Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
MATTEUS 6: 5 - 15 Ons is besig om Matteus se evangelie deur te werk. Ons wil weet wat staan tussen Matteus 4: 19 en Matteus 28:19. Ons is daarmee besig want dit is ‘n groot deel van wat Jesus ons alles wil leer. Ons maak ons op hierdie manier ook oop vir God om ons te vorm. Op die Seilespan toep is al die preke in die reeks sover. Of gaan na www.ngden.co.za. Ons is hier by wat baie noem, die hart van die bergrede. As hoofstuk 5 ons leer hoe om ons verhoudinge te bou en te hou, wil hoofstuk 6 ons na binne neem en ons van binne af opbou sodat ons die buitekant kan reg hou. Stephen Covey het ‘n gesegde van “inside out”. Enige veranderinge wat gaan hou, kom van hier diep binne jou uit. Van binne na buite. Wat ons vandag gaan leer is deel van die binne-werk wat na buite sal oorspoel. Voor ek lees wat Jesus gesê het, net eers dit: hierdie is Jesus se tweede voorbeeld van hoe jy nie moet wees nie. Heel aan die begin, so vroeg soos in vers 20 van hoofstuk 5, het Jesus al gesê ons gehoorsaamheid aan God moet meer wees as die van die fariseërs. Ons gesindheid moet op God ingestel wees. Moenie dinge doen om ander te beïndruk nie. Voorbeeld 1 het gesê: As julle die armes help dan hoef niemand dit te weet nie. Jy speel nie vir die pawiljoen nie. Jy doen wat jy doen vir ‘n gehoor van Een. Vir God. Vandag doen ons die tweede een en die derde voorbeeld gaan oor vas. Kom ons lees Matteus 6: 5 tot 14 Ek sê graag vir my kinders “we don’t do normal.” Moenie gepla wees om in te pas nie. Jesus sê ook don’t do normal, doen soos God dit sou wou hê. Normaal, in Jesus se tyd was om gesien te word as ‘n goeie mens. Mense moet soort van kan sien dat jy baie godsdienstig is. En om dit reg te kry, doen jy dinge op tye en plekke waar mense jou goedheid sal kan raak sien. Vandag doen mense dit steeds. En hulle laai fotos op en selfies wat sê kyk hoe amazing is ek. Mense doen dit selfs as hulle bid. Het jy al ooit gebid voor mense en skielik gedink ek bid darem nou mooi? Oeps! Of gebid vir iemand en dan so bietjie benoud geraak en gedink, sê nou net God gaan niks hieraan doen nie! Nog ‘n Oeps. Net om te besef maar nou gaan dit nie meer oor God nie maar oor jou. En dit is waar die woordjie “loon of beloning” in hierdie deel in kom. Jesus praat van loon, of beloning. Die mense van daardie tyd het geglo as jy iets moois of iets meer doen as verwag, dan sal God jou beloon. Wel, sê Jesus, as die mense jou bewonder en jy die handeklap geniet dan het jy mos klaar jou beloning weg. God hoef regtig niks by te voeg nie want jy het mos reeds gekry wat jy wou gehad het. Jesus beskryf sulke mense as skynheiliges. Oorspronklik was die woord skynheilig gebruik vir akteurs. Mense wat ‘n rol vertolk wat glad nie is soos hulle regtig is nie. En toe begin die mense dit gebruik vir gewone mense wat anders voorgee as wat hulle regtig is. Moenie so wees nie. Moenie gesien wil wees nie. Moenie dat jou ego jou oomblik met God ruineer nie. As jy bid, wees iemand wat in daardie oomblikke van gesels met God van jouself vergeet. Om hierdie verkeerdhede teen te werk sê Jesus: As julle bid, gaan in jou binnekamer in ...” Ons leer, ons teenvoeter vir ons ego, is om in ons binnekamer te gaan bid. In stil plekke, want ons gee nie om as niemand weet dat ons bid nie. En kan ek sê, as Jesus hier sê, “As julle bid ...” dan aanvaar Hy dat ons bid. Dat die