Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 6: 25- 34 Sorge ‘n Mens moet eintlik ‘n aanloop vat na hierdie teks toe. Soos ‘n hoogspringer. Jy meet jou aanloop uit. Jy doen ‘n proeflopie om te sien of als reg voel. En dan dink jy jou die sprong in voor jy jou aanloop begin neem. En dan kom die sprong wat tel. En nog een en nog een. Die aanloop was “Kom hier! Kom saam met my.” Jesus wat Sy dissipels roep. Ook vir my en jou. En dan, in die aanloop tot hierdie spesifieke sprong wat ons moet maak, lê gebed en vas, en die besef dat ek moet mooi kyk waar my hart lê want dit is waar die skat is wat ek eintlik najaag. En net so voor jy vastrap, netso voor jy jou vastrap voet plaas, fokus jy jou oog op die dwarslat, op Christus, Sy lig in ons, en die feit dat jy Hom liewer het as enigiets. Selfs liewer as geld of besit. En dan maak jy die sprong om jou bekommernisse te laat vaar. Om jou lewe so volledig in God se hande te plaas, dat jy nie meer fokus op more of oormore nie. Maar eerder om nou vir God te leef. Kan ek dalk net byvoeg: Jy moet jouself commit vir die sprong. Halfhartig werk nie. En geloof is netso. Jy moet commit om God te vertrou. Daar is nie plek vir geloof en bekommernis nie. Jy moet besluit watter een bly en watter een moet gly. Geloof, en vertroue in God is nie ‘n gevoel nie, dit is ‘n keuse wat jy maak al staan jy voor ‘n nuwe hoogte wat jy moet aandurf. Terug by ons sportbeeld. My hekkies afrigter het altyd die winter oefenprogram stamina bou genoem. Jy moet oor jare stamina opbou om jou deur die kompetisie seisoen te dra. Geen atleet daag op ‘n naweek by ‘n kompetisie op sonder om te oefen nie. Elke sprong, elke wedloop is ‘n onttrekking wat gemaak word op die voorafgaande jare en week se oefen. In ons geval is dit al die skatte wat ons n die hemel daagliks opgaar, waaruit ons nou reeds leef. Uit God se liefde, ons liefde vir God, gebed. Naasteliefde en omgee. En en en en. Kan ek weer sê: Jy gaan die sprong, op daardie nuwe hoogte, op die hoogte waar bekommernisse lê, net kan maak as jy oortuig is dat God jou liewer het as enigiets wat daar is. Liewer het as al die mossies. En jy weet tog self dat nie een mossie val ooit op die grond sonder God nie. En het die Here Jesus nie toe bygevoeg dat ons baie meer werd is as al die mossies nie? (Matt 6: 26; en 10:31). So, hoeveel mossies is jy werd? Hoe oortuig is jy dat God jou oneindig, sondig voorbehoude tot die uiterste toe lief het? Dit is dieselfde Here wat Sy lewe aan Sy kruis gaan opoffer het wat hier gesê het, jy is baie meer werd as die voëls wat so keurig deur God versorg word. En daarom, moet jou nie bekommer nie. Die skatte in die hemel is nie vir eendag nie. Jesus Christus het die eendag volledig aan die kruis uitgesorteer vir die wat glo. Die skatte is waaruit ons nou leef. En vanuit die hemelse stoor gee God meer as wat ek en jy ooit daarin gesit het. Ons leef nie om eendag saam met Jesus in die hemel te wees nie. Ons leef nou reeds saam met Jesus totdat die eendag vir ons kom. Nou is nie ten koste van die eendag nie en die eendag is nie ten koste van die hede nie. Besef dan, dat daar meer aan die lewe is as kos en klere. Die lewe gaan oor God en God se koninkryk. Jesus herinner ons om rond te kyk in die natuur. Sien raak dat die voëls niks opgaar nie. Elke dag is daar vir hulle dit wat hulle nodig het. Hulle moet net uitgaan en dit gaan kry. En moenie dink voëls ontvang net nie. Hulle is van die besigste wat daar is. ‘n Mens dink hier aan Israel in die woestyn toe die Here hulle gevoed het met manna. Elke oggend was daar genoeg