Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
LUK 22: 24 – 30 Maandag Tema: By die mense is dit dalk so … maar by julle … Daar is n gebed wat ek gereeld bid en dit help my baie. In hierdie gebed gee ek alle behoefte aan mag, krag, geliefd wees of enigiets uitsonderlik te wil wees, en ek gee dit vir God, want dit kom Hom toe. En ek gee prys enige behoefte aan sekuriteit en veiligheid want God is my sekuriteit en veiligheid. Ek laat gaan my eie ek want dis vals en vat plek in my lewe wat God toekom. Ek gee prys enige begeerte om ander, situasie of myself te wil verander. En ek maak myself oop vir God en Sy inwerking in my. Hoekom deel ek dit met jou? Want dit is een van die maniere wat ek vind om nee te sê vir hierdie begeerte in elke mens om ‘n iemand te wees. ‘n Iemand wat bedien moet word, wat kan vingers klap en regeer. God is al Een wat dit toekom. Dit maak my ook meer oop vir die Heilige Gees. En dit is tog waaroor ons veral bid hierdie week. Die agtergrond vir die deel is nie vir ons vreemd nie. Dis maar net mense besig om mens te wees. Die dissipels het gestry oor wie is die belangrikste. En soos ons kan dink was daar seker baie aansoeke vir die top pos. Ten minste 12. As jy die deel plaas teen Joh 13 en die voetewassing dan is dit duidelik dat daar geen aansoeke was vir die agter os pos nie. Niemand wil die vuil en sloer werkies moet doen nie. Almal wil bedien word, orders gee en lyf rondgooi. Wat my tref is dat die Here baie duidelik erken dat dit is hoe dit is tussen mense. By die nasies speel konings baas. Mense in gesagsposisies probeer hulle as weldoeners voordoen. En het ons dit nie in hierdie tyd beleef nie. Ministers wat vir ons wil sê watse klere ons mag koop of nie koop nie en wat mag gedra word mits dit onder iets anders gedra word. En ministers wat alles en nog wat wil beperk. En ja, van die regilasies is dalk met die regte bedoelings begin. Maar iewers is koers verloor en die dors na mag en baas speel het ingeskop. Jesus spel dit baie mooi uit: “Maar by julle moet dit nie so wees nie ... (vers 26) Dis asof Hy so mooi vra: Ouens, by julle moet dit anders wees. Ons is tog God se kinders. Ons het darem ’n ander styl van dinge doen. Ek het besef toe ek die deel lees dat ‘n ander leefwyse gevra word van jou en my as wat die res van die samelewing leef. Jesus plaas ons lynreg teenoor wat vir ons gemeenskappe aanvaarbaar mag wees. Dit is iets wat jy moet aanvaar en vrede mee maak. Aanvaar dat hoe jy met God lewe maak jou anders as die mense om jou. By God werk jou ou manier van dinge doen en van mense hanteer nie meer nie. En ek besef ook dat hierdie drang in elke mens, is iets wat ons nou met ‘n verbetenheid, asof ‘n saak van lewe en dood, moet begin hanteer in onsself. Nie in ander nie want dan is jy klaar besig met magspeletjies. Dit is vir God om ander te verander. En vir my om God te vra om my te verander. Moenie die fout maak om te dink omdat dit vir jou goed en reg voel dat God dieselfde daaroor voel nie. Gaan maak eerder weer ’n studie oor hoe Jesus oor mense gevoel het en mense hanteer het. En gaan doen Hom na. Jesus keer die orde van dinge om. Ware leiers dien die ander. Dis ook nie ’n nuwe tema nie. • In Lukas 9 (46 - ) lees ons van ’n stryery oor wie die belangrikste is. Toe het Jesus ’n kind nader getrek en gesê wie so ’n kindjie ontvang ontvang My ... en “Wie die minste onder julle is, hy is groot.” • In Lukas 13 (:7 - 11) vertel Hy in ‘n gelykenis oor ’n troue, dat jy nie sommer in die voorste en beste sitplekke jou moet tuismaak nie. Wees eerder beskeie en gaan sit agter. Dis nie moeilik om te sien dat die Here net een manier van wees ken ... en dit is ... om te dien. In vers 27 gebruik Hy ’n beeld van mense aan ’n tafel wat bedien word. Dis duidelik dat die wat die bedien werk doen minder belangrik is as die aan tafel. Jesus identifiseer homself met die wat die bedien werk doen. (vers 27c) Hoor jy dit? Sien jy dit? Kyk: Jesus identifiseer Homself met die wat dien. Wees jy ook so. By God is daar nie plek vir terug sit en bedien te word en ander die werk te laat doen nie. By God is daar nie plek vir kritiseer en vinger wys nie. (So terloops Hy noem dit oordeel – Jy mag nie eers oor iemand se werkers oordeel nie.) By God is daar nie plek waar jy op ander skree nie, of afbrekende woorde gebruik nie. Jesus self ... het nie terug gesit in Johannes 13 dat die minste belangrike persoon Sy voete moet kom was nie. Hy het die ongehoorde gedoen: Hy het Sy onderdane se voete gewas. En toe gesê: Ek stel vir julle ’n voorbeeld. ’n Mens wat met God lewe, kry hom / haarself nie jammer nie – maar fokus op Christus en wat God wil hê ... en doen dit dan tsv hulself. Kan ek dit weer sê: Dit gaan nie oor belangrik wees nie. Dit gaan nie oor jou gerief nie. Dit gaan nie oor wat jy dink reg of prakties is of wat ookal nie. Dit gaan nie oor jou plekkie waar jy die septer swaai nie. Dit gaan oor God. Ons hele lewe draai om God te verheerlik. Daarvoor is ons geroep. Wel die oomblik wat jy belangrik wil wees en wil hê ander moet die werk doen en jy moet net kan geniet dan trek jy die kollig van Jesus af, al bedoel jy dit nie so nie. Dan is ons die crew-lid wat al die aandag wil hê. Gaan wees dan soos Jesus. Hy het gekom om te dien en Sy lewe te gee. Gaan doen dieselfde. Los die verskonings en goeie motiverings van hoekom ons liewers nie wil dien nie. Los die kritiek. Ons is nie raadgewers nie. Ons is soos een wat dien. Begin anders oor jouself dink. Hou op om jouself te wil handhaaf ten alle koste. Fokus op God en laat God jou regte handhaaf sou Hy so verkies. Fokus jy daarop om soos Jesus mense lief te he en jou lewe te gee in diens. Kom ons kry onsself uit die pad uit – al daardie dinge wat ons so graag ander mense oor bykom – en gaan dien daardie mense. Gaan wees vriendelik – beoefen geduld – vergewe – gee 2de kanse – leef respek – wees bedagsaam – alles wat jy Jesus sien doen het – gaan doen dit. Ja. Ook vir jou vyande want Jesus se voorbeeld is dat Hy vir jou gesterf het toe jy nog Sy vyand wou wees. Ongeag van hoe die ander is ... maak nie saak wat hulle doen of in die verlede reeds aan jou gedoen het nie, ... maak ook nie saak of hulle dit in jou gesig gaan terug gooi: Gaan wees jy getrou aan wat Jesus jou gemaak het. ‘n Dienskneg. Bly getrou aan Jesus. Selfs in sg leiersposisies is ons anders. Ons is mense wat dien. Die res is in God se hande. God sal ons beloon.