dissipels volgens Joodse gebruik die gebedstye handhaaf. As is hier soos ‘n wanneer. En Jesus aanvaar dat jy Sy voorbeeld volg, en gereeld jou afsonder om te bid. En nee, Jesus het dit nie teen hardop voor ander mense bid nie. Sy kerk het nog altyd in groepe ook saaam gebid. Veral in krisis tye soos wat ons nou beleef. Jesus het dit teen mense wat hulle godsdiens so bedryf dat dit oor hul self gaan en nie meer oor God en Sy koninkryk nie. Die tweede ding wat Jesus dit teen het is ‘n stortvloed van woorde. Die heidene het gereken hoe meer woorde jy gebruik hoe meer beindruk jy die afgode. Van die Jode het ook begin om ander te probeer beindruk met baie woorde in gebed. God word nie so beïndruk nie. Vir ‘n gelowige is gebed ‘n gesprek met ons hemelse Vader. In gewone woorde en ons praat oor alles van gemeenskaplike belang. En dit kan maar ‘n lang gesprek wees. God hou van jou by Hom. God geniet dit as jou volle aandag op Hom gerig is. Waaroor mag ek met God oor praat? Ons praat met God oor wat vir God belangrik is. Sy heiligheid. Sy Naam. En ons praat oor dit wat God wil sien gebeur in ons lewens en die groei wat Hy in Sy koninkryk wil sien. Dit is vir ons Vader belangrik so dis ook vir ons belangrik. Ons bid daarom vir Sy koninkryk om te kom; Sy wil om te geskied. En al staan dit nie in hierdie deel nie, is dit my en baie ander se ervarings dat ek nie eers altyd woorde hoef te gebruik nie. Ek kan net in stilte by God sit met my aandag ten volle op Hom. Sit en luister vir as God wil praat dat jy gereed is om te hoor. En so ontdek jy dat God vir jou wat bid verander. In gebedstye word jy van binne af vernuwe deur die Heilige Gees. Deel van ons gebed is die versugting by ons elkeen dat God ons so sal verander dat hierdie dinge wat vir Hom so belangrik is meer sigbaar in ons lewens kan word. Ons wil meer wees soos mense in God se koninkryk is. Hierdie eerste deel van die ons Vader gebed is ‘n dissipel se droom gebed. Dit gaan oor alles wat ons wil sien gebeur en wil sien groei. Die tweede deel van ons gesprek met Jesus gaan oor ons en ons medemens. God het jou lief. Hy wil hoor oor jou lewe (al weet Hy presies wat aangaan). Hy wil jou hoor dit vertel. En hoor wat jou pla. Dit is hier waar ons bid oor ons behoeftes. Soos Jesus dit gestel het: ons daaglikse brood. Nie net my eie nie. Dit sou selfsugtig wees. Maar ons almal se brood. En ons volg dit op met ‘n gebed om bewaring. Bewaar ons van versoekings want self gaan ons nie staande kan bly nie. Bewaar ons van die bose. Hou daardie brullende leeu soos Jakobus die bose noem, asb tog net van ons af weg. En nou gaan jy vir my sê, maar jy het vergewe ons oortredings uitgelaat. Ja ek het. Met ‘n doel. Hier is iets ongeloofliks belangrik wat ek en jy moet leer. En vinnig moet leer. Jesus het gelykenisse hieroor vertel. Hy hou ons hierby. Selfs hier, sodra Hy klaar die gebed vir ons geleer het, dan kom Hy terug na hierdie een groot beginsel. God het jou vergewe. God het al jou sondes vergewe. Gaan doen nou ook so aan almal wat jou seer gemaak het, beledig het of op die een of ander manier teen jou oortreë het. Vergewe hulle. Gebed vra ‘n oop en eerlike hart voor God. Eerlik oor ons sondes. En ons vra opreg vergewe ons Here. En dit is die binnewerk. Die inside. Nou kom die outside. Die na buite beweeg: ons vergewe ander mense. En jy sal kan as jy God hiervoor vertrou. Hy maak dit moontlik. Kyk net na Hom. Amen.