Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
OPSTANDINGSONDAG 2020 (Markus 16: 1 – 14) Vrydagoggend net na die diens van stilte, om 9 uur het ek besef, teen hierdie tyd, daardie paasnaweek toe Jesus gekruisig is, het hulle Jesus aan die kruis vasgekap gehad. Teen 12:00 het ek gesit en dink daar was nou donkerte oor Jerusalem en teen drie uur het die voorhangsel geskeur en Hy het Sy laaste asem uitgeblaas. Jesus was dood. Gister het ek myself 'n paar keer gevang dat ek gedink het: Hy is dood. Hy is nou in die graf. Wel, teen hierdie tyd, daardie Sondagoggend, het: • Jesus alreeds uit die dood opgestaan. (vgl Mark 16: 9 “na Jesus se opstanding vroeg die Sondagmore”) • het Maria Magdalena en Maria die ma van Jakobus en Salome verniet met reukolie by die graf aangekom om Jesus se liggaam te salf. Hulle het klaar die jongman met lang wit klere aan gesien en klaar terug gehardloop. Volgens Matteus se weergawe het hulle by nou reeds Jesus self gesien (28:9) • Teen hierdie tyd het Maria Magdalena, ja, sy uit wie Jesus van te vore 7 duiwels uitgedrywe het, reeds aan die dissipels gaan vertel Jesus lewe (Mark 16: 9-10). En hulle het haar nie geglo nie (16:11). As jy dood is is jy dood. • Het Petrus al met 'n spoed by die graf aan gehardloop gekom en gevind dis leeg. Net die doeke was daar te sien. En is Hy al vol verwondering terug huis toe (Matt 24: 12) • Teen hierdie tyd was Jesus stelselmatig besig om aan verskeie mense te verskyn: oa die Emmausgangers. En teen vanaand se tyd sou Hy aan die dissipels agter die toedeure verskyn het en hulle vrede toegewens het. Sy vrede. (Joh 20: 19 ev) Jesus leef! HY het uit die dood opgestaan. Ek sê vir u hierdie dinge om net weer te onderstreep dat daar getuies was. En ek het uit die getuies se verslae dit gaan opdiep. Volgens die reg van daardie tyd is iets wat deur twee of meer getuies bevestig is as waarheid aanvaar. Die feit dat u en ek glo in die opstanding uit die dood. Glo dat Jesus nie meer dood is nie maar lewe ... dis God se werk in ons. En deel van dit is dat God ons oë oopmaak om te sien dat dit wat ons dink die werklikheid is, nie ons realiteite meer is nie. Dat God die onmoontlike moontlik maak. Dat glo sien word. En hoor oorgaan in geloof. Ek meen die dissipels en die vroue het gehoor Hy praat van dood en opstanding. Van ly en gekruisig word en na drie dae uit die dood opstaan. En tog wys die opstandingsverhale almal dat wat hulle gehoor het nie geglo is nie. Dood het dood gebly vir hulle. So het die vrouens graf toe gegaan vroeg oggend om Jesus se liggaam te gaan balsem soos dit hoort. Daarvoor was dit daardie Vrydag nie genoeg tyd voor nie. Die oopgraf. Die lee graf was een teveel vir hulle. En so ook die engel se boodskap. Op Opstandingsondag is hulle lewens en hulle uitkyke totaal verander. Met Jesus se opstanding het alles verander. As jy die Bybel van hier af verder lees dan sien jy die kerk se geboorte. Die kerk se nuwe identiteit, nie ‘n nuwe vorm van Judaisme nie, maar as liggaam van Christus, as kerk van die Here. Die mense het begin om ons mense-van-die-weg te noem. En nog later het hulle ons Christene begin noem. Die groot dag in die nuwe gelowiges se lewens was Sondae. Die opstandingsdag en die dag waarop die Heilige gees uitgestort is. Die dag van nuwe