Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
GOEIE VRYDAG DIENS 2020 Gebed. Dit was ‘n lang nag van ‘n vals verhoor voor Annas en Kajafas. ‘n Gespot en geslaan. En teen ligdag die eintlike verhoor. En toe Pilatus toe met Hom want die Jode mag nie self die doodstraf opgelê het of voltrek het nie. Pilatus kon geen skuld in Jesus vind nie.Maar die Jode wou niks weet nie. Pilatus het hom laat gesel en toe weer uitgebring. Dalk gehoop hulle sal Hom jammer kry. Maar nee, die haat teen Jesus van Sy eie mense af, was net te groot. Pilatus het probeer om Jesus los te laat maar die skare het met die keiser gedreig. Volgens Markus het die gepeupel net bly skree vir die seun van Abbas om vrygelaat te word. En Jesus, wat van Hom?, wou Pilatus weet. Kruisig Hom. Kruisig Hom. ‘n Kroon van dorings is op sy kop geforseer. En Hy is gespot. Volgens Johannes was dit omtrent sesuur die more wat Pilatus vir die Jode gesê het: “Hier is julle Koning” 15 Maar hulle skreeu: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!” Toe vra Pilatus vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?” Die priesterhoofde antwoord: “Ons het nie 'n koning nie; ons het net die keiser.” Toe het Pilatus Jesus op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem. Die vernedering van toe Hy Sy kruis deur die volgepakte strate van die via doloroza gedra het. Ten aanskoue van almal. En die spot en die stampe van die verbygangers in die nou strate op sy stukkend geslaande lyf ... dit spaar ek u vanoggend. Skriflesing: Johannes 19: 17 – 30 Met palmsondag was die vraag van die mense van Jerusalem: “Wie is hierdie man?” Ons vra vanoggend: Wie is Jesus dan? Wat leer ons van Hom daar aan die kruis? As ek terug kan gaan na gisteraand, weliswaar gisteraand 2000+ jaar terug, dan is Jesus die man wat werklik die Vader se wil gedoen het. Wie se gebede in Getsemane nie lee woorde was nie. In Getsemane was dit duidelik vir Jesus, daar is nie ‘n ander weg nie, Ek moet hierdie pad loop. En HY het. Die angs ten spyte. Die Vader se wil was en is Sy alles. Jesus se praatjies oor die liefde het Hy hier tot die uiterstoe gevat. Toe Johannes sy hoofstuk 13 geskryf het, die een oor die voetewassing, het Johannes opgemerk, Jesus het sy eie mense wat in die wereld is, liefgehad. Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad (vers 1b). Jesus het geleer dat ‘n mens ander tot 70 x 7 keer moet vergewe. Dws oneindig keer. En in die eerste kruiswoorde kry jy Hom, in die ergste denkbare pyn en nood, kry jy Jesus besig om te prewel tot God: “ Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Wie is die hulle? Die Joodse raad. Hulle wat gekonkel het en hulle wat Hom aan Pilatus uitgelewer het. Hulle wat daarop aangedring het dat Pilatus Jesus moet laat kruisig ... al kon Pilatus geen skuld in Jesus vind nie. Pilatus het ook geweet dat hulle Jesus uit jaloesie uit die weg uit wou ruim. Jesus bid dat die Vader hulle tog moet vergewe. In Hebreers lees ons: 15 Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. In die ergste denkbare pyn, sterwend, is dit Wie Jesus is ... Hy vergewe die wat Hom laat kruisig het. Selfs toe, het Hy nie gesondig nie ... Hy het vergewe. En daarom wil mens met dank die volgende vers in Hebreers aangryp en die kans benut om na Jesus te gaan ... 