Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 7: 7 - 12 Ek hou van ‘n resep. Jy weet mos, soveel meel, meng dan die nat bestandele saam. Vou dit by, sit dan dat in. en as jy elke stap noukeurig volg dan het jy ‘n flopvrye koek. In ons geval vanoggend is die resep blykbaar heel eenvoudig: jy moet net vra om te kan ontvang. Soek en jy sal vind. Iemand het jare terug vir my gesê jy moet net glo ook. So is daar boonop boeke vol “resepte”, of stappe vir gebedsverhoring. Stappe wat jy net reg moet toepas om te kry wat jy wil hê. Hierdie deel is nie so ‘n resep nie. Hierdie deel werk nie so nie. God deel nie resepte uit nie. God bou liefdevolle verhoudings. God gee jou die voorreg om in ‘n verhouding met Hom te kom leef. Die voorreg om Hom lief te hê. Die voorreg om vanuit Sy liefde te leef. En in jou by-en-met God leef, ... ontdek jy wat God wil hê en dit word iets wat jy ook wil hê en jy bid daarvoor en jy ontvang. Die mooi is, dat ons dit wat God wil hê voorkeur gee ... want ons het reeds ontdek God sorg vir ons. En ek weet die teenoorgestelde van wat ek nou net gesê het is ook waar. God gee ook vir mense wat vra wat dalk nog nooit in ‘n verhouding met Hom gestaan het nie. Bv die moordenaar aan die kruis. Die gedeelte is moeiliker as wat ‘n mens dink. Dit klink so eenvoudig: Klop. Vra. Jy sal ontvang. Baie mense het al gedink hierdie is soos ‘n oop kredietkaart waarmee ek enigiets kan kry wat ek wil hê. Net om te ontdek dit werk nie so nie en dan teleurgesteld te staan. Deel van die mislukking is dat baie mense sê “Ek het U lief” maar die klem is op die ek en nie op die U nie. Hulle het God lief vir dit wat Hy vir hulle kan doen. Ek sê dit weer: As jy sê ek het U lief, Here, maak seker die klem is op die Here. Miskien is die opskrif die misleidende deel. Die opskrif sê gebedsverhoring. En opskrifte is latere toevoegings. Kyk jy na dit wat Jesus steen vir steen hier bou, en jy kyk na die stene wat reeds gelê is, dan sien jy dit gaan oor menslike verhoudinge en oor jou verhouding met God. Dit gaan oor hoe jy met God lewe. ‘n Sleutelsteen, ons moet hierdie een nie mis nie, ‘n sleutelsteen waarop hierdie teksverse gebou is, is Matteus 6:33: Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. As jy die sleutel mis dan gaan jy bid vir wonderwerke en as jy jou wonderwerk gekry het dan gaan jy God net daar los en sonder Hom wil aanbeweeg. Want die klem in jou ek het U lief Here, was nog altyd op die ek. Op jou self. Hierdie deel gaan oor ons binne in, deel van, die koninkryk van God. Ons lewe as kinders van God. Hierdie deel gaan oor die lewe hier en nou vir jou en my in die koninkryk van God. In die koninkryk van God is ons verhoudings so met mekaar dat ons van mekaar goed kan vra en dit sal ontvang. Ons sal vir mekaar ook kan vra oor die splinter in die se oog sonder dat die ander een ons kop af sal byt. En in die koninkryk van God kan jy by God vra en jy sal ontvang. Ek bly sê, in die koninkryk van God, want dit sê alles: koninkryksmense het selfsug en eie belang gegroet. Dis op pad uit. Hulle vra nie vir luukshede of selfsugtige goed nie. Hulle vra na wat God wil en vir wat goed is vir ander. En hulle kan want hulle weet dat God reeds weet wat hulle nodig het nog voor hulle daarom vra. Hulle, ons, weet, uit eie ervaring, dat God vir ons sorg soos Hy ook sorg vir die voëls en die lelies. Ons ken ons waarde by God. Hy het ons lief. Jy wonder dalk waar kom ek aan dit alles? Ek help jou: Wie is die julle? Wie is die julle vir wie