Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Hand 16: 6-15 Vrydag Hierdie week is ons opnuut herinner daaraan dat ons aan God behoort. Hand 16 wys nogal skerp uit wat die konsekwensies is van so 'n belydenis. Dis maklik om te sê ek behoort aan God maar in hoe 'n mate is ons bereid om dinge op God se manier te doen? Dalk moet ons na vandag se deel wat ons saamgelees het, weer gaan dink oor hoe ons met God saamleef. Ek dink aan dinge soos: Waaraan meet ons suksesse? Is 'n gemeente suksesvol as hulle die gebou volgepak sit elke Sondag? Of groot beleggings het? Dan is ons sekerlik nou in Covid-19 tyd baie onsuksesvol want die geboue is leeg. Is die probleem dalk dat ons nie meer wag op 'n antwoord van God of vir Sy leiding nie? Ons vat die pad met elke nuwe “brainwave” of boek wat op die mark kom. Party gemeentes probeer elke ding wat in ander gemeentes skynbaar werk. Nou vra ek: Is ons nog sensitief vir die leiding van die Heilige Gees? Is ons nog bereid om op God te wag? Vra vandag se mense nog: Here, wat is U plan? Of meld ons eerder in gebed by God aan met ons plan en vra: Here, seën asb. Iemand het iewers geskryf dat daar oomblikke in die geskiedenis is waar selfs die engele in die hemel waarskyniik hulle asems ophou en vra: Wat gaan nou gebeur? Gaan die regte besluite geneem word? Gaan God se plan nou misluk? Sulke oomblikke sien ons in Handelinge 16 se eerste verse. Paulus en sy geselskap het besluit dat wat die koninkryk van God nou nodig het, is dat hulle die gemeentes waar hulle reeds was, weer moet besoek. Maar hulle kry die wind van voor. Twee keer verhinder die Heilige Gees hulle om die werk van die Here te doen. Hoe verstaan mens dit? Paulus-hulle maal rond in Klein-Asie soos 'n motor wat spin in modder. Hulle besluit later dat hulle seker maar misluk het en moet teruggaan na Antiogie, terug na die kaarte om van voor af te beplan. Presies hier maak hulle die fout. Hulle taak was nie om te beplan hoe die Koninkryk moet kom nie, maar om met gespanne aandag en konsentrasie te wag op die fluistering van die Heilige Gees wat hulle in nuwe rigtings stuur. Die visioen van die Masedoniese man is so 'n influistering. Dit is soos 'n klip wat jy onder die wiele van 'n motor wat in die modder staan en spin, inskuif. Dit laat dinge gebeur. Daar kom beweging en rigting. Uiteindelik hoor Paulus-hulle wat God se plan was - om die evangelie selfs nog wyer te laat grondvat - Europa toe. Daar aangekom is Paulus-hulle se ontnugtering weer groot. In die stad Filippi is daar nie eers tien Joodse gelowige mans nie. Daar's geen sinagoge nie. Waar begin 'n mens? Het hulle weer misluk? Sal hulle maar weer omdraai en die pad terugneem huis toe? Dit is hier waar mens ontdek dat God se invalshoek dikwels anders is as ons s'n. By 'n paar vroue langs die water van die Gangitesrivier vind hulle vir Lydia - iemand wat al in haar tuisdorp, Tiatira. begin het om God te aanbid. Dis duidelik dat God self haar voorberei het om die evangelie van Jesus Chnstus te aanvaar. Kom ek verduidelik: In my studentedae moes ons 'n sinagoge besoek saam met die professor. Die mans sit onder en neem deel aan die diens. Die vroue sit bo op die gallery en brei en gesels. Hulle kon na die diens luister maar nie deelneem nie. Die film Yentl van Barbara Streisand van so 30 + jr gelede het dit ook mooi uitgebeeld: Van die film kan ek een reël onthou. Dit is die van 'n Boekverkoper wat sy ware bekend stel deur uit te roep: Godsdiensboeke vir die mans. Strokiesprente vir die vroue. In 'n Tyd en kultuur waar vroue as tweede klas mense beskou is, sou dit na 'n verdere mislukking gelyk het om nie mans te kry aan wie jy die evangelie kon verkondig nie. En tog was dit God se plan om aan die kant van die Gangitits rivier by vroue te begin met Sy gemeente in Filipie. 'n Mens sien God se hand en beplanning in Lydia se verhaal. Sy het reeds in Tiatira oorgekom na die Joodse geloof. Daar het sy al begin om God te aanbid. Daar is sy al reeds deur God self voorberei vir die dag wat sy Fillipi toe sou kom om later Paulus daar te ontmoet. Dit laat my opnuut besef dat God 'n groter prentjie sien as ons. Dat Hy 'n klomp los lewens-drade bymekaarbring in die bou van Sy koninkryk. Vir Paulus en sy groep keer Hy voor keer op keer todat hul gaan na waar Hy hulle wil hê. Met die mees onwaarskynlikste begin bou Hy sy koninkryk uit. 'n Man sou destyds nie aan 'n vrou gedink het as diegene om wie jy 'n kerkplanting gaan probeer doen nie. God kies egter om dit so te doen. Lukas wys op verskeie plekke hoe God wel deur vroue Sy evangelie uitdra. En natuurlik behoort ons al te weet dat God altyd uitreik na mense wat deur die samelewing misken word. Nou vra ek weer: Hoe sensitief is ons vir die werk van die Heilige Gees? Hoe oordeel ons oor sg. Mislukkings? Kyk ons soms te veel vas in getalle as ons suksesse bepaal? Ek herinner my aan een van die groot bekeringspredikers van die vorige eeu in Engeland. In 'n aanddiens in bitterkoue weer het hy tot bekering gekom. Daar was iets soos drie of vier mense in die diens. Die bekeerling het in sy bediening duisende na God gelei. Die Here laat dinge in Sy gemeentes en so ook in ons lewens, op Sy tyd ryp word. As ons nie dadelik resultate sien nie, kan dit wees dat God besig is om iets anders agter die skerms te laat gebeur. Ons moet bedag wees daarop en vertrou dat Hy ons sal lei en stuur sodat ons kan uitkom waar Hy ons wil gebruik. Dat Hy soos met Lidia en met Paulus oppad is met ons. Al voel dit soms of ons teen toe deure vasloop. Vergeet van wat elders werk. Vra: Here, wat is U plan met ons hier. Aanvaar dat God jou voorberei vir iets. Vorm gee aan ons en ons iewers op ‘n manier sal gebruik. Tot dan, kom ons leef as lewende advertensieborde van Christus. Wag dan op die leiding van die Heilige Gees. Amen.