Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 21: 1 - 11 Dit is palm Sondag. Ja, paasnaweek is op ons. Vrydag is dit al Goeie Vrydag. As jy my ‘n kans gee, wil ek vir jou iets gee wat jou kan dra in die covid-19 tyd. Selfs jou lewe diep gaan raak. Ene Dorothea Sayer sou gesê het oor Jesus: “He (Jesus) will be victor and victim in all his wars, and make his triumph in defeat” Maak dit sin? Maak enigiets in hierdie wêreld nog sin? Die president sê ons is in ‘n oorlog. Maar dis nie teen mense nie. En om die oorlog te wen moet ons almal by die huis bly. So ‘n klomp ouens sê dis cool. Vakansie by die huis. Glo my daardie gevoel gaan ook oorwaai. Vir ander tik tok die tyd ondraaglik stadig om. Dis lockdown. Nêrens om te gaan. En dalk niks meer oor om te doen. Niemand om iets voor te sê nie. Of niks meer oor om vir mekaar te sê nie. Die kaste is al twee keer reg gepak. Alles is blink gevryf. Wat nou! Ek voel die onreg. Hoekom juis nou? Hoekom moet ‘n ding soos covid-19 ons juis nou tref. En dis onregverdig dat Moodys ons juis nou verder afgegradeer het. Gaan ek nog ‘n werk hê as die ding verby is ... ek meen, jy is ‘n goeie werker, dalk die beste by jou maatskappy maar skielik beteken ook dit niks as die maatskappy nie die tye oorleef nie. En dis onregverdig as jy als gewaag het om n eie besigheid te skep, en nou tref hierdie lockdown jou en jy kan dalk alles verloor. En die Rand verswak. En dis onregverdig dat ek gedwing word om by die huis te sit maar my baas sê “no work no pay.” En dit is op hierdie punt wat hierdie ding wil neersit by jou. Die opgestane Here het vir Paulus gesê, as jy swak is, is Ek sterk. Onthou jy dit nog? En die Almagtige het deur Sy profeet Jesaja vir die koning van Israel gesê, as julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê. Dit was in ‘n krisis tyd. God werk op vreemde maniere. Wat God doen voel baie keer soos ‘n weerspreking. Vat die aanhaling van Dorothea Sayers: Dis tog onmoontlik om tegelyk die held en die slagoffer te wees. Hoe kan jy wen maar eintlik het jy verloor? Hier gaan Jesus die stad in “soos” ‘n koning. En die mense is reg en hulle sien hierdie nuwe koninkryk kom. Die Romeine gaan nou verdryf word en Israel gaan weer ‘n wêreldmoontheid word. En hulle is seker hieroor en hulle sing “Prys die Seun van Dawid! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!”. Nee hulle sing nie hulle skree dit uit. Hulle juig. En nie eers ‘n week later hang die Seun van Dawid sterwend aan ‘n kruis. Maar God is nog nie klaar nie. Jy ken die geskiedenis, so ek kan dit nou reeds sê, God gaan van ‘n kant af inkom en die menslik onmoontlike kom doen. God gaan die Een wat volgens mense oorwin is, laat oorwin. Op die derde dag laat God Jesus uit die dood opstaan. En leef! En nou is Hy die Ewige Koning. En Hy gaan hierdie beweging aan die gang sit wat oor die bekende wêreld gaan stroom en God se nuwe Ryk vestig. God het dit vooruit gesê dat Hy dit gaan doen. En vandag kan ek jou sê: Hy het! Ons moet nou nie arrogant word nie. Ons moet nou nie, soos die jonges kan sê “in your face raak nie”. Dit is nie hoe God se koninkryk is nie. Ons moet nederig wees. Ons moet gaan staan by die wat nederig is. By Jesus. Want tussen alles wat in hierdie verse gebeur, is dit Jesus se nederigheid wat tsv die skare deurbreek en onderstreep word. En ek sou hoop dat dit die woord sal wees wat vir jou en my ook sal beskryf. Dat mense sal kan sê soos hul koning, so is Sy gemeente. Hier is die hartsverandering wat ek jou aan die begin belowe het. Op geen oomblik moet ek en jy as kinders van die Here hierdie deel lees as waarnemers of as ‘n interessante vertelling nie. Dit het opgehou om net ‘n vertelling te wees. Dit is persoonlik. Hier speel die inleiding tot die grootste belangrikste deel van jou storie uit. Wat Matteus hier beskryf, Jesus se intog in Jerusalem, is die laaste stukkie eer bewys en verheerliking voor die skande van die kruis ... as jy wil, Sy groot oomblik, Sy triomftog ... en sy viering sê net een ding: nederig. Dit is ‘n nederigheid