Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 6: 22 - 24 Soms moet ‘n mens ‘n treë of so terug staan en rustig na die groter prentjie kyk. Hierdie is so ‘n geleentheid. Ek vra jou om dit te doen met die teks. En daarna te doen met jou lewe. So ‘n bietjie van verder af bekyk hoe lyk die gebou van jou lewe wat jy besig is om op te rig. Soms kan jy in die detail die geheel uitwerk en soms moet jy na die geheel kyk om die detail te verstaan. Ek dink dis Micheal White of dalk David Epston wat gesê het, die probleem is nie die probleem nie. Hoe jy kyk is die probleem. In verse22 en 23 praat Jesus oor hoe jy kyk. As jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. En as dit eers donker in jou geraak het, hoe donker moet dit nie wees nie. Wat ‘n mens laat besef jy moet met alles in jou seker maak wat ook al jy dink of doen of sê, doen dit vanuit die lig wat van Christus af kom. Moenie dat die wêreld jou orientasie punt word nie. Moet nie soos die wêreld word nie. Belê jy in wat God mee besig is. Ek besef ook dat Jesus werk aan ons verhouding met God. Hy wys die risikos uit, Hy wys op die dinge wat mense maklik verlei weg van God af. Tot hiertoe was dit oa ons eie ek, die begeerte om gesien en bewonder te word vir oa ons godsdienstigheid. En ‘n mens vra jou af Wie is die belangrike een in jou lewe? God of jyself? As dit God is dan belê jy jou tyd en energie in dit waarmee God besig is. As dit jouself is, wel dan is alles oor wat jy begeer of wil hê. So ‘n mens vra jouself af hoe raak geld, mammon, ons verhouding met God? Jesus is besig om hier die een steen bo op die ander te lê. So die stene wat Hy hier reeds gelê het gaan oor hulp aan die armes, gebed en vas. En bo op dit belê in die hemel. Met die waarskuwing dat waar jou skatte is gaan jou hart wees. Wat is die volgende steen wat Hy inbou in ons lewens in? Oppas vir wie jy die liefste het. En die steen hierna, volgende Sondag se teks, sê, vertrou God want God kan deliver. (25 – 34). As jy kies om God te dien hoef jy nie bekommerd te wees oor jou môres en oormôres nie. Wat terug echo in volgende week se vers 33 “Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” Ons is nie besig met ‘n paar los leringe van Jesus nie. Ons is besig met stene wat versigtig stap vir stap vasgemessel word. Jesus bou aan jou lewe sodat jy eendag gelykvormig aan Hom sal wees (Rom 8:29) of in Jesus se eie woorde in Johannes 14 “Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; ....” Maar jy moet die keuse maak dat Jesus jou kan vorm, of opbou tot dit wat God wil hê. Ons moet deurlopend bewustelik bly kies vir God. In alle dinge vir God kies. Leer dan om soos Jesus te kyk. Vanuit die lig. Belê in waarmee God besig is. Kies om God te dien eerder as om die wêreld gedienstig te wees. Kom ons trek die fokus fyner in: Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Iewers gaan jy moet kies wie se belange kry voorkeur. Jesus is hard hier en baie duidelik: Julle kan nie God en mammon dien nie. As jy jou hart sit op God, dan moet jy jou geldsake en werk anders hanteer. As jy nie wil nie, moet jy aanvaar jou hart is waar jou geld is, en verwag dan dat God jou soos ‘n ware gentleman die ruimte gaan gee om jou passie te gaan uitleef ... heel moontlik sonder Hom .... want jy het mos gekies. Kom ek wys jou hoe het die vroee Christene hierdie woorde van Jesus laat groei in hulle. Die Lig in Johannes en die Lig in Jakobus het so geskyn: 4 Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie 'n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy 'n vyand van God is. 5 Of dink julle dat die Skrif sonder rede sê dat God die gees wat Hy in ons laat woon, heeltemal vir Homself wil hê? Jakobus 4:4-5 En in 1 Johannes 2: 15-17 15 Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. 