Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 7: 1 - 6 Vandag is dit weer terug skool toe. Nie dat ons solank weg was soos die kinders nie, maar ons keer vandag terug na alles wat Jesus ons wil leer oor hoe om Hom te volg. Geloof, lyk so. Om Jesus te volg, sluit hierdie deel in. Hoe jy ookal oor hierdie deel wil dink: dit is ononderhandelbaar. Dit is kenmerkend van die koninkryk van God. Dit is een van die dinge wat jou as gelowige radikaal kan laat uitstaan, en jou andersheid sal mense trek na God se koninkryk. Vers 1 is radikaal: Moenie oordeel nie! My beeld van terug skool toe: ek onthou hoe onderwysers lat in die hand wou kyk wat jy nog onthou. Of jy die vorige werk onder die knie het. Nou vandag sonder ‘n lat, maar diep besorgd, kyk ons wat ons onder die knie gekry het. Dit is nodig want teveel mense pas die Bybel by hulle leefstyl aan en te min pas hulle lewens by die Bybel aan. Ons word gevra om anders te wees, om beter te doen as dit! Hierdie deel is soos ‘n steen vasgemessel op ander stene. En jy bekyk ‘n steen, ‘n steen se drakrag word bepaal deur die ander stene wat onder en om dit vasgemessel is. Om daardie ander stene te bekyk, om te sien of ons tot hiertoe stewig gebou het op ons fondament, blaai ‘n bietjie terug in die bergrede. Wat sien jy? Jy is sout vir die aarde. Jy is lig vir die wêreld. En die steen hierop gebou, jy is iemand wie se wetsonderhouding meer inhou as die van die fariseers en skrifgeleerdes. Jy is iemand wat versoening met ander najaag. Nie vyandskap nie. Jy kyk nie na die ander geslag met die doel om te begeer nie. Jou ja is jou ja en jou nee is jou nee. Jy doen nie die terugkry aksie ding nie. En jy kan teen die tyd al die ander wang draai en die ekstra myl loop vir ander. Teen hierdie tyd het jy nie meer vyande nie, net mense vir wie jy nog leer lief kry. Om jou vyande lief te hê en goed aan hulle te doen is jou superpower. Dit is jou ding. Want toe Jesus gesê het: “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.” Toe het jy reg op gesit en vir jou self gesê: Hier is my mikpunt. Hier, na hierdie punt is waartoe ek wil groei. Na die Vader toe. Ons het in hoofstuk 6 geleer om nie dinge oor ons self te maak nie. Nie as ons die armes help, nie as ons bid nie, nie as ons vas nie. Alles in ons lewe gaan oor God en om God te verheerlik. Ons het besef hoe maklik ons selfs hierdie mooi dinge ewe goedbedoelend oor ons self en ons eie eer kan maak. Dit gebuik om te kan sê ek is eintlik goed en oulik. Fokus het Jesus gesê. Nie God en mammon nie. Net God alleen. Laat jou skatte in die hemel wees. En toe vertel hoe God beter vir ons kan sorg as wat ons self kan. Kyk maar na die voëls en die lelies. So, hoe gaan dit met dit alles in jou lewe? Het jy al hierdie veranderings, verdiepings in jou lewe ingewerk? Ek lees iemand het gesê: “Whatever you are not changing, you are choosing. Read that again.” Maw. As ek en jy nie ons lewens in hierdie tyd begin verander het om in lyn te kom met alles wat ek tot hiertoe gesê het nie, dan het ons dalk gekies om te bly soos ons is. Dan jaag ons nie daarna om volmaak te wees soos ons hemelse Vader volmaak is nie. Dan speel ons geloof. Dan is ons op die pad van die fariseers en die skrifgeleerdes. Dan moet ons herbesin want sonder hierdie boustene kan ek en jy nie eers begin om daaraan te dink om nie te oordeel nie. Kom ek spel dit uit: In hierdie verse praat Jesus oor die soms dodelike manier waarop mense ander probeer