Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Lukas 24: 13 – 35 So is die Here. By ons. Vang ons soms onkant. Maar altyd daar. As jy jou oë oopmaak en fokus, dan besef jy Hy is hier by jou. Richard Rohr het dit mooi gesê, hy het gesê God is altyd teenwoordig. Dit is ek en jy wat afwesig is. Soos jy hier sit en luister, is God by jou. Jy, of jy en jou gesin is nie alleen nie. God woon ook in julle huis. En God is ook by ons kinders in ander huise, dorpe, en vêr lande. Dit is ek en jy wat afwesig is by God. Ek en jy wat nie ingestel op Hom bly nie. Maar God laat dit nie daar nie. Hierdie stukkie geskiedenis wat ek vir julle gelees en vertel het, sê duidelik, Jesus los ons nie in ons afwesig wees van Hom nie. Hier is twee van hulle, nee nie twee van die elf nie, maar twee mense wat met Jesus ‘n pad gestap het. Twee mense wat ook vol hoop in Jesus en vol verwagting in Jerusalem was. Al hulle hoop was op Hom. En toe word Hy gekruisig. Ek dnk dit was Stephan Joubert wat iewers gesê of geskryf het dat Jesus kom stap in hierdie gedeelte saam met twee mense wat van Hom af weg stap. Dis nou oor. Hulle geloof in Hom is geknou. Of dan dit is hoe ek Stephan se woorde onthou. Ek weet nie van jou nie. Ek weet nie hoe jou reis met Jesus op hierdie oomblik is nie, of waar jy op jou reis saam met Hom trek nie. Ek weet nie of Jesus meer van jou rug as van jou gesig sien nie. Dalk is jy soos hierdie twee mense wat begin wegstap het van Jesus af. Al wat ek weet is dat as Jesus meer van jou rug sien, moet jy omdraai, want Hy wil saam met jou wees. Of in terme van hierdie stukkie geskiedenis, Hy wil saam met jou eet. Ek besef dat hierdie twee mense op daardie dag by die Man wat vir hulle die Skrifte oor Jesus so mooi kom verduidelik het, aangedring het dat Hy saam met hulle moet kom eet. Oorslaap want dit was amper aand. Dalk is dit iets vir jou om te doen. By Jesus aandring. Hom ernstig uitnooi, kom bly die Lockdown hier by ons. En bly dan langer ook. Bly vir altyd. As ek vir ‘n oomblik kan teruggaan na waarmee ek begin het, bid, bid dat die Here jou bewus sal maak dat dit regtig Hy is wat nou by jou is. Die opgestane Here. Die Here aan Wie nou al die mag gegee is in die hemel en op die aarde. Hy is by jou. Hy is by jou kinders. Die doop waarborg dit. Wie God is en hoe God is sê dit ook. Ons is te dikwels, soos hierdie twee mense wat oor Jesus praat en nie besef, dis Jesus wat by hulle is nie. En ek verstaan hulle. Jy behoort ook hulle te verstaan. Want soms is die werklikheid so werklik dat ons nie verby dit kan kyk en God sien nie. Dood is dood. Het hulle Hom dan nie self, met hulle eie oë aan die kruis sien hang en sterf nie? Is dit dan nie al wat Jerusalem die heel naweek oor gepraat het nie? Dalk het hulle onthou dat Jesus gesê het Hy sal opstaan op die derde dag. Maar dit is nou al die derde dag. Ons Skriflesing het begin met: “Dieselfde dag ...” Dieselfde dag waarop Maria Magdelena, Johanna en Maria die ma van Jakobus die opgestane Jesus gesien het. Op dieselfde dag het die opgestane Jesus saam met hierdie twee Betaniee toe gestap. Hierdie twee reisigers op pad na Betanië, op pad terug huis toe, wat ek vermoed, terug na hulle ou lewe toe, het nog nie die nuus gehoor nie. En ons weet mos, dood is dood. Hulle het geweet van de opstanding op die derde dag maar hulle oë het nie God se werklikheid geken nie. Die leer van die opstanding op die derde dag het nog nie afgesak, gemigreer na hulle harte toe nie. Kopkennis is nie geloof nie. Ek is jammer. Dogma ook nie. Dit is eers geloof as dit insak tot in daardie deel wat jou regtig jy maal. Miskien is dit ‘n goeie tyd, hier in lockdown, sommer na hierdie diens om na te dink oor tye in jou lewe waar kopkennis eers hartsaak moes word. Waar God eers jou oë moes oopmaak en vir jou wys die werklikheid is nie wat jy gedink het dit is nie, maar dat Hy, jou Here alles kan omkeer en verander. Prof Mainier (?) ek hoop ek onthou die van reg, het so vier, vyf jaar terug in ‘n lesing oor die teenwoordigheid van God gesê, die woordjie, teenwoordig, sê, God is die teen woord vir die wêreld. God is die Woord wat teenoor dit wat die wêreld voorgee, staan. Hierdie twee mense ontdek dit die dag toe Jesus fisies met hulle saamgeloop het. Hulle het geglo in God se teenwoord: Jesus sal opstaan op die derde dag. Maar tog ook soos die wêreld, gedink, nog steeds geglo dood is dood. Wanneer het hulle oë oopgegaan? Ek is bang om die vraag te beantwoord. Ek is bang want dan gaan sommiges na die handeling, die ritueel gryp en weer Jesus mis. Jou oë gaan oop soos jy pleit dat Jesus by jou moet tuis gaan. Vir die twee wegstappers, terug huis toe stappers, het hulle oë oopgegaan en hulle het Jesus herken toe Hy die brood neem, die seën vra, dit breek en vir hulle gee. In die intieme oomblik van saam eet en brood uit die Here se hande neem, daar, het hulle oë oopgegaan. Jy hoef nie nou te wil nagmaal vier nie. Jy hoef nou net jou oë in gebed oop te maak en te sien wat nog altyd ‘n feit was en steeds is en sal wees: Jesus is by jou.Homself aan jou openbaar. En dan verander alles. Sy teenwoordigheid verander alles. Ek weet nie mooi hoe om myself hier uit te druk nie, maar as elke weefsel in jou, jy hier diep binne in jou weet, dis Hy!, dit is die opgestane Here Jesus nou hier by my, verdwyn jou vrese, sien jy dinge anders. Begin jy leef. En soos jy bly bid en aandring dat Jesus by jou tuisgaan, ontdek jy hoe Hy jou lewe verander. Kan ek nog vir jou sê Jesus het hierdie twee mense ontmoet, gaan haal, daar waar hulle was. Hy het hulle nie gelos nie. Hy het hulle gaan haal. Dieselfde dag nog het Hy saam met hulle gaan stap. Hulle, hierdie twee mense, hulle was opgewonde, hulle harte het warm geklop en hulle is haastig na die ander gelowiges toe. Die 12 km terug na Jerusalem gestap. Hulle wat aangedring het die Man wat saamgestap het moet oorbly want dit was al laatmiddag ... wel vergeet van laatmiddag! Die nuus moes uit. Die verhaal sluit af met ‘n besonderse stukkie geloofsdeling. Sharing. Dit waarop ek en jy fisies nou uitmis. Maar vat jou telefoon, bel ‘n vriend, vriendin. Deel die wonderlike nuus: Jesus is by ons. Die opgestane Here, bly in ons.