Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 6: 19 – 23 Kom ons noem dit Lockdown wysheid. Ek hoor die mooi Afrikaans is grendeltyd. Dus praat ek van grendeltyd wysheid. Grendeltydwysheid sê: dink mooi na watter vorm van normaal toe jy wil terugkeer as die grendeltyd verby is. Koninkrykswysheid sê jy gee al jou energie en aandag aan dit wat jou die naaste aan die hart lê. Baie mense het groot gekoop voor die grendeltyd begin het. Maar nie al jou aankope gaan ewelank hou nie. Groent en vrugte se leeftyd is kort. Jou meel kan mied in kry. Jou en my lewe is nie veel anders nie. Daar is dae wat ‘n mens voel jy word geleef. Jy moet werk. En die baas wil meer hê as die spreekwoordelike pond vleis. Die druk is hoog. Die eise van die werkplek is hoog en vat omtrent al jou energie en tyd in beslag. En dan is daar nog jou gesin en ontspanning en die gim. En ek stem saam dis alles belangrik. En jy moet plan maak en voorsien vir jou ou dag. En die kinders wat wil gaan leer. En in al hierdie dinge en al die besluite wat jy moet neem rondom hierdie en ander goed, moet jy jouself vra wat weeg die swaarste? Wat gaan jou die verste vat en wat gaan die gouste verval. Grendeltyd leer ons ons kan sonder ‘n klomp goed goed klaarkom. En dit laat mense na God verlang. So as jy dink oor dit wat jy alles wil terug hê in jou lewe as grendeltyd verby is, dan gee Jesus jou iets om alles mee te weeg en dan te besluit wat gaan die langste hou. Wat gaan jou die verste vat. Jesus sê, as jy goed vat wat hier op aarde is, dan maak jy nie die beste besluit nie. Want dit wat hier op aarde is, wel skelms kan dit steel, kuberkrakers kan jou rekening in sekondes leegmaak, ‘n virus kan jou jou besigheid of jou werk kos, die aandelemark of die Rand wat tuimel kan jou pensioen of jou beleggings tot niet maak. Ek wil jou nie swartgallig maak nie. Dis nie my werk nie. Ek sê jou net wat Jesus sê: niks wat jy hier op aarde kan versamel is veilig nie. Jesus beskou nie aardse goed as ‘n goeie belegging nie. Moet nie jou hart sit op goed nie. Moet nie ‘n slaaf word van dit wat jy besit of wil besit of begeer nie. Dit gaan jou nie gelukkig maak nie. En dit kan oornag verdwyn. En dan wat. Die skatte van die hemel is anders. Wat jy daar belê kan niks oorkom nie. So wat is daardie skatte? Jy belê in dit wat God doen. Jy belê in dit waarmee God besig is. Jy fokus op dinge soos die liefde uit te dra na alle mense. Die doen van goed aan ander. Hulp aan armes. Gebed. Vas. As ek dink in terme van Kolossense dan sit jy energie en tyd in om meelwend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam te wees. Om iemand anders te vergewe soos die Here jou vergewe het is om skatte in die hemel by mekaar te maak. (Kol 3:13). Ons moet mekaar liefhê. Ek dink jy verstaan dat die positiewe en mooi wat in verhoudings gebeur is by God meer werd as al die besittings wat mense opgaar. Dallas Willard, ‘n teoloog en filosoof, haal die storie van Leo Tolstoy op. Hy vertel dat Tolstou depressief geraak het op die kruin van sy sukses as skrywer oa omdat al sy skatte en dit wat hy die meeste waarde aangeheg het, of sal doodgaan of in iemand anders se besit sal opeindig. My oorlede skoonpa het graag gespot dat die skoonma se volgende man gaan op die stoep sit en vet sigare rook. Bedoelende alles wat hy voor gewerk het gaan iemand anders geniet of verkwis. Skoonma het nie weer getrou nie. Maar as jy sterf vat jy niks saam nie. En dit het alles swaar in Tolstoy se gemoed gelê. Hom depressief gemaak. Wat alles vir Tolstoy verander het is die alternatief wat Christus bied. Jesus het hom ‘n nuwe lewe gebied, vry van die gevoel van alles kom tot niks wat hom gejaag het. Jesus het vir hom wat Leo Tolstoy is ‘n lewe gewys wat nie betekenisloos is nie. Maar wat vrugte dra in die ewigheid in. Jesus leer ons dan in hierdie kort deel om te belê in dit wat nie ‘n rakleeftyd het nie. Ek besef dat die woord belê, dalk jou gedagtes kan wegvat na geld en beleggings toe. Ek wil dit duidelik maak, ook tyd en energie en opofferings is deel van belê. Om jouself te gee vir ander en so doende veral vir God is veral by uitstek waaroor dit gaan. Paulus skryf in Galasiers 6: 7 – 10: 7 Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat 'n mens saai, dit sal hy ook oes. 8 Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes. 9 Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel. 10 Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges.” Is dit nie ‘n ander manier om te sê moenie skatte bymekaar maak waar mot of roes dit kan verniel nie. Maak vir jou skatte bymekaar in die hemel. Of dan hier, saai op die land waar die Gees se boerdery is. En jy sal van die Gees die ewige lewe oes. En dan bou Paulus hierop voort met ‘n mooi stukkie motivering: moenie moeg word om goed te doen nie. Solank ons die geleentheid het moet ons aan almal goed doen, veral aan ons mede gelowiges. Jesus belowe ons nie dat as jy werk waar God werk dan sal dit hier met jou baie goed gaan nie. Paulus, Petrus en hoeveel ander het swaar gely in hul werk vir die Here. Jesus belowe ons ‘n lewe hier wat gedra word met Sy vrede, en gelaai is met die vrug van die Gees. Jesus bied ons ‘n alternatief vir die leë bestaan wat baie mense voer. En ja, ook lewe na die dood. ‘n Lewe in heerlikheid by God. Maar dit is nie ons fokus nie. Ons fokus, ons dryf is om God lief te hê. En omdat ons groei in ons liefde vir God spits ons ons alhoemeer toe op die doen van God se wil. Saai ons op die akker van die Gees. En ons doen dit want ons hart is by God. Ons sal een van die dae, volgende Sondag as die Here wil, gesels oor wat gebeur as jou hart op geld en besit is. Die stryd om jou hart tussen God en besit. Wie gaan wen? Maar vir nou, fokus ons op God en ons liefde vir God. En as ons kan groei in ons liefde vir God dan word die gesprek wat oor ‘n week of twee kom, aansienlik eenvoudiger. Vers 22 tot 23 sê dat as jou hart gevul is met lig, met Christus, liefde klop vir God, dan sal die keuses wat jy maak oor hoe en wat jy jou tyd, aandag en energie en geld op sit, op God wees en ewigheidswaarde hê. God is lig, skryf Johannes in sy eerste brief en in Hom, in God is daar geen duisternis nie. As God in Jesus jou innerlike vernuwe het, wedergebore het, dan is jy lig en dan treë jy op op manier wat daardie lig skyn om die lewe so bietjie minder donker vir ander te maak. Dan bring die Lig in jou hoop vir mense wat hopeloos voel omdat niks meer sin maak in die lewe nie. Alles is soos die prediker van ouds gesê het, net ‘n gejaag na wind. Grendeltyd vra hoe lyk die normaal waar toe ons wil terugkeer? Is dit wat vir jou normaal was voor die virus, werklik iets waarop jy jou lewe wil bou? Of steel dit meer by jou as wat dit gee? Kom na Jesus, Sy las is lig. Sy juk is sag. Kom belê jouself in dit wat God mee besig is.