Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Johannes 14: 12 – 26 Vandag se deel, is ‘n deel wat my sake werk vir my. Die stelling wat Jesus maak is netso groot en dan kyk ek na myself en ek wil dink dis onmoontlik. Maar ek durf nie. Ek wil nie Jesus weerpreek nie. So iets moet ingee. En ek besef, dis ek. Daar is nog so ‘n teks in Jakobus ook: (Jakobus 5: 16c-18) “Elia was ’n mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reen nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande nie gereën nie. Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer.” Ek moes ‘n kopskuif maak. Ek moet vir eens en altyd uit my kop uit kry dat die Heilige Gees net deur spesiale mense werk – ander mense – en nie deur my nie. Dis die mees onbybelse ding om te leef. Ek sê dit oop en eerlik, sodat jy dit kan insien en self ook die skuif maak. En nee, ek droom nie van roem en TV evangelis word nie. Ek gee eerder my oor aan God en laat God my gebruik soos Hy wil. En ek vertrou Hom in alles. En ek verwag alles van Hom. Ek het ontdek dat die eie-ek ook ons verhouding met God wil ruineer. Die eie-ek wil maak dat jy die kollig vir jouself begin soek, en God en God se wil vir jou ‘n bysaak raak. Soms lê die probleem daarin dat ‘n mens die druk voel om hierdie verse waar te maak en so jouself te bewys as gelowig of as bruikbaar vir God. Of om te bewys dat die Heilige Gees deur jou werk. En dan gaan dit klaar nie meer oor wat Jesus hier bedoel en wil sien gebeur nie. Dit gaan oor God en God se koninkryk soos ons ook in Handelinge 16 se deel van Vrydag beleef het. Kan ek uitwys: God het jou gekies. God laat Sy Heilige Gees in jou woon. Hy doen dit sodat jy ’n getuie kan wees van wat Hy doen. Sodat jy vir jou bure en werksmense en selfs vreemdelinge wat jou raakleef kan sê: God het jou lief! God doen dit sodat jy die woorde kan hê om mee te bemoedig, selfs woorde om mee te bid. Elke Sondag vra ek die Gees vir die woorde om mee te bid. Ek wil ‘n gewone plaasboer as voorbeeld vat. Angus Buchan en sy Mighty Men Conferences. Daar was verlede Saterdag ‘n internasionale een. Kyk hoe dit gegroei het. By die eerste een het hulle nie geweet hoeveel mense gaan opdaag nie. Dalk 30 000. Toe daag daar 60 000 op (as ek reg onthou). Oom Angus het geglo die Here sê hy mag niemand wegwys nie. Manne wat daar was het vertel : Almal het genoeg gekry om te eet. Die manne het gepraat van hoe die Heilige Gees gewerk het. Elle lange verkeersknope en geen padwoede voorvalle nie. En geen ongelukke nie. In Australie het hy gaan bid vir boere vir reën. Voor hy daar weg is het dit gereën. Angus Buchan is ’n doodgewone boer. ’n Mens soos u en ek. Verstaan u Johannes 14: 12? Ons het onlangs nagmaal gevier. Dit is tekens wat God ons gegee het om ons te verseker dat Hy deur Sy Heilige Gees in ons woon. En dat Hy sy woord hou oa dan ook hierdie woorde: dat ons dieselfde dinge sal doen as Jesus. Dat as ons geloof so klein soos ’n mosterdsaadjie het sal ons berge in die see kan laat skuif. Hoekom gebeur dit so min? Joh 14 was nog altyd ’n moeilike teks. Ek kry die gevoel ons vermy vers 12 so effe. Of ons meen dis vir spesiale mense. Kom ons breek die teks op. Kom ek deel wat die Gees my laat sien: Wie in My glo. Dis maklik. Glo jy in Jesus? Ja? Dan is die teks ook vir jou bedoel. Voor jy jou brein afskakel en sê ek wil nie hoor nie. Ek kan nie. Ek is nie in staat nie. Sulke godsdienstigheid is nie vir jou nie. Kyk net weer na die teks. Dis eintlik nie ons wat die groter dinge gaan doen nie. Dis God wat dit gaan doen in