Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Handelinge 2: 1 – 13 Wat as God anders oor jou dink as jy? Ek lees Vrydagoggend in 1 Samuel 16. Samuel moet stil stil ‘n nuwe koning gaan salf in Saul se plek. En die Here stuur hom na die huis van Isai. En as die seuns van Isai die vertrek in kom, dis nou na hul hul gereinig het om saam met Samuel tot die Here te offer. Toe sien Samuel vir Eliab en hy dink dis die ideale man. En God sê nee. Op die einde is dit toe die jongste, die outjie wat die skape moes op pas daardie dag. Hy is toe die een wat die Here kies. So ook met die dissipels. Die rabbies het hulle nie gekies nie. Nie gedink hulle is goed genoeg nie. So ek weet nie hoe jy oor jouself dink nie. Maar ons moet begin anders na onsself kyk. God sien in ons wat ons nie kan sien nie. God weet iets wat ons mis. Kom ons kyk. Aan die een kant … eenvoudige mens … uit Galilee uit. ’n Streek wat nie bekend was as ’n bron van geletterdheid nie. Eenvoudige mense. Onder andere vissermanne. En tog trek hulle los en hulle praat tale wat hulle 10 minute van te vore dalk nooit eers van gehoor het nie. En die skare sê: Hoe is dit moontlik? (NLV v 7) Hulle sê: “Ons almal hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het!” Hulle was almal uit die veld geslaan. Hoe het dit gekom dat daar ’n skare byeen is? Het die dissipels en ander gelowiges die “herlewingsdiens” geadverteer? ‘n Goeie reklame agent gehad? Nee. Ek glo nie eers die dissipels het mooi geweet wat kom nie. Net geweet hulle moet in Jerusalem wag vir die Heilige Gees en dat hulle krag sou ontvang. So daar is nie ’n manier wat hulle sou adverteer nie. Hulle het geen tyd of datum of enigiets gehad om die geleentheid rondom te beplan nie. Ek wys dit uit want dis nodig dat ons sien dis God wat hier werk. Vers 1 tot 3 praat van ’n vreemde verskynsel. ’n Geluid soos van ’n geweldige rukwind. Geen wind net die geluid. En ek meen dit het die mense laat naderstaan om te kom kyk. En die dissipels het beleef: Tonge wat gelyk het soos individuele vuurvlamme wat op elkeen gaan sit het. Vers 4 “Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat.” LW verstaanbare tale bv die taal van die Mediers en die van die Elamiete en ... Die hele punt is: Dis dieselfde Heilige Gees wat in jou woon. • Dieselfde Heilige Gees wat jou liggaam tot tempel van God maak. • Dieselfde Heilige Gees wat jou aan iemand laat dink en jou laat bel net om te ontdek hoe nodig het daardie persoon jou oproep of besoek gehad. • Dieselfde Heilige Gees wat vir jou soms antwoorde in die mond lê wat jy nie geweet het jy het sulke wysheid nie. • Dieselfde Heilige Gees wat jou van jou sondes oortuig. • Dieselfde Heilige Gees wat jou aan Christus laat dink en jou herinner aan wat Jesus verkondig en gedoen het. • Dieselfde Heilige Gees wat jou inspireer om te bely dat Jesus die Here is. Jou Here en Verlosser. Ek hoop jy het ’n eureka ... ’n aha oomblik gehad. Dat jy besef dat die Heilige Gees in jou leef en werk. Dalk is dit moeilik vir jou om so oor jouself te dink. Dikwels dink ons net aan onsself as maar sondige mense. Dit is asof ons hierby vas geval het. En dis nie reg nie. Dit is wat ons was. Nou is ons nuutgemaak. Kinders van God. Mense wat vervul is met die Heilige Gees. Ek hoop uit die hart uit ... vir myself en vir jou ... dat ons van hier af hierdie nuwe identiteit sal leef. Want dit is ook waar dat ons die Heilige Gees wat sulke onmoontlikhede kan vermag .. kan hartseer maak (bedroef). En dit gebeur as ons ongehoorsaam leef. Soos ongelowiges leef wat net kan glo in dit wat hulle kan sien en verklaar. En as ons