wat ook uitkom in ‘n eenvoudige leefstyl. ‘n Keuse om eenvoudiger te leef sodat ander ook ten minste kan leef. Sagaria het in die deel wat hier op Jesus van betrekking gemaak word, die Hebreeus die woord ani gebruik. Dit is gewoonlik in die Ou Testement gebruik vir die weerlose mense: die mense wat nie hulself nie kan verdedig nie; hulle wat geen regte het nie; die onderdrukte; hulle wat verneuk, uitgebuit en vervloek is (vgl bv Ps 9 en 10). Hier is Jesus die ani. Die nederige. Daar is die heeltyd hierdie teenstrydigheid: Jesus is die Koning maar Jesus is ook ani. Die nederige. Of dan die weerlose. En ek weet mense hou van ‘n wenner. Mense hou van “underdogs” wat die geveg wen, of bo uitkom. Mense koop in in groot skares en getalle en rykdom en mag en in ‘n skouspel in. Hulle wil aangegryp wees deur iets groots. Maar jy moet jou hier afvra: maar is dit Jesus? Hier word gesê Jesus is nederig. Hier kan jy dit sien. In wat Hy kom doen het in Jerusalem het jy dit ervaar, dit gaan nie oor Homself nie. Sy lewe hier as aardse mens was nooit oor Homself nie. Dit was gerig om God en dit was vir jou. Dit was gestroop van alles wat ons najaag. Ek het in hierdie laaste week of so ‘n hele paar plasings op facebook gesien en op WhatsApp ontvang wat sê Covid-19 het alles weg gevat wat mense najaag: sporthelde; filmsterre, geld en werk en en en. En ons terug gebring in ‘n lockdown waar die basiese genoeg is. Ons leer weer leef. Ons leer weer eg wees. En ons keer terug na God. Kan ek jou vra ... moet asb nie dink in terme van weer opstaan as die virus verby is nie. Kom ons keer nie terug na ons ou maniere toe nie. Kom ons wees soos Jesus wat God se pad ter wille van ander gestap het, al was die dood aan ‘n kruis Sy voorland. ‘n Gemeente, gelowiges bestaan nie twv hulself nie. Ons bestaan twv die wêreld. Te lank het die kerk (watter vorm van kerk ookal reg oor die wêreld, mag na gejaag. Ons het vir mense gesê: Kyk dit is hoe jy moet wees. Maar hulle het nie altyd Christus kon sien nie. Hulle, die kerk, het gekyk vir en opgetree asof Jesus op ‘n skouperd ry en links en regs oordeel. In plaas van om nederig Sy lewe te gaan gee in absolute gehoorsaamheid aan God ... sodat God ons kan red. Vat die term “downward mobility” asof dit jou eie ideë is. Henri Nouwen Het die term geskep. En tog bely hy: "Everything in me wants to move upwards. Downward moblility with Jesus goes radically against my inclinations, against the advice of the world surrounding me, and against the culture of which I am a part.” Hy vertel dat hy as dosent by Harvard moes weg gaan om te gaan dien in ‘n versorgingsoord vir gestremdes. En selfs daar, het hy maniere gevind om te probeer uit staan. Om bewonder te word vir sy groot opoffering. Sy gevolgtrekking is dat hier diep in hom iets is wat weier om soos Jesus te wees. Wat nie wil nederig wees nie maar gesien. Wat wil voorskryf vir ander en self bedien wil word en nie homself wil gee vir ander nie.. Wat as ons al die jare ‘n leer op geklim het met baie moeite en inspanning net om te ontdek die leer staan teen die verkeerde muur. Ons is steeds gevangenes. En nee, dis nie verkeerd om die beste in jou veld te wees nie. Maar bly nederig. Gebruik dit om ander te dien. Wat van ons klim van ons hoë perdjies af en kom wees ‘n omgee mens wat uitreik en help. Wat van ons word weer nederig genoeg om ander te dra sonder oordeel of verwyt. Downwards mobility is om weer ani te word, weerloos met God as jou enigste hoop. Kom ons leef asof ons geen regte het om op te staan of ‘n perdjie het waarop ons kan spring. Net die vertroue dat God my lief het en my sal gebruik. Want soos Jesus vir Paulus moes sê: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Is dit nie hoekom ons so kragloos geraak het nie? Want ons is net te vol van onsself. Ek vra jou: Kyk na Jesus. Los alles wat jy geleer het en los hoe jy nog altyd oor Jesus gedink het. En kyk na Jesus. Ani. Nederig. Op pad om Sy lewe vir jou op te offer. Gaan wees jy soos HY, downward mobile. Leeg aan jouself, vol van God.