antwoord op ons gebede. Ek stem met jou 100% saam. Ons kan nie doen wat Jesus gedoen het nie. Jy gaan ook geen verwyte van my af hoor omdat die groot dinge nie gebeur nie. Jy gaan wel vanoggend hoor dat ek jou in die Naam van Jesus jou Verlosser aanmoedig om meer te maak van jou verhouding met Hom. Sodat Hy kan doen wat Hy wil soos Hy wil ook deur jou sou Hy dit so verkies. Wyle ds Pietie Victor wat straatwerk in die Kaap gedoen het onder prostitute, seelui en bendes het dit so verduidelik. As jy vir jou werker sê hy moet kunsmis in die tuin in werk en hy draai om en vra jou vir kunsmis en ’n spitvurk om die werk mee te doen. Gaan jy hom dit weier? Nee. Want hy wil net doen wat jy hom beveel het en hy het dit nodig. Dieselfde in ons diens aan God. As ons weet of seker is dat dit God is wat iets van ons vra dan kan ons seker wees God sal dit vir my gee as ek Hom daarvoor vra. Die Bybel noem dit geloof. Geloof is meer as net om te glo dat Jesus aan die kruis vir my gesterf het. Geloof glo ook dat Hy opgewek is en opgevaar het en Sy Heilige Gees in my laat woon. Geloof is om seker te wees dat die Heilige Gees deur my wil werk. As ek glo dan weet ek dat ek ook die dinge sal doen wat Jesus gedoen het. Dit bly egter binne die raamwerk van God wat die Eienaar is en die besluite neem oor wat moet en kan gebeur en wat kan nie. Dit gaan oor God. In vers 26 word dit duidelik gesê dat die Heilige Gees ons sal hou by wat Jesus geleer het en gedoen het. Dis duidelik dat dit steeds oor God se verlossingsplan in Christus gaan. Dat dit wat God deur ons wil doen sal gaan oor die uitdra van die verlossingsplan. So as u enige idee gehad het om naam te maak of hierdie mag te hê – vergeet dit. Dit gaan oor God. Vers 13 sê dit reguit: “... sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.” Die groter dinge. Dit is moeilik. Geleerdes redeneer hieroor. Die beste verklaring is dat die groter lê daarin dat die dinge wat ons doen opsigself nie groter is as wat Jesus gedoen het nie. Ons kan tog volgens vers 12 die dinge doen wat Hy gedoen het. Die groter lê in die feit dat Hy die Seun van God was en ons maar doodgewone mense. Dit vra ’n groter wonder deur die Heilige Gees bewerk om deur ons dit gedoen te kry. Ek sê weer: dit gaan nie oor ons nie. Ons lewe gaan oor God se verheerliking deur Jesus Sy Seun. Die Heilige Gees werk dit in ons. Ons het nou gehoor: Wie in Jesus glo – Die NLV vertaal “Wie aanhou on in Jesus te glo.” – sal die dinge doen wat Jesus gedoen het. Hoekom sien ons so min daarvan? Want ons doen nie wat Jesus gedoen het nie. Kom ons kyk wat Hy gedoen het. Tot hiertoe het Johannes aan geteken dat Jesus absoluut gehoorsaam was aan die Vader. Dit was Sy brood en botter – Sy kos – om netso te doen as wat Hy die Vader sien doen het. En om niks te sê wat Hy nie eers by die Vader gehoor het nie. Jesus sê sy kos, dit wat Hom aan die gang hou is om God te gehoorsaam. Hy gaan so ver: Sê niks, doen niks wat Hy nie eers by die Vader gesien en gehoor het nie. Sulke gehoorsaamheid is om God lief te hê (16: 21, 24). Kan dit wees dat ons liefde dalk nog nie mooi duidelik uitkom in onvoorwaardelike gehoorsaamheid nie. Dit is ’n gehoorsaamheid sonder ‘n ja, maar ... of sal later ... of as ek die tyd gehad het of ... Het u mooi geluister? Gehoor wat nie gesê is nie? Tyd saam met God deurbring. Regtig stil word. Luister. Gehoorsaam. En God sal weet: My kind het my lief! En God sal ons gebruik soos en hoe Hy wil en Hy sal Self die krag gee en die deure oopmaak. En God sal Johannes 14 waar maak in ons lewe.