16 Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word. Asof dit nie genoeg is nie gee Hy vergifnis op ‘n ander manier vir een van die manne wat saam met Hom gerkuisig is. Ja, die man het ook eers saam gespot. En toe, om welke rede ookal, die derde gekruisigde aangevat, oor die gespot met ‘n onskuldige man, Jesus. En toe gevra, “Jesus, dink aan my wanneer U in U koninkryk kom.” En die Jesus het vir die ter dood veroordeelde die versekering gege: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” Liefde in die uiterste vorm in aksie. Liefde wat in Sy pyn Sy aardse ma raaksien en omgee vir haar en vir haar ‘n heenkome reël. Vir sy ma het Hy gesê: “Daar is u seun” en vir Sy dissipel: “Daar is jou moeder.” En toe kom van die donkerste oomblikke denkbaar. Die Vader vir Wie Hy so liefgehad het en so getrou gedien het, keer Hom die rug toe. Hy word van God verlaat. Donkerder kan dit sekerlik nie. Matteus het vertel hoe dit donker oor die land geword het, van twaalf uur af en dit het donker gebly tot drie uur. Teen drie uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lema sabagtani?” dit is: My God, my God waarom het U My verlaat?” Nog meer gespot. “Ek is dors.” Nadat Jesus die suurwyn op 'n hisoptakke gekry het, het Hy gesê: “Tetelestai!. (Dit is volbring!) So breek God se liefde en God se genade ook deur na jou en my. Teen ‘n geweldige prys. Die Seun van God betaal self vir ons sondes om ons vry te koop uit die mag van die dood. Vry te koop uit die mag van die sonde en vry te laat leef in Christus. Tetelestai! Die woordjie tetelestai sê nks van die enormiteit van die prys wat Jesus vir jou lewe betaal het nie. Om te verstaan hoe enorm dit was moet jy verby die woorde kyk na die dade wat krag gee aan die woord tetelestai. Sien Sy lyding ... hoe Sy liggaam verniel en verskeur word deur die houe en hoe die spot Hom gepynig het. Sien die spykers en die kruis en hoe Hy sukkel om te leef en dan oorgee as dit genoeg is en sterf vir jou. Dan weet jy wat tetelestai beteken. Dat hierdie woord uit die sakewêreld van ouds sê dis klaar betaal. Hy het jou vrygekoop. Jy is nou God s’n. Gered. Dit is duidelik dat ons voor ‘n keuse kom staan. Of ons glo in Jesus. Glo dat dit wat Hy gedoen het in ons plek was. Dat ons skuld volledig betaal is. Dat ek absoluut niks hoef te doen om gered te word nie. Jesus het alles vir my klaar gedoen. Dit is volbring! Of ons verwerp Jesus. Uit en uit verwerp. Of selfs net deur te glo en ‘n plek te verdien deur sabbatsonderhouding of watter wet jy wil naleef. Daar is nie ‘n tussen in nie. Of jy is stukkend geskeur oor dit wat hulle aan Jesus gedoen het. Of jy skryf dit af. Lag dalk selfs daaroor. Neutraal kan jy nie wees nie. Jy moet kies. Nog meer van jouself, of Jesus. Maar besef ook. ‘n Lewe wat aan God behoort ... vrygekoop is deur die bloed van Jesus ... is soos Jesus se lewe. Nederig. Self-opofferend. Leef Jesus uit tussen mense. Leef Sy vergifnis uit. Het lief soos Hy, het selfs die vyandig gesinde mense lief. Dit is tog die Here se grootse voorbeeld aan die kruis. Kom ons draai na Hom ... Gebed Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in U hande gee Ek my gees oor. Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.” So, so het die Ou Testament afgesluit met die een finale offer. God se Seun wat Homself laat offer vir die redding en vergifnis van alle mense. As teken het die voorhangsel geskeur. Die aarde het geskud, en die rostse uit mekaar gebars ... (Matt 27: 51 ev). Toe het die offisier en soldate baie bang geword en gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.(Matt 27: 54) ” En”Hierdie man was werklik onskuldig! (Lukas 23:47)” Josef van Armitea het Pilatus gevra vir die liggaam van Jesus en Hom in ‘n graf gaan neerlê. Dit is verby. Volbring. Nou wag ons vir die derde dag. Sondag. Amen.