Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
HEBREëRS 12: 14 – 24 Ek lees van tyd tot tyd ’n boekie wat oor die 300 jaar terug geskryf is: The practice of the presence of God. Oorspronklik geskryf deur ene Brother Lawrence. Een van die dinge wat my by bly in sy boekie is die klem dat jy God sal aanbid en loof en prys suiwer en alleen omdat God is Wie Hy is. Lawrence wou nooit van God dinge vra vir homself nie. Hy wou God dien, nie om iets te kry nie, maar omdat God is wie God is. Selfs vloere was en kos maak vir die res van die klooster was vir Hom ’n vreugde want hy het dit vir God gedoen. Een van die grootste skuiwe in my lewe het gekom toe ek begin het om God al meer te prys tsv wat in my lewe gebeur. Dis ’n skuif wat gekom het saam met ’n besef dat God kan inderdaad doen wat Hy belowe het: Ook vir my sorg. Dit is die groot vraag wat ek die week voor u lê: Kan God of kan Hy nie? Ek sê Hy kan. Ek het genoeg kere al gesien wat God doen en hoe Hy die spreekwoordelike onmoontlike vermag om te weet: God kan doen wat Hy Hom voorneem. En ek weet Hy is vir ons baie lief. Daarom vra ek jou om 3 dinge te gaan oorweeg: 1. Jou binnekant Iemand het gesê: Wat in jou leef kom uit. Die Heilige Gees woon in jou. Dis ’n feit dat niemand kan bely dat Jesus die Here is, sonder die Heilige Gees nie. In die dae van 1 Korinthiers was dit ’n toets om te sien of iemand Jesus aanbid. Die Keiser se mense het geëis dat jy moet bely Die Keiser is here. As iemand dus gesê het Jesus is Here dan het dit erge komplikasies vir sy / haar lewe gehad. Net deur die krag van die Gees kon jy onder sulke druk bely: Jesus is die Here. As jy dit vandag bely dan is dit die werk van die Heilige Gees. So aanvaar dus Sy inwoning. Hebreërs 12 vra: Is Sy tempel skoon? Hoe leef jy hierbinne? Waarvoor het jy al plek gemaak? Hier word gepraat van bitterheid. Sorg dat daar nie verbittering uit jou spruit nie. Daar is ’n plant in my tuin (Mayflower?) wat verskriklik mooi oortrek van blomme kan wees. Maar so onder die grond loop die wortels en as jy weer sien is daar nog ’n klomp plantjies en as jy te lank weg kyk dan is alles verdring en jy het net hierdie een soort oor. Verbittering is een van daardie plante. Net sonder die mooi blomme. Dis maklik om plek vir verbittering te maak. Dit ontkiem maklik. Groei vinnig. Neem later alles oor. Die land van ons se mense saai dit elke dag. Elke dag raak iemand op TV of in koerant iets kwyt wat mens bitter oor sou kon word. Of iemand op straat doen iets. Of jy raak die slagoffer van misdaad. Punt is: Elke dag is daar ’n keuse te maak. Gaan ek verbitterd raak, of nie? Ek hoop jy besef: Jou bitterheid besmet ander. Lees maar weer vers 15. Dis aansteeklik. Dit vat mense van God af weg. Jy kan nie meer aanhou bitter wees nie. – wat jy leef en wat jy toelaat om in jou te leef kontamineer ander. Iemand het in ‘n e-pos gesê jy kan die duiwel uit jou lewe uit skop maar maak net seker dit wat die bagasie saam. Bv Jy het bedank uit ’n sielsvernietigende werk maar jy probeer hulle nog om elke hoek en draai saboteer; jy het met ’n verslawing gebreek maar jy smag heeldag na net nog een keer ... dan het die duiwel sy bagasie gelos. Die verwysing na Esau sê eintlik net: oppas vir ’n oppervlakkige geloof. Die soort wat maar taamlik ligtelik met God wil omgaan. Wat maklik vergeet van God of vir wie dinge van die oomblik belangriker is as God. Gaan maak die tempel skoon. Hardloop ’n anti-virus program in jou lewe ... maak seker daar is niks wat die Heilige Gees verontrief nie of wat nadelig vir jou medegelowige is nie. En hou in gedagte dr Phil van TV-faam se cliche: “You can either contaminate or contribute.” 2. Jou buitekant. Vers 16. Raak ontslae van verkeerde gedrag. Dit maak sin. Ons weet dat verandering wat hou geskied van binne na buite. As die binnekant skoongemaak is dan spoel dit oor na dit wat jy teenoor ander mense leef. ’n Heilige lewe spoel oor in vrede met alle mense. ’n Heilige lewe dui natuurlik nie net op jou gedrag nie maar ook op jou verhouding met God. Sonder God kan jy nie ’n heilige lewe lei nie. God heilig jou lewe en dan leef jy wat Hy jou reeds gemaak het. Vers 14 gaan dus oor in vrede lewe met alle mense maar ook in vrede met God. Leef soos ’n mens wat afgesonder is – eenkant gesit is – vir God. Wat hierdie land nodig het is nie nog meer haat en disrespek nie. Maar Christene wat anders is as die samelewing en God eer in hoe hulle is en hoe hulle leef en praat. Daar is twee sterk woordjies: Beywer en sorg. Albei dui daarop dat jy moet moeite doen om in vrede met alle mense te leef en moeite doen dat jy nie ander besmet nie. Of dan aansteek nie. Vat die tyd en doen die moeite. 3. God self. Die bedoeling in vers 18 ev is om aan die eenkant uit te wys die ongelooflike voorreg wat ons het. Ons praat nie meer deur tussengangers met God nie. Ons het direkte toegang. Lees maar gerus Hebr 10: 19 ev. Maar hierdie toegang beteken nie ons kan ewe casual met God omgaan nie. God is steeds vreesaanjaend. Die Bybel sê God het met Moses gepraat soos ’n man met sy vriend. Ek dink ons kan met veiligheid sê Moses het ’n baie goeie verhouding met God gehad. En tog was Moses blykbaar met angs vervul vir God. Die verskil vir ons is dat Jesus ons tussenganger is. Jesus wat gesterf het sodat ons kan lewe en daar vrede tussen God en ons kan wees. Dit verander niks aan Wie God is en hoe groot en Almagtig Hy is nie. Dit wil net onderstreep hoe ongelooflik groot ons voorreg is. ’n Voorreg wat moet uiting vind in hoe ons binne is en hoe ons na buite leef. Daar is geleentheid vir selfondersoek en dan dit wat jy van berus geraak het in jou lewe voor die Here te bely as sonde, of Hom te dank as dit iets moois is. Maak skoon binne. Maak seker daar is niks wat plek vat wat God kon gevul het.