gegee sal word? En wie is die elkeen wat sal vind en vir wie oopgemaak word? Die “julle” hier staan teenoor die “skynheiliges” van 6:5 en 16. En die “julle” staan teenoor die heidene in 6: 7. En die “julle” en die “elkeen” is die julle wat ‘n Vader het wat weet wat julle nodig het in 6:8. En die julle is nie die ongelowiges van 6:32 wat bekommerd is oor wat hulle gaan eet of aantrek nie. Die julle is die wie se hart in die hemel is (6:19-20). Die julle is hulle wat hulle allereers beywer vir die koninkryk van God. (6:33). ‘n Mens moet nie wêrelds na hierdie deel toe kom nie. Moenie kom met ‘n ingesteldheid wat net wil hê nie. Wat wil kom haal nie. En onthou wie is geseënd. Van die begin van die bergpreek het Jesus al gesê Matteus 5:3): Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is. In hierdie geval so afhanklik soos ‘n seun wat sy pa om brood vra, of vir vis. ‘n Seun wat sonder sy pa niks sal hê om te eet. Die vra en klop is iets wat aanhou. Dis nie een malig nie. ‘n Mens lei af dis ‘n elke dag se ding. Elke dag sal die kind om kos vra. En so is ook ontvang en kry teenswoordige tyd. Hier en nou ontvang ons, kry ons. En nou kan ons in die gemeenskap van die gelowiges, vir en van mekaar dinge vra en ons sal ontvang. Want ons verhoudings is anders. En ons dink aan mekaar en luister na mekaar se versoeke met vers 12 in gedagte: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.” Weer hoor ‘n mens wedersydse verhoudinge. Doen aan mekaar. By ‘n ander geleentheid het Jesus ook gepraat oor waarop die wet en die profete neerkom. Toe het Hy gesê hoe ons vir God moet liefhê en dat ons vir mekaar moet lief wees soos vir onsself. En as jy dan hierdie beginsel leef, die beginsel van ek het jou liewer as myself en ek sal net aan jou doen wat ek aan myself gedoen sal wil hê, --- dan het jy vrymoedigheid om ‘n medegelowige iets te vra. En jy gee self graag, en jy help ander vind. En jy klop saam met hulle by God. Die rabbies het van gebed gepraat as om te klop aan die deur van God se omgee. Gebed is die dieper kant van hierdie deel. Dit is waar die opskrif dan inkom: Gebedsverhoring. Weer vloei dit uit jou verhouding met God. ‘n Pa kind verhouding. Vers 11 sê: “As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?” Die goed wat die kind voor vra is eintlik net die stapelvoedsel van die mense van daardie tyd. Die daaglikse brood. En ons gee almal vir ons kinders dit wat die magies moet vol maak en wat ookal anders hulle regtig nodig het. Ons gee ook nie alles wat hulle dink hulle nodig het nie, soos bv die nuutste Iphone nie. Dit is ek en jy daardie. Ons wat graag net die beste vir ons kinders begeer. En wil gee. Jesus sê as jy dit van ‘n pa verstaan, dan kan jy verstaan dat God nog meer so is. Daarom: Vra. Klop. Soek by God. Jy sal vind. Jy sal ontvang. Kom vra soos ‘n kind. Vra in afhanklikheid. Ek wil net weer sê: Hierdie is nie ‘n resep wat jy moet volg om te kry wat jy voor vra nie. Hier is nie voorwaardes nie. Hier word gebed ook nie gekoppel aan vergewe nie. Ander kere wel. Wat hier deurbreek is God se goedheid vir Sy kinders. Hier lees jy dat God veel meer van ‘n Pa vir jou en my is as wat ek en jy kan droom om vir ons kinders te wees. Hierdie is ‘n tuiskom teks. Ons wat deur Jesus ingetrek en tuisgebring word in God se huis, en in God se koninkryk. En dan ontdek dat God vir ons gee waarvoor ons vra. Hier beleef ons die hart van God. ‘n Liefde wat ons nie veroordeel nie maar gee wat ons om vra. Kom in. Kom tuis by God, ons Vader.