Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Handelinge 1: 1 – 11 (2020) Ek het hierdie pragtige ou kaart ontdek. Dit is soos in ‘n boek saamgebind met elke bladsy wat die een of ander deel van ‘n stad wys. En soos ek so sit en kyk na die ou kaart besef ek maar, weet jy wat, ek moet een van die dae Pretoria toe gaan. En ek weet elke keer as ek daar kom is alles weer anders. Straathoeke lyk nie meer dieselfde nie, so ek gaan sukkel. Maar nou het ek ‘n kaart. Sal dit nou nie spesiaal wees as ek my pa en ma, of dalk my oupa se kaart kan gebruik nie. Iewers het ek ‘n datum gesien. 1920. En hier is ‘n kerkstraat. Mooi man. Dit moet Pretoria wees want Pretoria het ‘n kerk straat. So my kaart is 100 jaar oud. Dit kom uit die tyd toe hulle nog kaarte kon maak. Eks so opgewonde. Ek gaan definitief met hierdie kaart my reis aanpak. En nou wil jy soos ‘n emmer koue water op my uitgooi want volgens jou is Pretoria nie meer Pretoria nie. Nee nie Tswane nie maar die plek het gegroei en verander sedert 1920. En jy probeer vir my sê dat omtrent elke tweede dorp in Suid-Afrika het ‘n kerkstraat. En jy is dood seker ek gaan verdwaal en die kaart gaan vir my niks beteken nie. Ek het so pas in my opgemaakte storie die dissipels daardie dag van Jesus se hemelvaart beskryf. Hulle het ‘n innerlike kaart gehad wat hulle van hulle ouers af en van die se ouers en van sinagoges af gekry het. ‘n Kaart wat sê dat wanneer die Messias gaan kom sal Hy van Israel weer iets groots maak. Israel sal weer ‘n wêreldmoontheid wees. En toe die Here praat van die Heilige Gees wat oor hulle sou kom toe vra hulle: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” Na Sy opstanding het Jesus vir 40 dae lank aan en af hulle geleer oor die Skrifte. Oor hoe dinge in mekaar steek rondom Sy dood en opstanding. En steeds verstaan hulle niks. Hulle sien net aardse koninkryk. Die Romeine wat verdryf is. En dis net omdat hulle steeds die verkeerde kaart gebruik. Hulle het ‘n verkeerde verstaan van die Messias en van God se koninkryk. Vir hulle gaan dit steeds oor mag en krag en wêreld dominasie. Die woordjie “herstel” sê hulle wil die glorie dae van Israel terug hê. Die goeie ou dae. Net nuut en met hulle in beheer dalk. En dalk is dit nou die tyd. Ek besef dat hulle wêreld regtig hard geskud moes word voor hulle anders begin dink het. Jesus se dood en opstanding was die eerste skud. Die hemelvaart sou die tweede skok wees. En 10 dae later met die koms van die Heilige Gees verander alles. Voor die opstanding wou Petrus terug na sy ou beroep. Hy wou weer viswaters toe. Jesus moes hom daar gaan haal. Maar na hemelvaart en pinkster het Petrus nie weer die skuite gaan betrek nie. Jesus se antwoord is ‘n ja en ‘n nee. Nee vir die koninkryk van Israel maar ja in die sin van dis nou die tyd wat julle uitgestuur word om die koninkryk van God te gaan verkondig. Om getuies van Jesus te wees. Kom ons spring vorentoe met so 2000+ jare. En ek vra jou of ons maar dieselfde as die apostels doen nie? Doen ons nie die verkeerde kaart ding tov ons geloof nie? Ons gebruik die kaarte van ons ouers en voorgeslagte, en as hulle ‘n afdraai punt gemis het mis ons dit ook nou. En ons wêreld is nou totaal anders. Die regering van Suid-Afrika het die land in ‘n grendeltyd geplaas. ‘n Reg oor die wêreld verskynsel, soos jyself weet. Alles oor ‘n virus. En almal wil net terug na normaal. Almal wil terug na hoe dinge was voor Februasie 2020. Let wel nie 1920 se goeie ou dae nie maar Februarie 2020 se goeie ou dae toe ons kon saam braai en werk en die klere koop wat ons nodig geag het. Grendeltyd het mense geruk. Dit het vrese wakker gemaak oor wat die toekoms in hou. En vir sommiges wat werk verloor het sekerlik dieselfde vraag as wat die dissipels mee moes gesit het: Wat nou? Ons ontdek mense is meer oop vir God as wat hulle twee maande terug was. Maar ons het pluk nogsteeds ons ou kaarte uit. En ja, ‘n mens hoor God beter as jy tot stilstand kom. En nou is ons tot stilstand geruk. Meer tyd vir dink. God maak in hierdie tyd ‘n deur oop na nie net ons harte nie maar vir ‘n hele nuwe wêreld. Met skoon blou lig en die natuur wat so bietjie al herstel het. ‘n Deur gaan oop na ‘n wêreld wat God nodig het. En ons gaan God se getuies wees. Ons gaan sê en wys dat geloof in God werk. Dat die kaart wat God gee die regte een is en jy kan maar daarvolgens lewe. En tog is ek versigtig as ek dit sê. Want met die hemelvaart en Jesus wat sê die Heilige Gees sal oor hulle kom, pluk die dissipels daar en dan weer die ou kaart uit. Die goeie ou dae kaart. Want dis hoe hulle groot geword het. Kan ek daarom sê: Moet asb nie wil terug gaan na soos dinge was nie. Daardie kaart is nou niks werd nie. Moenie terug gaan na hoe jou verhoudinge met God voorheen was nie. God het iets nuuts in jou begin. Laat die Gees dit groei in jou. En nes die dissipels nie geweet het hoe hulle lewe gaan wees na hemelvaart nie, het hulle hulself in gebed voorberei vir 10 dae lank vir pinkster. En vandaar uit gebed geleef. En netso kan ek ook nie vir jou sê hoe gaan kerkwees en eredienste wees na grendeltyd nie. Ek weet nie. Niemand weet nie. Ek weet net dat God in hierdie tyd in elke huisgesin Sy kerk gevestig het en jy moet dit daar groei. En jy en jou huis moet getuies wees van Christus. En God sal ons lei hoe Hy wil hê om saam Sy kerk moet wees. En soos my kaart ‘n kerk straat gehad het, netso leef ons met waarhede wat net kort stop van God se wil en koninkryk. • Dis waar mense glo in Jesus en dat Hy vir ons sondes gesterf en opgestaan het maar steeds leef in hulle eie koninkryk en volgens hulle eie wil. • Dis waar mens verklaar dat as ek net glo sal ek nie siek word nie, ook nie die virus kry nie want psalm 91 beskerm my. Daar is nie ‘n as God wil in hulle gebruik van geloof nie. Ek ken ‘n geloofsman en elke hospitaal trip met sy kanker was ‘n geleentheid om daar ‘n getuie te wees van Jesus. Of ons lewe of sterwe ons behoort aan die Here (Rom 14). En ek dink aan Jesus in Getsemane en ek dink aan die onse Vader gebed waar ons eers oor God se koninkryk en God se heiligheid en God se wil gebid het, en dan vra, gee ons vandag ons daaglikse brood. Iewers leer ‘n mens ‘n ongemak met maklike en vinnige en mooi antwoorde. ‘n Ongemak met jou ou kaarte en jou ou self. En dalk is jy nou kwaad vir my, want dis jou kaart wat ek beskryf het, sê jy dalk net: kyk net daar is dele wat Bybels korrek is, hiers kerkstraat man, maar is dit God se kaart? ‘n Kaart van God se koninkryk. Daar is tog baie meer aan Jesus en ons verhouding met God as net die vergifnis op al ons sonde. En daar is baie meer aan ‘n verhouding met God om dit te wil verskraal na Sy beskerming soek en bederf te word met goed of geld. Check jou kaart. Verkeerde kaart en jy gaan op die verkeerde plek uitkom. Maak die skuif weg van jouself en jou eie wil en kies God. Dit is wat ons die laaste hoeveel Sondae al by die Here gehoor het. Hoor vandag dat die Heilige Gees in jou, jou gaan lei en krag gee om Jesus se getuie te wees. En dit het reeds in huise begin waar gesinne saam weer om God se woord sit. Jesus se hemelvaart plaas jou en my in die kragveld van die Gees. Tempels vir die Gees, skryf Paulus.Hemelvaart trek my fokus in weg van myself na die wil van God. Ek is opgewonde. Ek is opgewonde oor waarmee God besig is. Ek is opgewonde om te sien hoe gaan die Gees die kerk van Jesus Christus lei. En ek is opgewonde vir die tyd om tyd te hê om ons self oor te gee aan God en voor te berei vir wat ookal God gaan doen. Laat U koninkryk kom Here. U wil geskied.