Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 6: 16 – 18 Die eerste wat ek vanoggend van jou moet vra, is dat jy anders oor jouself begin dink. En dan jouself vrae vra oor jou geloofs gewoontes. Of, ‘n beter woord is seker geloofsdissiplines. Dan gaan dit wat ons saam lees beter in plek val. Die anders dink is eenvoudig: Herinner jouself dat as gelowige is jy ‘n dissipel van Jesus. In vandag se taal, ‘n leerling, of student of ‘n vakleerling van Jesus. Vra die Here om hierdie bewustheid by jou te kweek. En om jou te leer en vorm, want as Sy appy wil jy leer om soos Hy te wees, te dink en te doen. Jesus wil ons vorm om eendag so te wees waar ons eerlik soos Hy Leermeester kan sê (Johannes 5) dat ek net gedoen en gesê het wat ek by Hom en dus by die Vader gesien en gehoor het. Vanoggend is deel van hierdie luister en sien wat God sê en doen. Wat Jesus ons vanoggend leer gaan ook oor die hoekom van wat ek en jy as gelowiges doen. Dit wat ons nou gaan saamlees is deel 3 van 3 waarskuwings wat Jesus aan al Sy volgelinge rig. Dit is drie dinge wat altyd deel van ons geloof sal wees. SKRIFLESING: Matteus 6: 16 ev Vas? Rerig? Hoekom? Wat is die punt van vas? Ek wil ‘n beeld gebruik: ‘n Mentor. As jy mooi daaroor dink dan het Jesus 12 mense gementor. Eintlik meer, maar 12 ten nouste saam geleef. Hulle het gesien wat en hoe Hy doen en geleer en is gevorm deur Hom. En dit is tipies van wat Jesus (a) met jou en my wil doen, Hy wil so in ‘n verhouding elke dag met Hom leef en gesels dat Hy kan vorm aan ons. Dit is waar, in stilte by Hom sit, gebed en vas, ter sprake kom. En (b) Jesus wil jou en my so begelei dat ek en jy ander kan mentor. Daarvoor moet ek en jy oa vas verstaan. ‘n Mentor sal jou tipies uitvra oor hoe dit gaan? Waarheen mik jy? Wat keer jou om daar uit te kom? en dan slaggate uit wys. Dit is waarmee Jesus hier besig is. Ons weet God wil hê ons moet gelykvormig word aan die beeld van Sy Seun (Rom 8). Ons weet dat Jesus glo dat ons sal dieselfde dinge kan doen wat hy gedoen het (Joh 14). Nou sê Hy in hierdie onderafdeling in die Bergrede, daar is drie dinge van belang om uit te kom by dieselfde dinge doen as Hy. Sien die armes raak. Gebed. Vas. Drie standaard, basiese geloofs dinge van Sy tyd. Van alle tye. Maar daar is slaggate. Een van drie slaggate wat Jesus uitwys is vas. Die ander twee is hulp aan armes en gebed. Die punt wat al drie saambind is moet dit nie doen sodat ander mense kan dink jy is ‘n ster nie. Jy doen dit nie om gesien te word nie. Sy voorbeeld is die skynheiliges. Hulle het maniere gevind sodat mense kan sien hulle vas. Nou ... dit is maklik om mense te laat sien jy help die armes: in daardie tyd, jy help mense as jy seker is daar gaan iemand wees wat jou sien, en vandag, jy neem net ‘n selfie van jou en die armes en die pakkie kos wat jy gee. En met gebed ook: jy sorg dat jy gebedstye op straat is en jy bid sodat almal jou kan hoor en sien bid. Hoegemaak met vas? Jy vertel almal. Of, soos die skynheiliges: Hulle het met lang gesigte rondgeloop. Hulle gesigte mismaak, sê Jesus. Jy weet soos in ‘n ... ek is ietwat in pyn want my maag eet aan my rugstring tipe uitdrukking. In al drie gevalle het die skynheiliges die erkenning van ander gesoek. Nou sê Jesus, mooi so, jy het klaar gekry wat jy gesoek het: die erkenning van mense. Moet niks van God verwag nie. Al is daar risikos, is al drie dinge goed vir jou saamwees met God. Niemand sal ooit iets sê soos jy mag nie die armes help nie, of jy moet liewers nie bid nie. So ook vas. Vas is dalk net die mees verwaarloosde Christelike dissipline. Kom ons trek die fokus in: Jesus leer ons hier om vry te kom van die opinies van ander mense. En om te fokus op die opinie van God. Om ons lewens te rig op God. Ek hoop jy het gehoor: vas is nie om God se arm spreekwoordelik te probeer draai of ‘n aksie wat jy soos ‘n resep toe pas om God te dwing om vir jou te gee wat jy vra nie. Vas is ook nie ‘n metode om brownie points te score nie. Vas is iets tussen jou en God. Jy doen dit stil stil. In die geheim. En so breek jy die invloed en opinies wat ander oor jou mag hê. Want