Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matt 16: 24 – en Fil 2: 5 – 11 Lees net Matt 16: 24 – 28 Jy gaan nie hou van wat ek vandag sê nie. Of dalk gaan jy. Dit sal sekerafhang of jy glo dis wat Jesus sê. Die Engelse het ’n mooi gesegde: “To pay lip service” Ek meen hierdie deel is een van die waarhede van die Skrif wat ons die meeste aan “lipservice” bewys. Ons weet dit ... ons sê dit vir mekaar ... maar ons deins terug as ons dit self moet leef. Dit is soos gister se tweede seun wat gesê het goed pa maar nie gegaan het nie. Dit bly by woorde en word selde dade. En solank dit net woorde bly ... bly dit ’n ope vraag of ons onsself regtig vir Jesus gegee het. Daar is net te veel in ons wat bly vasklou aan ons eie lewe. Ek dink hierdie deel is een van die grootste ingrype in mense se lewe in. Wat nodig is, is om te kan raaksien dat om God in beheer van jou lewe te hê het groter voordeel in as om onder jou eie beheer te wees. Baie van die pyn en lyding in ons lewens kom van ons eie dinge af. Ons keuses, ons aksies ons streke en houdings en woorde wat ons inhaal. Baie mense hanteer dit deur in ontkenning in te gaan. Dis altyd iemand anders se skuld. Of iemand anders het die prikkel gegee en ons het net gereageer. Ek het Maandag met jou gedeel van ‘n gebed wat ek getrou bid. In hierdie gebed gee ek al behoefte aan mag, krag, geliefd wees of enigiets uitsonderlik te wil wees vir God, want dit kom Hom toe. En ek gee prys enige behoefte aan sekuriteit en veiligheid want God is my sekuriteit en veiligheid. Ek laat gaan my eie ek want dis vals en vat plek in my lewe wat God toekom. Ek gee prys enige begeerte om ander, situasie of myself te wil verander. En ek maak myself oop vir God en Sy inwerking in my. Dit is oor ‘n deel soos hierdie wat ek dit bly bid. Op ’n ander vlak moet ons erken dat dit by mense meestal gaan oor wat is in dit vir my. Wat pas my. Hoe kan ek die meeste voordeel hieruit trek. As dit by ons vriende kom dan word dinge bietjie meer suiwer. Dan sien mens hoe mense hulself opreg gee en uitreik en help selfs ten koste van hulself om daardie vriend of vriendin by te staan. Jesus is baie duidelik: As jy vasklou aan jou eie lewe gaan jy dit verloor. Kyk net weer na Matt 16 vers 27. Open jou horisonne so ’n bietjie meer. Dink bietjie verder as hier en nou. Kry jou visie net weer reg. Is jy seker jy kan hanteer wat kom? Matt 16: 27: “Die Seun van die mens gaan saam met Sy engele kom. Hy sal beklee wees met dieselfde heerlikheid as Sy Vader en sal elkeen volgens sy dade vergeld.” Miskien moet ek iets duideliker maak. Ons praat nie van ’n besluit “ek gee my lewe vir God nie”, ons praat ook nie van dat jy die beherende aandeel van jou lewe vir God gee nie. Of dat jy in raadgewende hoedanigheid aanbly in jou eie lewe nie. Ons praat van absolute vertroue waarin jy die totale dag tot dag bestuur van jou lewe in God se hande plaas. Let gerus ook op die woorde “dade”. Die oordeel gaan nie as sulks net oor bedoelinge nie. Dit gaan oor dade. Blaai asb saam met my na Fil 2. LEES FIL 2: 1 – 11 Ek dink hierdie is ’n mooi uiteensetting van die basiese bedoeling van ... om jou lewe te gee. Natuurlik beteken “homself verloën, sy kruis dra en Jesus volg” dat jy bereid moet wees om die pad van gekruisig word te gaan (fisies vas gekap te word aan ’n kruis / of op een of ander manier dood gemaak te word oor jou geloof). En onthou Petrus was bereid om saam met Jesus te sterf. Maar toe die tempelwagte opdaag om hom gevange te neem toe vlug hy saam met die res. Volg op ’n afstand. Toe die diensmeisie vra of hy nie saam met Jesus was nie toe ontken hy dit. Wou ook maar nie jonk doodgaan nie. Ook nie so wreed nie. Kom ons fokus eerder op Jesus se voorbeeld. Let op die woorde: “dieselfde gesindheid ... wat daar ook in Jesus was.” Ek wil jou uitdaag om jouself in “Jesus se skoene te plaas”. Jy is in die hemel by God die Vader. Johannes en Paulus sê jy self is deel van God. Aan jou voete lê die ganse skepping. Planete, melkweë en galaksies. Sterre en die ou klein kolletjie genoem aarde. En op hierdie kolletjie is daar mense wat jy geskep het. Dis alles jou handewerk. Die skatte van die hemel en die heerlikheid is joune. Maar jy gee dit prys om op daardie klein kolletjie vol goed genaamd mense, te gaan leef as ’n mens en vir hulle te sterf om hulle te red. Jy gee jou hele bestaan weg twv sulke niks-hede. Jy gaan tree op asof jy nooit was wie jy is nie. Voel u dit? Die Seun van God gee alles weg ... Sy hele bestaan by God die Vader ... om niks te word soos u en ek. Dit het Hy vir jou gedoen! Vir so ’n Here sal ek dien! Vir so ’n Here wat my so lief het sal ek my lewe weg gee. Al my voorkeure en my giere en eie wil en koppigheid en begeertes en en en ... sal ek gee. Want ek weet wat Hy my gaan terug gee sal ‘n lewe met ’n besonderse kwaliteit wees. Ek vertrou Hom. Gaan sit vanaand en bekyk jou gesindheid: • Gaan voel hoe jy voel oor sake en oor mense. Alle soorte mense. • Daardie houdinkie wat jy so maklik inslaan • Jou negatiewe houding oor goed • Jou manier hoe jy summier goed afmaak (al is dit vir ander belangrik) • Hoe belangrk jou eer vir jou is en dat jy jouself moet handhaaf en verdedig ten alle koste (v3) • Gaan ondersoek of jy ander gelowiges belangriker ag as jouself • En of jy eerder net aan jou eie belange en nie ook aan die van ’n ander nie. En vra jouself ... wat sien jy van Jesus daarin? Gaan kyk. Gaan kyk mooi. Kyk diep. En behou dit wat Jesus sou uitstraal. En die res? Vra die Heilige Gees om jou ’n nuwe hart te gee. Een soos Jesus s’n. Een wat lief het, een wat onvoorwaardelik en sonder grense lief het. En die insig om hard te wees waar God ’n harde woord wil oorbring en sag waar God sagtheid wil uitstraal. Ek gebruik graag die beeld met jong mense wat wil trou. Ek vra: Sal jy jou lewe vir haar gee? JA? Dan as jy in die aand by die huiskom na werk en jy mik so na die gemakstoel voor die tv ... gee dan jou lewe vir haar deur te gaan kosmaak of met ander take te help. Gaan gee jou lewe vir die Here in die klein elke dag se dinge, gedoen vir Hom en vir ander. Gaan plaas die dag tot dag se bestuur van jour lewe in Sy hande. Amen.