vir daardie dag. Wat ingesamel is om weg te bêre het vrot geword. Behalwe die ekstra vir die Sabbatdag. As ons in die Nuwe Testament kyk na hoe Jesus klein kinders beskou. Daardie ouderdom kind wat totaal afhanklik is van ouers om vir hul te sorg. Vir hulle is al wat bestaan nou. Hulle is so tuis in hul ouers se liefde dat more se kos vir hulle ‘n gegewe is. Hulle dink nie eers daaroor nie. More sal hulle vra vir ‘n broodjie. Maar vandag sal hulle nie ‘n stuk bekommernis hê oor brood vir more nie. Daar sal wees. Ons het nodig om so tuis te kom in God se liefde soos ‘n klein kind in sy haar ouers se liefde dat ons nie eers twyfel of daaraan dink dat more sy deel van krag, genade, uitkomste sal inhou. Daar is geen rede om vandag sleg te maak met dit wat more dalk glad nie gaan gebeur nie. Iemand het gesê dat om jou siek te bekommer is om more se probleme saam met vandag sn met net vandag se krag te probeer hanteer. Dit maak net nie sin nie. Kyk ‘n oomblik terug en sien net weer die aanloop tot hier toe. Sien raak dat Jesus ons gelei het om die klem, of die fokus van ons lewens, weg te skuif van aardse dinge, van aardse skatte najaag, na ‘n lewe ingestel daarop om saam met God te leef. Om Jesus werklik te volg. Om te ontdek dat ons in Christus genoeg is en genoeg sal hê. In ‘n wêreld wat jou meet en sê jy is nie goed genoeg nie, of nog nie goed genoeg nie, kom Jesus sê, moenie daarin inkoop nie. Soek jy die koninkryk van God en jy is genoeg. En jy sal genoeg hê. Verlede Sondag het ek vertel van die man wat met my gesels het oor aftrede en toe gesê het: Solank as jy vra hoeveel is genoeg gaan jy nooit genoeg hê nie. Dit voel vir my ons is weer op daardie punt. Ons vra, of dalk is ons te bang om te vra, sal daar genoeg wees more? Kom ons doen ‘n toets, bietjie moeilik want ek kan nie jou reaksie sien soos in ‘n normale erediens nie, maar wie se kleuter het al ooit gevra of daar more klere of kos vir hulle sal wees? En het jy al ooit moedswilliglik of uit verstrooidheid nie jou kleuter kos gegee of vergeet om hulle aan te trek? Nee. Jy sou jouself eerder tekort gedoen het maar jou kind sou kos en klere gehad het. Dalk nie die die duurste en skaarste nie. Maar hulle sou genoeg gehad het om te leef. Ek vra jou om God te sien as jou ouer. Om te besef Hy is werklik die Een wat vir ons sorg. Moet asb nie vinnig oor die gedagtes of deel beweeg nie. Ons leef in tye waar ons more dalk sit sonder die werk, of die pensioen of die gesondheid waarop ek en jy so dikwels staat maak. Wat dan? Of jy ‘n gemeente aan die gang moet hou, of jou eie besigheid se deur probeer oop kry en oop hou, of jy dood gewoon nie weet of jy nog ‘n werk gaan oor hê as ons eendag by vlak een uitkom, weet jy wat, die realiteit is nie mooi en daar is menslik gesproke, rede tot kommer. Dit is ons nuwe sprong om te maak. ‘n Nuwe keuse wat ek oor en oor moet maak. Alles tot hiertoe in Matteus 4 tot 6 het na hierdie punt opgebou. Kies: God en God se wil. Of, jou eie vermoeëns en krag. Maar kyk mooi en sien hoe God sorg. Kyk na jou aanloop en sien dat deur die genade van die Here het ons dit gemaak tot hier ... en Hoe!!! God het ons tot hier gekry en deur dinge gekry. Selfs dinge wat ons gedink het ons einde gaan beteken. Die nagmaal is bewys stuk een dat God wil en dat God sal omdat Hy ons lief het. Hoor net weer die Here se Woorde: “Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” Ek los jou met Jeremia se gevolgtrekking na ‘n horibale tyd. Klaagliedere 3: 22c, 23 “... daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke more nuut.” Gebed Nagmaal