16 Die wêreldse dinge – alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit – kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. 17 En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.” Dit is die moeite werd om te kyk wat Johannes uitwys as wêreldse dinge: Dit is alles wat die sondige mens begeer, alles wat hy sien en begeer, skryf Johannes. Wel dis ‘n ander manier van te sê wat Jesus gesê het met as jou oog sleg is dan is dit regtig donker in jou. Dit is hier wat ons ‘n tree moet terug staan en ons lewens mooi bekyk. Geld en besit is wonderlike goed. Dit is geskenk van God. Dit kan ook die grootste versoeking denkbaar word. Wat ons elkeen mooi moet besef, en dis vers 19 se skatte wat ons verkeerd laat dink, hier in vers 24 oor die mammon gaan dit nie oor die hoeveelheid nie. Jy kan peanuts besit, bittermin en steeds so verknog daaraan wees dat daar nie plek vir God is in jou lewe nie. Nie die hoeveelheid nie, maar die keuse is wat ter sprake is. En soms glo ons ons het die keuse vir God gemaak, maar as die dominee oor geld preek, is ons op ons agtervoete en die ene baklei. Daar is ‘n ou gesegde wat sê ‘n man se beursie is die laaste wat tot bekering kom. Dalk hard, maar waarsku dit nie dalk juis hoe makklik ons onsself mislei nie? Dat ons vertrou tsv wat ons bely dalk nie heeltemal by die Here lê nie maar in dit wat ek in my hand het en nie soseer in God nie. En dis moeilik. Ons almal wil sekuriteit hê. Ons maak voorsorg. Ek het ‘n gesprek gehad met iemand by geleentheid. Dit het oor aftrede gegaan en hy is in my opinie ‘n kundige as dit kom by die finansiele. Toe ek hom vra hoeveel is genoeg belê vir aftrede? Toe was sy antwoord: Solank jy daardie vraag vra sal jy nooit aftree nie. Jy sal nooit genoeg hê nie. Vandag se vraag is ook nie oor genoeg nie. Oor hoeveel is genoeg of oor hoeveel is teveel nie. Vandag se vraag is wat wil God van my hê? En is wat God wil hê vir my belangriker as wat ek kan maak of genereer. Miskien moet ons eerder vra: Op wie vertrou ons? Sou dit nie meer lig gee op hierdie teks nie? ‘n Mens kan teoreties vir God en dit wat jy besit in die vorm van geld en ander besittings lief hê. Maar blind wees vir die feit dat net een van die twee jou keuses bepaal. Jesus se woorde is baie sterker as wat hierdie vertaling dit aandui. Die Griekse woorde dui op lief hê en haat. Teenoorgesteldes. Uiterstes. En nou moet jy God se naam sit in of die kolom vir liefhê of in die kolom vir haat. En hoe jy jou geldsake hanteer moet as bewys dien. Jy kan vir God werklik lief wees en dit wys deur jouself en deur alles wat jy tot jou besit tot God se beskikking wees. Dan is jou skatte in die hemel. Dan is daar lig in jou oog en lig in jou binneste. Ek voel nog nie tevrede met dit wat ek tot hiertoe gesê het nie. Hier moet meer aan wees. Jesus doen nie sedelessies nie. Wat wil Jesus vir jou en my by uitbring? Om in alles die dieper keuse te maak vir God. En daardie keuse van my vir die Here my God, te laat deurskyn in al my besluite en dinge. Om God lief te hê met my hele hart en my hele siel en my hele verstand en met al my krag. Dit sluit aan by die voorafgaande en by dit wat hierna kom. As ek dit reg kry dan dien ek net een Baas, en dit is ons hemelse Vader. Dat ons dryf nie besit of geld of mag of wat ookal moet wees nie. Maar om in alles die beste te wees wat ons kan vir ons Here. Dan dien ons God nie net met ons lewens nie maar ook met dit waarmee Hy ons seën, ook met alles wat ons het. Want God is ons alles en ons het Hom lief.