beheer of te manipuleer. Waar jy probeer God speel. Deur te oordeel. Hy praat oor een van die dinge wat maak dat ons innerlik ongelukkig bly, wat keer dat ons by heelheid en vrede uitkom: en dit is oordeel. Ons wat oordeel en ons wat geoordeel word. Konstant deur die media gesê jy kort nog dit of dat, of hierdie nuutste somer mode of motor of of. Dit is eers as jy tuiskom in God se liefde en geborge voel in God se koninkryk, dat jy ophou omgee wat ander dink of selfs bekommerd wees oor die wêreld se voorskrifte. En jy ophou om self te oordeel en voor te skryf want jy het self lief. Jy doen net aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê. Ek sal uitwys die verband tussen liefhê en nie oordeel nie. Kyk net eers saam met my na die Griekse woord vir oordeel. Daar is twee woorde wat in die Grieks met herhaling gebruik word in hierdie deel. Oordeel en meet. Oordeel = krinete. Krinete word krithete wat opgevolg word met krithesesthe. En nou is ons by die punt waar dit nie meer net ‘n mooi leerstelling is, bv moenie oordeel nie. Ons is by die punt waar Jesus sê: Stop dit! Hou op daarmee. En dieselfde met meet. Sit nou Jesus se “moenie oordeel, hou op daarmee om te oordeel” langs Jesus aan die kruis en jy sien iets nog sterkers: Jesus self het dit geleef. Hy het hierdie woorde vleis gegee. Sigbaar gemaak. Die Griekse woord vir oordeel wat Jesus hier gebruik, se kern betekenis is, om ‘n onderskeid te tref tussen, om ‘n waardasie te maak van. Die feite word gekry en dan word ‘n mening uitgespreek ogv die feite. Bv ‘n Regter kan slegs ‘n oordeel fel as hy of sy al die feite deeglik geweeg en oorweeg het. Ons moet nou versigtig wees om uit vrees om te oordeel onsself blootstel aan allerlei verkeerde dinge en situasies. Die omgekeerde is seker ook waar: ons kan maklik weer begin oordeel onder die vaandel van ons “treë onderskeidend op” of ons doen net ‘n waardasie van die persoon of situasie. Die toets lê in liefhê. Kom ek sit die twee teenoorgesteldes teenoor mekaar: Met deernis en respek hanteer, teenoor, geoordeel, of dalk selfs geskat, geweeg en te lig gevind. Sit oordeel teenoor die koninkryk se hoofwaarde: jy moet jou naaste liefhê soos jouself. En ook jy moet selfs jou vyande liefhê. Wat weeg die swaarste by jou? En by God? En as jy gesoek het vir ‘n definisie van naasteliefde, kyk dalk net na vers 12: Doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê. Dis tog sekerlik die mees basiese wat naasteliefde vra? As jy liefhet dan wil jy nie oordeel nie. Ook nie veroordeel nie. Maar liefde dring ‘n mens om vir iemand wat jy liefhet ... ook te sê ... daar is ‘n splinter in hul oog. Die splinter kan nie daar bly nie. Maar die liefde weet ook van die balk in die eie oog en praat daarom juis nie veroordelend nie. Liefde vra ook: Hoekom sien ek die splinter? Liefde wil weet wat is jou dieper motief. Wil jy beheer? Manipuleer en so iemand kry waar jy hulle wil hê? Is dit selfsug wat maak dat dit jou pla? En dan maak jy aan jou kant skoon en met opregtheid in die hart help jy die een met die splinter. Ons durf nie oordeel nie want oordeel is God se werk. Om te oordeel sou ‘n vergryp wees aan dit wat net God toekom. In jou soeke na innerlike heelheid en vrede, doen moeite om die lesse wat Jesus uitpak te bemeester. Moenie net aan beweeg nie. Bly hersiening doen. Bly nuwe keuses maak. Want dit wat jy nie verander nie, behou jy. En ons wil niks behou wat tussen God en ons kan inskuif nie.