bly vaskyk in ons eie vermoëns en kragte en middele en nie kan raaksien dat dit God is wat dinge laat gebeur nie. Gaan lees weer die hele hoofstuk. Selfs die hele boek Handelinge en omkring elke keer as jy raak lees iets wat God gedoen het. Dan sal ons hopelik begin ophou vaskyk in ons eie vermoëns of verklaarbaarhede. En begin glo dat die dieselfde Heilige Gees wat in Elia en Elisa gewerk het, dieselfde Heilige Gees wat pemanent kom bly het by mense in Handelinge 2, vandag ook in jou woon en deur jou wil werk vir God. Sondag, DV, meer hieroor. Vir nou: Aanvaar net dit. Dieselfde Heilige Gees. Ook in jou en my. Ek sien moontlikhede! Hoekom bly Hy in ons? Maak nie sin nie, maak dit? En tog is dit wat God doen. Hy kom bly in jou. En my. Die Heilige Gees woon in jou sodat jy vir mense kan vertel in jou eie taal of dalk indien God dit so wil hê in hulle eie taal, kan vertel van hoe lief God hulle het. Kyk om jou. Sien mekaar raak. Jy is God se nuwe mens. Aangevuur deur Sy Heilige Gees. George Bernard Shaw, beroemde dramaturg, het blykbaar gesê: “As ek in Jesus Christus moet glo, moet Sy volgelinge meer gered lyk!” Dit is waarom die Heilige Gees ons met vuur wil vul – die vrug van die Gees in ons wil voortbring – sodat die wêreld kan sien wat God doen en kan moed skep en hoop vind. Want as God dit vir jou en my so kan verander dan kan Hy sekerlik ook hulle vernuwe. God het Sy Heilige Gees in ons gegee sodat ons Sy getuies kan wees. Met krag Sy getuies kan wees. En dalk ook sodat ons nie God se boodskap van liefde sal laat doodloop of ongeloofwaardig maak nie. Verbeel jou: God binnekant jou tuis – Sy huis! Daar is geen groter kompliment as iemand vir ons sê: “Jy het my regtig laat tuisvoel nie.” Dit verg meer as woorde om dit reg te kry. Jesus voel tuis in jou wanneer jy toelaat dat die Gees jou aan die brand steek! Ons almal was al by mense wat sê: “Maak jouself tuis”, maar dan doen hulle snaakse goeters en jy voel asof jy in ’n vreemde land is. Maar ons was ook al op plekke waar jy regtig tuis voel, waar die mense regtig moeite gedoen het om jou te laat tuisvoel. Om Christus tuis te maak in jou lewe, vra aksie van jou – die vrug van die Gees – dat jy die vrug van Sy teenwoordigheid in jou sal uitleef. As jy liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing beoefen dan sal Christus tuisvoel in jou en my. Vergewe my as ek jou wil verseker dat ons nie van “rocket science” praat vanoggend nie. Ons praat van mense wat hulself oopgestel het vir God, tot beskikking was vir Hom. Eenvoudige mense wat gebid het en bereid was om deur God gebruik te word en God vertrou het om dit elke dag in hul lewe te doen. En God het hulle wêreld omgekeer en Sy kerk gevestig en laat groei. Laat groei met 3000 mense en toe nog en nog. Maar dit gaan nie net oor getalle nie. Ek gebruik getalle as voorbeeld want vandag se mense hou mos van sulke syfers . En oppas dat ons syfers ons nie aankla nie want gaan dit vandag nog so by jou? Wat my aangryp is hoe hulle gebid het. En aanhou bid het. Handelinge is ook ‘n boek van ‘n gemeente op hul kniee voor God. En ek wens ek kan dieselfde sê van ons. Dat ons ‘n volk en ‘n land is wat op ons kniee voor God leef. Ek droom van so iets. Dit begin by jou en my. Ons wat God vra om Sy wil in en met ons te laat geskied. Ons wat bid laat U koninkryk kom. En terwyl ons bid weet ons die Heilige Gees bly reeds in ons. So kom ons hanteer ook ander gelowiges met die wete dat die Heilige Gees in hulle bly. En reageer en tree op soos die Gees jou lei. Wie weet in watter tale of watter groot dinge ons nog oor jou gaan hoor. Amen.