jou motief en jou dryf om te vas, is nie meer om mense te beindruk nie. Ons is vrygemaak. Of mense weet of nie weet nie maak nie vir ons saak nie. Dit gaan oor God. En nee, jy doen dit nie, jy vas nie en jy bid nie en jy gee nie vir die armes om God te probeer beindruk nie. Jy doen dit as deel van jou totale oorgawe aan Jesus. Jy wil magteloos, soos klei, in Sy hande wees en jy wil hê Hy moet jou vorm na Sy behae. Jesus maak dit nie ‘n wet nie. Hy maak dit ook nie ‘n wet dat ons net in die geheim moet mense help, bid en vas nie. Want dan gaan mense dit weer skeeftrek en probeer doen om punte in die hemel te verdien. Wat jy so terloops nie kan doen nie. As Mentor by uitnemendheid, wys Jesus ons hoe dit kan verkeerd loop. En Hy sê die positiewe, as jy armes help, doen dit in die geheim; as jy bid, gaan in jou binnekamer; as jy vas, maak seker jou hare is gekam en jy is netjies sodat niemand eers sal kan raai dat jy besig is om te vas nie. Mense vas om verskeie redes. In Matteus 6 se konteks gaan dit waarskynlik oor die bewus word van ‘n sonde. Dit was die algemeen in daardie tyd. Dit kan ook wees as jy soek na God se wil vir iets spesifieks in jou lewe. Dan koppel jy vas aan gebed. As die honger knaag, of in die etebreek, ipv eet bid jy. Geestelik het dit baie waarde. Mense vas ook in tye van trauma, oor siekte, of iemand anders wat siek is, of in ‘n pandemie. Om jouself te verootmoedig voor God. Dis veral rondom sonde (Levitikus 16:29-34). Maar ook in tye van siekte , of na ‘n nederlaag (Rigters 20:26); in Joel 1:14 is daar rondom ‘n plaag gevas. Daar is ook Dawid wat toe hy besef sy seun gaan sterf opgehou het met sy vas (2 Sam 12: 16, 21-23). En in Handelinge (13:2,3) by die verkiesing van mense om op ‘n sendingreis uit te stuur. Maw hulle vas om beter te kan fokus op ‘n saak van belang. Hand 14 die verkiesing van ouderlinge. Daar is baie baie voorbeelde oor vas. So bv dat die wet vereis het dat jy een keer per jaar sal vas ((Lev 16:29-34; 23:26-32; Num 29:7-22). En die Fariseers in Jesus se tyd het gespog dat hulle twee keer ‘n week vas (Lukas 18:12). In Matteus 4 lees ons dat Jesus gevas het. Dit was in die woestyn vir ‘n periode van 40 dae veertig nagte. Daar staan Hy het niks geeet nie. Jy kan natuurlik nie ophou water drink nie. Ek weet nie van ander tye of Hy gevas het nie. Hy wou nie dat Sy dissipels vas terwyl hulle by Hom was nie. Na hemelvaart lees jy wel dat hulle gevas het. Jesus wou dat hulle die vreugde van by Hom wees ervaar en nie droewig raak oor sonde tydens vas nie. God koppel vas aan ons lewenstyl. Soos alle geloofsdinge kyk die Here hoe kom dit uit by naaste liefde. Jesja 58 is belangrik hiervoor: Jesaja 58 is ‘n moet lees oor vas. Die profeet koppel vas hier aan hoe jy die geringstes behandel. En aan ‘n eie-willige leefstyl bv hulle het gevas maar steeds op die vasdae gedoen net wat hulle wil en die mense wat vir hulle werk nog harder laat werk. (vers 3). Hier teenoor is die vas wat God toe van Sy volk wou hê:(Verse 6 tot 10) • Om die wat onregverdig gevange gehou word te bevry • Om vir die wat honger is brood te gee en vir die armes en dakloses ‘n blyplek. • Om as jy iemand sonder klere sien vir hulle klere gee. • Om nie mense aan hulle lot oor te laat nie. • As jy sorg dat die mense nie meer by jou verdruk word nie • As jy voorsien in die behoeftes van die wat nood het. Ek het net enkeles uitgelig. Lees asb Jesaja 58. Daar is baie meer om te sê oor vas. Dit is duidelik dat vas ook nie net gaan oor om nie te eet of dalk koffie uit te sny vir ‘n tydperk nie. Vas van jou sondes af. Vas van goed af wat jou tydsteel, tyd wat jy ekstra met die Here kon deurbring bv televisie, of niks doen of sosiale media. Elke mens sal sy eie voorbeelde hê. Maar vas oor die regte redes. Laat dit oor God gaan. ‘n Dieper begeerte om God se wil te ken. Of net omdat jy stukkend is oor wat ons sondes Jesus gekos het. Vas is nie ‘n voorvereiste nie. Dit is ‘n pad wat vir jou oop is, en as dit op jou hart lê jy gerus ootmoedig kan stap. Maar of jy bid, of jy die armes help, of jy vas, hou jou fokus op God. Moet dit nie oor jouself maak nie.