Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
MATTEUS 21: 28 – 32 Woensdag Ons is almal skuldig hieraan: dis nou ... om met woorde spasie te skep. Bv Jy is onseker oor dit wat van jou gevra word, ... dus gebruik jy woorde om spasie te skep sodat jy eers kan gaan dink. Party keer misbruik ons dit om tyd te wen om aan ’n beter verskoning te kan dink. Ons almal raak kwaad hieroor. Bv as ’n verkoopspersoon bly sê ons wag nog net vir dit. Of die spreekwoordelike tjek is in die pos. Of iemand wat nooit na jou terugkom nie en as jy bel dan sê hulle ek is besig met jou saak. Jou lêer is hier op my lessenaar. Ja, right, tussen 40 ander. Dis alles mooi maniere om mee spasie te skep – tyd te wen. En dis sleg om aan die ontvang kant te staan daarvan. Ons moet hierdie deel nie losmaak van die konteks nie. Dit is deel van ’n aan en af gesprek met die leierpriesters en skrifgeleerdes. Dit begin met die tempel skoonmaak. Toe Jesus die geldwissellaars uitgejaag het en hulle tafels omgegooi het. Dit gaan verder in vers 23 waar Hy weer terug is by die tempel besig om die mense te leer. En dan takel die leierpriesters en familiehoofde Hom oor Hy die handelaars uit die tempel gejaag het. En in hierdie debat gee Jesus vir hulle die gelykenis om oor te gaan dink. Letterlik: “Wat dink julle hiervan?” (v28) En dan vertel Hy van 2 seuns en hul pa. Dis ’n baie skerp uitwys van die leierpriesters en familiehoofde se swak verhouding met God. Hulle wat juis die mense was wat die voorbeeld moes stel van gehoorsaamheid. Die hartseer is dat hulle gemeen het hulle doen wat reg is. Maar hulle godsdiens was skynbaar net ’n harde dop oor hulle lewe. Hulle was vasgewikkel in ’n groef waar hulle gemeen het hulle kan God tevrede hou en hulle eie ding doen. Soort van: “Ja, ons sal gaan doen wat U vra.” Maar dan kom hulle net nooit daarby uit nie. Die teenoorgestelde kant is mense wat uitgekryt en vermy is as sondaars. Verlore mense. En dit is so. Hulle het botweg hulle rug op God gekeer. Maar later ... onder die preke van Johannes het hulle tot bekering begin kom en God gehoorsaam. Die deel laat mens worstel met vrae soos: Beleef jy nog die werking van die Heilige Gees? Is jy sensitief / ingestel op Hom? Of het ons ’n harde geloofsdop gevorm wat die Heilige Gees se stem stil maak en Sy werk in ons blokkeer? En ek vermoed dat geloof ’n harde dooie dop word as tradisies en gebruike belangriker raak as dit wat die Heilige Gees van ons vra? En ja, die Heilige Gees wys altyd terug na Jesus en doen en leer niks anders as wat Jesus geleer het nie. Dikwels is dit nuwe situasies of goed wat gebeur wat ons konfronteer met ons eintlike antwoorde op die vrae. In die deel wat ons gelees het is ek seker die Leierpriesters sou gevoel het hulle doen God se werk. Hulle is die gehoorsames. Jesus se omkeer van die geldmakery en uitbuitery wat eintlik daar aan die gang was konfronteer hulle met ’n ander antwoord: Hulle skemas en gebruike was vir hulle belangriker as gehoorsaamheid aan God. Kom ons gaan dieper in onsself. Gaan konfronteer jou goeie geloof en hoe jy dit uitleef met die voorbeelde wat in die Bybel is. Gaan kyk of jou geloof vir God dividente lewer. Wat kry God uit jou lewe uit? Is dit wat jy Hom gee dit wat regtig vir Hom belangrik is? Hoeveel kuiertyd kry ons Hemelse Vader met ons, Sy kinders? Hoeveel preke skat u het u al in u lewe gehoor? Kom ons noem die preke: teoretiese opleiding. Sê my of ’n mens nie na soveel ure van teoretiese opleiding, nou gekwalifiseerd is om vir God te kan werk nie? God wil nie gefrustreerd word met mense wat alles beaam en op die end nooit gaan doen wat Hy vra nie. Die ironie is dat die Heilige Gees alles in plek laat val. Ons moet net gehoorsaam gaan. Daar kom ’n tyd in ons elkeen se lewe wat jy moet besluit ek gaan myself nou werklik oorgee aan God. ’n Dag wat jy die besluit neem om God genoeg te vertrou dat jy sal doen wat Hy vra. Hom genoeg lief te hê om tyd met Hom te spandeer suiwer oor Hy God is. Daar kom ’n tyd wat jy moet besluit ... • Ek hou op met kwaad wees • ek hou op met haat • ek hou op met seermaak en wraak neem • ek hou op met wat ookal die nuwe mens in my gevange hou En ek begin om eenvoudig net te leef ... In eenvoud geduld te hê met ander, ... om heel te maak eerder as stukkend ... om ander te help lewe en om myself te laat gaan sodat ook ek kan heelword en lewe. Is dit nie nou die tyd om jou geloof in God onder leiding van die Heilige Gees te laat uitbreek deur die dop wat ons om ons gebou het? Vertrou God. Hy werk versigtig met ons. Maar moet nie Sy planne probeer terug hou nie. Gee jouself oor elke dag en skep ruimte waarin jy Hom kan hoor en vernuwe kan word. En vertrou Hom. Sondag sal ons DV weer oor die moontlikhede praat. Vir nou ondersoek jouself en gee die beheer oor aan die Heilige Gees en volg Hom. En doen wat God vra. Amen