lewe. Behalwe vir Paulus wat nog op die Sabbat sinagoges toe gegaan het om met die Jode oor Jesus te praat, word dit stil in die Nuwe Testament oor die Sabbat. Daarom is van vroeg af aan op Opstandings Sondag nuwe bekeerlinge gedoop. Die groot vraag aan elke nuwe bekeerling was nie “Wat glo jy nie?” maar “hoe het jou lewe verander?” Elke bekeerling het ‘n mentor gehad en aan die mentor is gevra: “Het hierdie mens ‘n voorbeeldige lewe gelei? Het hy of sy na die armes en die weduwees omgesien? Het hulle die siekes besoek? Het hulle uitgeblink in barmhartigheid? Maw kon jy in hulle dade sien wat hulle glo? Kan ek dit aan jou vra? Want teveel mense is te besig met net die wat jy glo? En te min is besig met ‘n veranderde lewe. So daarom vra ek nederig, meneer, mevrou, “Hoe het jou lewe verander?” En as die vraag moeilik is, omdat ons bekering dalk ver terug lê, kom ons begin dan vandag hier: Op die dag wat die Here uit die dood uit opgestaan het, kom ons staan in Hom en saam met Hom op uit ons “geestelike doodsheid”. Kom ons gryp die dag aan om deur Hom vernuwe te word. Kom ons leef lewens so onder die Heilige Gees se beheer dat mense die verandering in ons sal kan sien. Ek vra in die Here se Naam. Gee jouself oor aan God as ‘n lewende offer wat vir Hom welgevallig is (Rom 12). En gaan lees dan Romeine 12 en gaan leef dan die beginsels vir ons allerdaagse lewe soos Paulus dit daar uitspel. Maar asb, moet jou dan nie teë sit nie. Moenie vasklou aan jou eie denke en manier van lewe nie. Petrus moes sy sieninge oor heidene laat vaar, Kornelius moes tot bekering kom al was hy godvresend en godsdienstig. Wat moet ek en jy laat vaar? Die teoloog Noordmans was reg toe hy gesê het: Paasfees is die grootste fees wat ons kan vier. Dit is die groot Sondag waaraan al die ander Sondae hul betekenis ontleen. Dit is die dag van die Here in die volste sin van die woord. Hy sê die Paasevangelie is die samevatting van die hele evangelie: “Die Heer het waarlik opgestaan!” Paasfees is dramaties! Paasfees is die fees van die nuwe begin! Paasfees maak 'n nuwe begin in ons en met ons moontlik. Om Jesus te volg is opwindend. Dink net hoe dit moes gewees het na die kruisiging. Die pyn en skok en afgryse wat deur die dissipels moes gespoel het. En toe kom die nuus. Hy het opgestaan. Eers die skrik. Eers die vrees om te gaan vertel want dood is dood en wie sal ons glo. Maar die Here het aan hulle begin verskyn. Hulle is nie gelos met net die woorde van die jongman met lang wit klere aan nie. Hy het self aan hulle verskyn. Markus sê eerste aan Maria Magdalena (vers 9), en toe aan die Emmaus gangers en die dissipels en weer terug na die dissipels twv Thomas wat nog getwyfel het. En Keer op keer het Hy gesê: Vrede vir julle. My vrede gee Ek vir julle. In Handelinge 1 lees ons hoe Hy met hulle gepraat het oor die dinge van die koninkryk van God. Hy het hulle uitgestuur. En hulle het gegaan! Vandag vier ons nie net die opstanding uit die dood van Jesus nie. Ons vier die ewige lewe en ons vier die geboorte van die kerk. En ons vier ons eie nuwe begin. Ons vier die lewensverandering wat die Gees in ons bring. Daarom vra ek vanoggend eerstens aan myself, en dan aan jou, Ek vra nie: “Wat glo jy nie? Ofselfs, of jy glo nie”. Ek vra “hoe het Jesus jou lewe verander?”