpreek. HY gebruik 4 beelde, of 4 kontraste. Ons het die eerste een saamgelees. 1. Smal versus die breë weg (7: 13 – 14) 2. Die goeie boom vs die slegte boom (7: 15 – 20) (sluit die vals profete in). 3. God se oordeel (7: 21 – 23) (Ken Jesus jou of is jy een van die wat Here Here sê maar ....) (eiewilligheid?) 4. Hoor en doen: huis op rots en die huis op die sand gebou (7: 24 – 28) Hier is dit wat deur al vier loop: Gehoorsaamheid. Die smal weg is gehoorsaamheid. Die breë weg is waar jy doen soos jy lus kry. Op die breë weg kan jy oordeel en jy kan haat en jy kan mense afskryf. Jy kan liefdeloos leef en jy kan skatte opgaar op aarde en jy kan ‘n emmer oor jou lig sit. Jy kan worrie ook. En jy hoef jouself regtig nie met so en so te versoen nie. En jy kan maar die ander geslag soos objekte hanteer en jy kan begeer soveel jy wil. Jy kan ‘n slaaf wees van jou begeertes. Dit wat jy geniet, nog meer van dit, dankie. Op die breë weg “anything goes”. Dit is eintlik vervelig en voorspelbaar. Dit is soos om die snelweg te ry. Dit is vinnig, maar raak gou eentonig en dis dikwels reguit. Of jy kan die kleiner paaie op reis en die mooiste bergpasse en natuurskoon beleef. Dit is stadiger, jy gaan harder werk, maar dis ongelooflik meer belonend. Jy ontvang lewe. ‘n Voller mooier lewe en op die lang termyn die ewige lewe met God. Hier en nou ontvnag jy die lewe in God se teenwoordigheid. En langtermyn, vorentoe, die lewe vir ewig ten volle by God. Jou besluit. Die poort na die lewe lei is smal want dit is soms veeleisend. Dit vra geloof, dissipline, en integriteit. Dit vra selfverloëning. Maar dit gee soveel meer terug. Ek kan jou egter belowe as jy dinge begin doen soos Jesus sê dan gaan jy nooit weer eentonig beleef nie. Ek moet hier bysê, dit gaan ‘n ander soort opwinding en bekoring inhou. Dit wat jou tot hiertoe opgewonde gemaak het of bekoor het is dalk breë weg goed. Want ons praat nou van: Laat U koninkryk kom; laat U wil geskied hier op aarde, netsoos in die hemel. Kom ek trek dit nader aan ons: Die keuse vir die smal pad is die keuse vir laat U wil met my geskied, hier vandag, netsoos dit in die hemel geskied. Dit is die smal pad se bekoring. Die poort na die smal weg, is die ingang na die koninkryk van die hemel. Die koninkryk van die hemel waarvan Jesus in Matteus 4: 17 gesê het het naby gekom. Jesus is daardie ingang. As jy Jesus in gehoorsaamheid volg is jy op die smal weg. Die padjie wat jy voor soek en vind en die mooiste uitsigte op beleef. Interessant. Jesus sê hier niks van ‘n eind bestemming nie. In vers 21 praat Hy van die koninkryk van die hemel. In vers 21 is jy ook by ‘n ingang. En let op wie gaan deur daardie ingang kan gaan: “maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.” Ons fokus is vanoggend nog nie op die eindbestemming nie. Ons fokus is op hoe ek hier en nou leef. En die poort en die pad wat ons nou soek, is elke keer enkelvoud. Daar is net een poort en net een pad. En dit is Jesus. Dink, roep bietjie op Johannes 14 waar Jesus sê : “Ek is die Weg die Waarheid en die Lewe.” Jesus is die ingang, die poort tot die lewe. Daar is nie ander paaie nie. Christus alleen. Ons beeld of vraag aan die begin kom nou weer terug: As Jesus dan die weg is, hoekom is ons nie gefokus, ge-commit op Sy weg nie? Jesus het Sy dissipels geroep in 4:19 met ‘n “Kom hier, Volg My! En Ek sal julle vissers van mense maak.” En jy is een van die min wat die poort wat na die lewe lei gevind het. Jy is geroep. Onthou, daar is verskillende roepinge, daar is evangeliste, herders, leraars, profete (Paulus in Efes 4). Diesulkes is geskenke aan die gemeente sê Paulus in Efesiërs 4. Nie almal is dit nie. Maar almal is geroep en almal is dissipels van Jesus. Ons is almal mense wat elke dag by Jesus leer. Ons is mense wat Jesus volg. En Hom nadoen. Aan die begin het ek gepraat dat die prentjie van die bree en die smal weg, dalk net verkeerd is. Ek wil daardie gedagte nou weer optel. Jy vind nie die poort, en jy leef nie die smal pad sonder Jesus nie. Jy leef dit agter Hom aan. Jy leer om Hom na te doen. En dit alles gebeur soos jy by Jesus leer hoe om jou eie lewe, jou hele lewe, hierdie lewe van jou met werk en gesin, vriende en ontspanning en alles ingesluit, te leef. Ons moet nie blind wees ook nie, die deel oor die vals profete sal dit uitwys, jy sal altyd mense hê wat lyk asof hulle op die smal pad leef maar in werklikheid meer tyd op die bree pad stap. Dis mense wat ongemaklik is met gehoorsaamheid. Dit is mense wat Jesus op hul eie terme wil volg. Dit is mense wat God en die wêreld lief het. Jesus wil jou en my leer hoe om ons eie lewe tot eer van God te leef. En as jy Jesus volg, en jou keuses maak soos Hy hulle uitwys vir jou, kom jy alhoemeer agter dat jy op ‘n pad leef wat anders is as die een wat jy voorheen gewoond was en wat jy baie mense sien leef. Nie ‘n nuwe pad met allerhande nuwe moets en moenies en verpligtinge nie. Maar ‘n eenvoudiger pad waar jy God kan liefhê, en waar jy God se liefde beleef. ‘n Pad vol van Jesus se vrede en vreugde in jou. Stop ‘n oomblik by hierdie kontrole punt in Matteus. En kyk of jy nog Jesus kan “sien” voor jou. En vra: Vader, is ek op die regte pad?